Gisteraand kom kuier my dogter by my in haar eie huis; wanneer hulle werk, bly sy en haar man op die kampus by hulle “student home”. Ons sit by haar ronde tafel, drink saam tee. Die kersboom is nog nie afgeslaan nie (ons kry dit net nie oor ons hart nie!) en strooi sy sagte lig oor die gemmerkat wat op haar skoot lê en liefderik gestreel word. Later werskaf sy in die badkamer wat sy besig is om te teël; die indrukwekkende skrapertjie waarmee sy oortollige sement verwyder, maak stomptandgeluide. Ek speel elders op die rekenaar. Laataand neem ons met ‘n innige drukkie afskeid, rustig in die wete dat ons mekaar oor die naweek weer gaan sien. Kosbare samesyn, wat ek diep in my hart wegbêre…
Een van die vele voordele om ‘n afgetredene in die VSA te wees, is om laat te slaap en dan nog steeds die sonsopkoms te beleef – want op die oomblik verrys die son eers om halfagt. Vanoggend het die goue son ‘n breë ligstraal in die lug op laat skyn en toe ‘n dwarswolk laat verkleur om ‘n duidelike kruis teen die horison te verf. Ek het nie eens probeer om dit af te neem nie, hoop maar dat daardie beeld in my hart sal bly voortleef. So teen elfuur skyn die son steeds aan en af en ek gryp jas, mus en handskoene om te gaan stap (vandag gaan Barkley en sy nooi my nie kom haal nie, want sy werk lang ure deur die week). ‘n Entjie van die huis af (dis nou weer bewolk!) begin enkele sneeuvlokkies soos wit wolletjies deur die lug dryf, maar ek hou aan met stap en ook maar net so goed, want teen die tyd dat ek by die huis terugkom, skyn die winterson alweer. Ek dink mens moet in Pennsylvania grootword om die weer te verstaan – maar nouja, dit geld seker vir enige land.
‘n Paar dae voor Kersfees het die een of ander orkaan aan die ooskus vir ‘n wonderlike sneeuval hier gesorg. Ek kon uiteindelik die splinternuwe, stewige sneeustewels wat my liewe dogter vir my gekoop het, behoorlik benut – laas winter het ek hulle net een enkele dag gedra.
Ek en V het ‘n sneeuman gebou…
…wat sommer nog daardie selfde middag omgeval het. My skoondogter in Ierland stuur goeie raad: die basis was nie groot genoeg nie. Dus takel ek die volgende dag die basis en verstewig dit – as ek met sand op ‘n SA strand kan bou, kan ek mos met sneeu ook bou! Met groot inspanning hys ek die middelste bol sneeu op en pak dit vas. Dan kom die kop – en dié keer kry ta ‘n Suid-Afrikaanse serp, sodat hy vas en stewig sy man kan staan.
Ons word genooi om in Buurman Bob se agterplaas op die kleinkinders se sleë te gaan ry; ek skraap met V se aanmoediging al my moed bymekaar en skiet soos blits teen die steil afdraandetjie af – dis heerlik opwindend, maar een keer is genoeg, dankie. Die sleë lyk kompleet soos die opblaasringe waarmee ons in die somer in die swembad gespeel het, maar die ring het ‘n bodem en twee stewige handvatsels waaraan mens om lewe en dood vasklou terwyl jy al gillende oor die gladde sneeu skiet.
Die kersversierings is alles afgehaal – hier en daar lê nog ‘n opblaaspop of twee, pap en verlate op die wintergras. Die opblaasversierings werk met die huis se lugverkoeling: bedags wanneer die huismense nie daar is nie en die lugverkoeling af is, lê die versierings soos vrot velle, andersins blaas die lugverkoeling hulle op sodat hulle saam met die kersliggies pragtige taferele skep. Dis harde werk om kersliggies op te sit! V&P het nie ‘n lang genoeg leer gehad om die liggies enduit aan die geut vas te sit nie, toe skilder V ‘n Grinch, wat kamtig besig is om die liggies te steel. (Die Amerikaanse kinderboekskrywer Dr Seuss se “How the Grinch Stole Christmas” is ‘n alombekende storie/fliek hier.)
