“Having a grandmother is like having an army. This is a grandchild’s ultimate privilege: knowing that someone is on your side, always, whatever the details. Even when you are wrong. Especially then, in fact. A grandmother is both a sword and a shield.” – Fredrik Backman, from My grandmother asked me to tell you she’s sorry
Hierdie hoofstuk vorm deel van die Goue Vroue se avonture. Ons is die hoofkarakters in ons eie vervolgverhale (natuurlik) en ons fantasiestories is vir ander ondenkbaar, ondoenbaar en onverklaarbaar. As jy die verhaal wil volg, moet jy op die onderstaande skakel klik om die hoofstukke te lees.
Die Goue Vroue sit heerlik ontspanne rondom Christa se groot ronde tafel op Rebusfontein se dorpsmeent. Die kersete is lankal verorber; die koekstruif tot op die laaste krummel opgeëet. Lang skaduwees val oor die groen gras, waar Rebusfontein se diere nou rustig rondlê. (Vroeër was daar weliswaar weer ‘n relletjie, toe die twee Amerikaanse katte besluit het om die arme Danie aan te vat, en dit nogal terwyl hy in sy Kersfeesklere met die pom-poms uitgedos is, maar die res van die katte het hulle gou die leviete voorgelees.) Hier en daar het ‘n skoothondjie of ‘n kat hom-/haarself op iemand se skoot tuisgemaak. Stadig verkleur die lug in die weste en die sterre begin flonker.
“Waar is Boetie?” vra Positief. “Ek het hom vandag nêrens gesien nie?” “Nee,” sê Woordnoot, “die jongman is huis toe vir Kersfees, hy moes sy ouma en sy ma met die kersversierings gaan help.” “Hy is regtig vir ons ‘n aanwins,” sê Christa, “hy het my so mooi met die tafel gehelp.” “Ja,” stem Toortsie saam, “dink net aan al die kersbome wat Markus/Bismarck/Piet/Paul/Klaas – aaag, ek bedoel Boetie − vir ons uitgesoek en afgekap het.”
“Wat hoor julle van Scrapy?” vra Positief weer. “Dit gaan beter met haar lugwegontsteking,” sê Una, “maar sy was nog nie gesond genoeg om Rebusfontein toe te kom nie.” “Dis nou jammer,” sê Christa, “my hondekinders kuier so graag met Trompie.”
Na ‘n rukkie stilte vra Trommeltjies: “Onthou julle nou-die-aand, toe ons die Bethlehemster so mooi kon sien?” “Ja!” sê Toortsie, “Dit was wonderlik…” “Hei, Toortsie, ons moet jou darem bedank vir jou slim plan met die Courier Guy wat vir ons al die kos hier by Rebusfontein kom aflewer het,” sê Seegogga terwyl Bekkie aan haar oorlob met die mooi nuwe oorbel (‘n kersgeskenk) knibbel. “Ja!” beaam Sonell en giggel vrolik: “Hy was veel meer suksesvol met sy aflewerings as die kamtige Kersvader wat ook hier by ons ingeval het!”
“Ai,” sug Appeltjie tevrede, “dankietog ons kon vir Josias help om sy Maria terug te kry – ek hou tog so van ‘n liefdesverhaal met ‘n gelukkige einde.” “Mmmmm,” mymer VirgoC, “dis nie die enigste gelukkige einde nie! Kyk daar, net agter daardie boomstam – sien julle, daar sit Faye met Francis die bromvoël en gesels – watter wonderlike versoening!”
“Daar was nog ‘n gawe oplossing hier oor Rebusfontein se kerstyd, dié van Seppie die seekoeitjie en Blommetjie en Santie se melk. Wat sou ons tog met ‘n hongerige seekoeitjie aangevang het?” vra Aalsie. ‘n Oomblik luister al wat ‘n Goue Vrou is na Seppie se vrolike geplas in die damwater. “Ha!” roep Frannie skielik so hard uit dat almal wip van die skrik. “Onthou julle die petalje met die katte en die kersliggies?” Die vroue giggel by die gedagte aan daardie chaos… “Ag,” sug Una so uit haar hart uit,” ek is so dankbaar dat ons kersete mooi stigtelik verloop het, ek dink nie ek sou nog verdere opwinding kon deurstaan het nie.” “Una,” sê Appeltjie, “ons moet darem baie mooi vir jou dankie sê dat jy vir elkeen haar takie uitgedeel het – dis aan jou te danke dat alles glad verloop het.”
