Terwyl Seegogga besig is om duisende knope uit te sorteer vir ‘n prent wat sy met  knope moet maak, kom die skoknuus: Daar is ‘n lyk ontdek in ‘n gastehuis in die Overberg. Dít, terwyl ‘n verloofde meisie wat veronderstel was om saam met haar verloofde na Una se gastehuis in Mosambiek te gaan, alleen daar opgedaag het. 
Natuurlik gryp die Goue Vroue hierdie geleentheid aan. Hierdie storie moet ontknoop word!

Hierdie is die vyfde deel van ‘n nuwe avontuur vir die Goue Vroue. Om hierdie vervolgverhaal te volg, klik hier.

https://fresh.inlinkz.com/p/54c7705c5c9f46fa95a041857eac2e89

Photo by Monstera Production on Pexels.com

Waar Frannie in die klein keldertjie onder die wenteltrap van haar toringhuisie op Rebusfontein rondsnuffel om te kyk of sy haar knopeblik kan ontdek, want Seegogga benodig knope, hoor sy die allemintige slag.

“Ag s@#$%^&!” knoop Frannie en hol kombuis toe. Die potjie wat ‘n hardgekookte eier moes oplewer, het drooggekook en die eier het ontplof. Frannie vee doppe en krummels wit eier op terwyl sy vieserig aan die geel van die eier kou, wat heelhuids en gaar op die stoofblad beland het. Hierdie kook-vir-een-mens is sommer nonsies, hoe gouer sy weer terug is op Bredasdorp waar ‘n mens deur die plaaslike Goue Vroue trommeldik gevoer word, hoe beter! Sy besluit om die knopeblik te los, knyp haar oë styf toe en wens kliphard…

Frannie beland plat op die pad in Baadjiestraat tussen die twee knoopkarre vlak voor kaptein Gigaba, wat hom heeltemal oor ‘n mik skrik vir die skielike verskyning. Hy los ‘n paar knope, skop die een beknoopte kar dat ‘n paar knope losspring, en vra dan streng: “Vanwaar kom u dan nou, mevrou?” Frannie giggel benoud, dink vinnig en antwoord: “Nee, Kaptein, ek dag net sommer – Scrapy, dis nou een van die Goue Vroue, het gevra of hierdie karre se knoopbedekkings nie dalk laaitjies met smokkelgoed versteek nie, toe dag ek, dalk moet ek gou-gou kom kyk…” Kaptein G sak op die pad neer en begin pluk aan die knope van die naaste motor. “Help my!” beveel hy kortaf en Frannie begin ook ywerig knope afpluk.

Teen die tyd dat hulle uiteindelik moed verloor dat hulle enigiets verdags te midde van die knope gaan vind, staan die Goue Vroue in ‘n wye, verbaasde kring om hulle. “En nou?” vra Toortsie, “Wat vang julle aan?” “Nee, sien, Scrapy het gewonder of hier nie dalk smokkelgoed onder die karre se knope versteek is nie… toe dag ek en die Kaptein ons sal ‘n bietjie soek…” verduidelik Frannie. “Ag nee, man,” sê Seegogga, “dis ou motors wat ek geleen het om op te oefen vir die knoopprent wat ek vir die VLV moet maak, heeltemal wetsgehoorsaam!” “Oooo,” prewel Frannie verleë… Die Kaptein kyk vererg na haar – hoe mors hierdie spulletjie tog sy tyd! Seegogga slaan haar arm om Frannie se skouers en begin met haar aanstap, terug na Toortsie se huis toe. “Toemaar, Frannie – hoe moes jy ook nou van my eksperiment op die karre geweet het?”

Van ver af sien die Goue Vroue Positief by die hek na Toortsie se huis op en af spring en opgewonde waai en beduie. “Julle!” roep sy, “Julle!! Maak gou – kom hierso! Ek het vanoggend op die donker web gaan soek na bendebedrywighede in Kaapstad en op die Blouknoopbende afgekom!!! Hierdie is ‘n slegte klomp ouens wat by mensehandel betrokke is en ook mense teen betaling vermoor en dan ‘n blou knoop in die slagoffer se hand plaas. Die bendeleier dra glo rooi stewels!!!!”

Die vrouens gaan sit om Toortsie se gulhartige teetafel en luister verder na Positief: “Die bende het ‘n geheime webwerf waarop hulle besonderhede oor die sluipmoorde verskaf. Die algemeenste motief is wraak oor die een of ander onreg wat die slagoffer sou gepleeg het. Dis glo ‘n baie lonende bedryf ook. Toe dag ek nou só: die vermoorde in Baadjiestraat het rooi stewels gedra – gestel dis die bendeleier en die ou in die groen Suzuki het hom vermoor om sy plek te kan inneem?”

“Maar wat dan van die passassier wat so geskree het?” vra Aalsie. “Dalk was dit die verloofde en die moordenaar het bestuur, vermom deur ‘n pruik met lang hare,” bespiegel Trommeltjie. “Kom,” sê Appeltjie, “Ons gaan vertel vir kaptein Gigaba van Positief se ontdekking.” “Ja!” sê Sonell, “Dalk kan hy met Bennie Griessel en Vaughn Cupido in Kaapstad skakel om ‘n aanknopingspunt met daardie bende te kry,” en daar tou die Goue Vroue weer straataf.

Una trek hard aan Woordnoot se mou, selfoon in die hand: “Woordnoot, jong, ek moet nou dadelik terug Mosambiek toe! Hulle sê daar het ‘n groen Suzuki opgedaag met net een passassier, ‘n vrou, wat nou net heeltyd in haar chalet sit en huil. Die bespreking was vir twee mense! Ek dink dis hierdie vermoorde se verloofde en ek wil by haar gaan hoor wat aangaan.” “Jy kan nie alleen gaan nie, Una, wag tot almal weer terug is en dan hou ons kajuitraad,” antwoord Woordnoot, terwyl sy naarstiglik na die mouknoop soek wat Una laat afbreek het. “Dalk kan Lolla en EkMyselff en Bondeltjies saam met jou Mosambiek toe gaan – jy gaan ondersteuning nodig hê om hierdie affêre te ontknoop. Kom ons gaan hoor nou eers wat sê die kaptein.”

Onder in Baadjiestraat maal die Goue Vroue bekommerd rond. Die konstabeltjie sê kaptein Gigaba het na Napier vertrek, hoe gaan hulle hom nou op hierdie nuwe spoor bring, dis tog nie iets wat mens oor die foon kan uitblaker nie. “Ek het ‘n plan, julle,” en VirgoC kies vasberade straatop koers. Sy skaai die Harley Davidson wat voor die een huis staan en swaai haar been oor die saal. “Kom saam, Positief, jy moet die kaptein alles vertel.” Positief hop agter op die motorfiets: “Napier, hier kom ons!”

Kameel skud net kop en wonder: “Sal kaptein Gigaba hierdie knoop kan deurhak?”* Dis jou beurt om verder te vertel, Appeltjie.

*Nee, dis nie “deurhaak” nie. “Hak” is ‘n ou woord vir “kap” – onthou julle nog die “houthakkers en waterdraers”? Alexander die Grote het glo ‘n ingewikkelde knoop waarmee ‘n oskar aan ‘n paal in die stad Gordium vasgebind was, met een besliste hou van sy swaard stukkend gekap. Wie ook al daardie knoop kon losmaak, sou volgens profesie heerser oor die hele Asië word. Deur die Gordiaanse knoop deur te hak, het Alexander die Grote die kroonprins van hierdie profesie geword.