Op hierdie foto is die herfskrans nog teen die deur, maar dit is later vervang deur die kolossale kerskrans wat V self gemaak het.
Dis maar ‘n misrabele tyd vir mense wat nie so kinderlik opgewonde raak oor sneeu of gerugte van sneeu soos ek nie, maar die liewe Amerikaners laat hulle nie onderkry nie: Vandag was daar ‘n nuwe verrassing teen ‘n voordeur: ‘n bloedrooi hartvormige krans wat Valentynsdag voorspel.
Liewe leser, hierdie hoofstuk vorm deel van ‘n bloguitdaging waarin die Goue Vroue van Rebusfontein uitgedaag word om ‘n vervolgverhaal te skryf waarin ons items op mekaar se emmerskoplysies uitleef. Soos gewoonlik, is een of meer van die res van ons karakters in die vervolgverhaal. Elke hoofstuk word afgesluit met ‘n emmerskoplysie en ‘n spesifieke vrou word uitgedaag om die verhaal verder te vertel …
Jy kan dus ten minste 13 hoofstukke verwag. Die res van die verhale kan hier gelees word, onthou om gereeld terug te kom om nuwes te lees. Dit is ‘n werk in wording …
Omdat die Silwer Blitz – die Goue Vroue se nuutste ryding – ook so ‘n bietjie met die tyd kan peuter, reël Frannie dat Seegogga se emmerskop-item in November plaasvind, wanneer die Suid-Luangwa Nasionale Park in Zambië die “Smaragseisoen” beleef. Die swaar somerreëns tower stowwerige bome en droë veld in ‘n groen lushof om; die rivier en die mere is boordensvol; daar is baie kleintjies in die park – olifantjies, leeuwelpies, bobbejaantjies en wildebrakkies; die olifanttrop van Mfuwe Lodge is op pad na hulle wilde mangoboom – om daar uit te kom, moet hulle deur die ontvangslokaal van die lodge loop!
Blitz gooi eers ‘n wilde draai in Nieu-Seeland om vir Scrapy op te laai; verstom Frannie se Amerikaanse bure as sy met ‘n vrolike wuif teen die trap opwip; trotseer die sand van die woestyn sodat VirgoC kan aansluit; gooi dan ‘n Kaapse draai waar Trommeltjies, Toortsie, Appeltjie, Aalsie en die eregas, Seegogga, opklim; duik ‘n oomblik na die Noord-Kaap af vir Christa; en laai Sonell, Una, Woordnoot en Positief in Gauteng/Noord-Wes op voordat dit na Suid-Sentraal-Afrika koers kry.
Die Goue Vroue land vroegoggend op Kapamba, ‘n private landingstrook, waar hulle soos eregaste ontvang word. Dis warm en vogtig – die drie ontheemdes en ook Christa, die onlangs ontheemde, trek die soet Afrikalug diep in hulle longe in. Die klomp klim in twee wildritvoertuie in en oe en aa die hele ent pad na Mfuwe Lodge, waar hulle vandag in die Bos-Spa van Suid-Luangwa gepamperlang gaan word.
Die Goue Vroue baljaar: hulle kry pedikure en kopmasserings, modderbaddens, masserings met warm klippers en lyfbehandelings met plantekstrak; sit rond met gesigmaskers (nee, nie die laptipe nie, die roomtipe van elke kleur en geur – komkommer-en-laventel, makadamia-en-lemoen, wildeheuning…); lê in die jacuzzi op die spa se plankstoep en hou die wild daar onder in die rivierbedding dop soos wat die diere hulle normale gang gaan. Una en Woordnoot verdwyn om ‘n uitgerekte ontspanningsmassering te ondergaan; Toortsie willig dapper in om ‘n Thai-massering te kry; VirgoC ruil plantkennis met die personeel uit en bespreek die voor- en nadele van verskillende kruiedrankies wat aangebied word.