‘n Rukkie lank sit almal in gemeensame stilte – toe begin die draaiorreltjie, die geskenk wat Josias en Maria gestuur het, skielik speel. Maar in plaas van eenvoudige liedjies, stroom daar goddelike musiek uit die instrumentjie: die Hallelujakoor uit Handel se Messias, musiek wat die ware vreugdevolle betekenis van Kersfees uitjubel.
Nog altyd was ek lief vir mense, lief vir geselskap. Ek gesels graag oor koeitjies en kalfies, luister graag laataand na ingewikkelde filosofiese redenasies. Ek het g’n grendeltyd nodig gehad om my te laat besef mense is belangrik nie – ek weet dit mos sommer nog altyd! Maar nouja – daar het ons dit nou almal. Gelukkig skyn die son vandag – as die son nie vandag geskyn het nie, was ek dalk van my kop af…
Dis nou koud hier en teen vyfuur word dit donker. Die tyd is met ‘n uur terug geskuif: ek kyk buitentoe en troos myself met die gedagte dat dit eintlik al sesuur is, dan is die vroeë donkerte nie rêrig so erg nie. Tyd is so relatief! My rekenaar is nog op Suid-Afrikaanse tyd gestel. Hier is dit nou seweuur in die aand – in SA is dit 2:00. Daar sak so ‘n misrabelheid oor my neer as ek dink al my Suid-Afrikaanse mense slaap nou.
Daar is darem een voordeel: soggens as ek opstaan, is daar talle WhatsApp-boodskappe waarop ek kan inhaal, bv. die voorstedelike sekuriteitsgroep wat my ingelig hou oor kragonderbrekings, gebarste waterpype, stakings en gevolglike verkeersopeenhopings, inbrake en verdwaalde troeteldiere. Oor die naweek was daar wonderlike foto’s van ‘n muskeljaatkatgesinnetjie: twee grotes en drie kleintjies, reg daar in die hartjie van Pretoria! Partykeer vat die blogger-groepie vlam, dan is daar maklik ‘n vyftigstuks boodskappe. Daardie vroue dra my elke dag met hulle gulhartige omgee… My skoondogter se familiegroepie doen getrou verslag oor al hulle avonture en elke dan en wan is daar iets op ons eie gesinsgroepie. Partykeer kry ek ‘n video of ‘n foto van die kleinkinders – dié word oor en oor gekyk.
Hierdie blyery so op my eie is egter besig om my onder te kry, daarom gaan ek en die twee katte wat ek oppas, Diesel en Midnight, vanaand nog sorg dat ons op Rebusfontein aanland – Lelik is glo reeds daar.
Hierdie hoofstuk vorm deel van die GoueVroue se avonture. Ons is die hoofkarakters in ons eie vervolgverhale (natuurlik) en ons fantasiestories is vir ander ondenkbaar, ondoenbaar en onverklaarbaar. As jy die verhaal wil volg, moet jy op die onderstaande skakel kliek om die hoofstukke te lees.
Na ‘n onbeskryflike gesukkel om ‘n poot van elke kat in die hande te kry en vas te hou sodat die twee Amerikaanse katte en Frannie op ‘n wens Rebusfontein toe kan verkas,
bevind die driestuks hulself op die stoep van haar toringhuisie, waar Lelik reeds sit en wag. Lelik het die afgelope rukkie baie hard geoefen om goed met honde oor die weg te kom,
want sy het gehoor dat hier nou ‘n hele horde honde is – amper so baie soos op Turffontein.