Laatmiddag slenter die ontspanne, welriekende groep na die ontvangslokaal van die lodge om hulle voertuie na die boskamp Chindeni te haal. (Eintlik kan die kamp net agt gaste huisves, maar toe die bestuur hoor dis die Goue Vroue wat kom en dat hulle graag almal saam op een plek wil bly, het hulle summier en spesiaal nog twee luukse tente laat oprig.) Skielik kom die bedrywige lokaal tot stilstand. Die man agter die toonbank gryp sy kamera en wys opgewonde na die ingang. Dan doem die eerste bosreus op (Wonky Tusk, die matriarg) en rustig kom die ou grotes aangestap, min gepla deur die gebou waardeur hulle moet beweeg om by die ryp mango’s van “hulle” boom anderkant die lodge uit te kom. Styf teen sy ma se bene draf Wellington, ‘n baba-olifantjie, maar net twee wekies oud. Die olifante volg nog steeds hulle olifantpad, al het mense die lodge bo-oor gebou! Daar is wedersydse vertroue – die mense staan doodstil terwyl die olifante, kleintjie en al, deurstap boom toe. Een van Wellie se tantes steek vas langs die Goue Vroue. Haar gevoelige slurp tas-tas in die lug en dan begin sy Una in alle erns besnuffel. Dit moet die lemoengeur van die spa wees wat Una nog steeds omgewe – en ook haar aura, want olifante beweeg op mistieke vlakke waarvan mense niks weet nie. Una se oë is so groot soos pierings, maar daar is ‘n sagte glimlag op haar lippe. ‘n Wildbewaarder kom stadig nader en maan die vroue saggies om doodstil te staan – heeltemal onnodig, want ons weet mos te alle tye hoe om ons te gedra! Toe die olifant klaar ondersoek ingestel het, stap sy doodluiters verder. As die laaste olifant teen die trappe afgeklim het, bars die vroue los en kwetter soos vinke. Hulle sug en skel en roep uit van verbasing oor hierdie ervaring; Woordnoot slaan haar arm om Una se skouers en almal stap met lam knieë na die voertuie.
Dis reeds donker as hulle by die kamp kom, waar ‘n heerlike aandete buite op die plankstoep se lang tafel op hulle wag. “Hoor die paddas!” sê Frannie opgewonde. “Umm, Frannie,” antwoord Positief: “Daai is nie paddas nie, dis seekoeie.” “Oooo,” sê Frannie en die “o” verander in ‘n lang gaap. Almal gaan vroeg slaap, want môreoggend gaan hulle ‘n staptog deur die veld onderneem.
Chindeni is teen ‘n standhoudende meer geleë. Die verskeidenheid wild en voëls is volop en verstommend. Vroegoggend kleur die opkomende son die wolkies pienk, wat dan in die wye strook water hier vlak voor die kamp weerspieël word. Tortelduiwe koer heeldag en snags “whoe-hoepp” hiënas om die kamp. Saans wanneer die ondergaande son die wolke dramaties rooi en pers kleur, sit die vroue kaalvoet in die vlakwatertjies van die meer en teug aan koel witwyn of jenewer; later op die plankstoep staar hulle in ‘n kampvuur se vlamme en dink ver en wyd…
Hulle stap in ‘n lang ry deur die veld, met twee gidse aan die voorpunt en nog ‘n wildbewaarder wat die agterhoede vorm. Hulle sien leeus en wildehonde, sebras en kameelperde. Vlakvarke vermaak hulle; bobbejane laat hulle lag. Een skemeraand op ‘n wildrit is daar ‘n luiperd wat van tak tot tak klim; ‘n groot uil in die middel van die pad; ‘n ystervark wat skugter in die donkerte wegglip. ‘n Trop hiënas draf-draf doodstil langs die pad, hulle oë blink in die maanlig.
En (‘skuus Lou) die vroue gesels! Terwyl hulle in die hangmatte voor die een tent lê en luiweg swaai; op die stoep in die lomerige middaghitte; laataand om die vuur. Sonell vertel van haar gesin se toekomsplanne; Toortsie vertel hoe sy covid oorwin het. Seegogga kla sy verlang na haar man, waarop Appeltjie diep sug van verlange na haar geliefde. VirgoC laat almal skater met kostelike staaltjies oor haar werk; Trommeltjies vertel van Kanada en haar liefmense daar in die koue. Positief verduidelik hoe mens met boerbokke werk en Scrapy vertel van die stoute bok en die skape wat sy in Nieu-Seeland moes oppas. Aalsie gesels kopstukke oor die VLU en Christa vertel die vroue meer oor die invloed van sosiale media. Daar is stories oor troeteldiere en kleinkinders en mans en familie. Die hele week is een lang praatterapiesessie, wat heeltemal te gou verbygaan.
Die laaste aand in die bos sit Frannie weer asof begogeld na die vlamme en staar, terwyl sy ‘n mopanietakkie heen en weer tussen haar duim en voorvinger rol. “Weet julle, as ek so terugdink, besef ek dat ek al wonderlike goed ervaar het. Dis eintlik nou te laat vir my vir ‘n emmerskoplysie, my uurglas is amper leeg, maar daar is tog nog twee goed wat ek bitter graag sou wou doen. Die een is om ‘n week in Parys, Frankryk deur te bring – ek was nog nooit daar nie… Die ander een is om weer so lank moontlik in ‘n chalet by Stormsriviermond te gaan bly, in die see te swem en in die woud te gaan stap…” Sy kyk oor die vuur heen na Toortsie wat aan die anderkant sit: “Sal jy asseblief een van hierdie items kies en ons almal saamvat, Toorts?”
Oorkant die straat woon Barkley, ‘n Yorkshire terrier/poedelkruising.
Barkley en sy nooi, Deb, kom my dikwels haal om ‘n entjie te gaan stap. Volgens Deb kry hy vanselfsprekend koers na die sydeur van my kinders se huis om my te kom opkommandeer. Barkley bepaal ons roete: dis gewoonlik op met die straat. Op die hoek staan ‘n fire hydrant wat presies lyk soos dié in die comics. Dit is ‘n gunstelingstop.
Dan draai ons links en gaan stap om die parkie, waar daar basketball-bane en swaaie is. Ek en Deb gesels terwyl ons telkens rustig op Barkley wag om die “berigte” klaar te lees wat sy neus vir hom uitsnuffel. Daarna vat hy ons gewoonlik op met die straat waar die meenthuise staan. Die afstand wat ons aflê, hang van die weer af: op erg koue dae draai die ou gouer om huis toe.
Soos enige selfrespekterende Amerikaner, het Barkley ‘n Christmas sweater.
Hy het ‘n Kersfeesbrief aan Deb se familie geskryf waarin ek by name genoem is en aan sy puik taalgebruik kan mens sien hierdie hond is akademies sterk: “The best parts of the week are when I get to walk with Deb and Rich on Milton Hershey grounds or with Fran across the street who has been stuck in the USA way longer than anticipated due to the pandemic. We are both happy she is delayed again in returning home to South Africa, but we know she misses her grandchildren; okay, we know that is selfish but we did share that sentiment with her.”
Barkley dink hy sal graag ‘n posman wil wees…
…of miskien ‘n hippie…
Partykeer is hy nie eens seker of hy vis of vlees is nie!
Intussen is hy doodgelukkig om die onbetwiste heerser van sy huishouding te wees.
Everything/Anything and...Chess..."Despite the documented evidence by chess historian HJR Murray, I've always thought that chess was invented by a goddess"--George Koltanowski: from the foreword to:"Women in chess, players of the Modern Age"
Ek is die hoofkarakter in elke dag se storieboek. Ek leef my lewe op die voorblaaie van koerante en hoofopskrifte in tydskrifte. Kom lees my stories en berigte soos ek dit elke dag beleef!