Frannie beveel: “Lelik, vat jy nou hierdie twee Amerikaanse gaste saam om al die Rebusfonteindiere te gaan ontmoet, ounooi moet nou broodjies bak dat die stof so staan!” Una het die opdrag gegee: “Broodjies met seënwense vir iedere Goue Vrou” en Frannie spring vol moed aan die werk in haar geliefde kombuis. Sy bekommer haar g’n niks oor haar ongelukkige broodbak-geskiedenis nie, want dis Rebusfontein dié, ‘n plek van talent en triomf!
‘n Hele paar uur later vul sy die mandjies met brode en seënwense:
Ciabatta vir Aalsie (‘n wit brood wat ‘n patriotiese Italiaanse bakker in 1982 as teenvoeter vir die Franse baguette ontwikkel het toe die Italianers met baguettes begin toebroodjies maak het) sodat sy altyd slim planne sal kan maak wat die wêreld verower.
Croissants vir Appeltjie (‘n broodjie uit die hart van romantiese Frankryk) sodat haar en haar Geliefde se verhaal van krag tot krag sal gaan.
‘n Potbrood vir Christa (plaaslik in ‘n ysterpot oor die oop vuur gebak) sodat sy haar tuiskoms in haar vaderland met vreugde kan vier.
Soetsuurdeegbrood vir Positief (gebak in ‘n blikkie soos net die Karooboere kan) sodat sy en Grim nog vele avonture saam sal beleef, ook in die Karoo waarvoor hulle so lief is.
‘n Baguette vir Scrapy (‘n heerlike, ligte korsiebrood) sodat sy, wat heel voor in die wêreld se tydlyn ‘n nuwe dag begin, genoeg energie sal hê om ons steeds te inspireer met haar skryfuitdagings, stories oor Bea, Amelia en Trompie en lekker geselskommentaar.
‘n Broodjie met rooibosbessies (oftewel cranberries) en okkerneute vir Seegogga sodat haar kreatiwiteit steeds sal floreer.
Brioche vir Sonell (gevlegte deeg met ‘n blink, soet lagie) sodat elke lid van haar gesin ‘n stukkie kan afbreek en dit in innige samesyn kan geniet – oor die Kerstyd en ook in die nuwe jaar met al die avonture wat daar wag.
‘n Bantingbroodjie vir Toortsie (met amandelmeel gebak) sodat sy nie self hoef te bak nie, net rustig kan ontspan en beplan vir die beste jaar ooit: 2021.
Focaccia met knoffel en roosmaryn vir Trommeltjie, sodat die “roosmaryn vir herinnering” haar oumahart se seer verlange kan verlig – mag sy sommer binnekort al haar kleinkinders kan sien en vasdruk.
‘n Bagel met roomkaas (New York se tipiese broodjie) vir Una, met die wens dat sy en haar liefman Bertus nog eendag die opwinding van NYC se strate en mense sal kan geniet.
‘n Volgraanbroodjie vir VirgoC, propvol vitamiene, sodat sy krag kry vir die hittige woestyn en al die verantwoordelikhede wat daar wag – mag hierdie beskermengel van al die Goue Vroue nuwe moed en energie hier in Rebusfontein opgaar.
Broodstokke met verskillende geurige doopsouse vir Woordnoot, sodat sy ‘n Kerstyd van vrede en vreugde en ‘n nuwe jaar met vet pret sal ervaar.
Frannie hys die yslike broodmandjie op en stut dit behendig teen haar heup, sodat die “spierewit gestyfde doekie” van toeka se Towerindae die broodjies netjies beskerm. Sy stryk aan na die meent toe waar sy die broodjies gaan aflewer en daarna gaan sy gou-gou heerlike vrugtekoek by Seegogga eet. Sy wonder of daar lekker warm tee ook sal wees…
Tee en vrugtekoek: ‘n wonderlike hors d’oeuvre vir die Groot Kersete!
Dit sneeu nog steeds – nou al ses ure lank. Die wêreld is spierwit, die enigste kleur is die Stars ‘n Stripes wat moedig wapper in die wind wat die miljoene en triljoene sneeuvlokkies laat warrel op hulle pad aarde toe.
Annie Lennox se helder stem sing kersliedere; die kersboom se liggies skyn warm.
Ek is alleen in die huis – my kinders werk. Ek het my in die eetkamer tuisgemaak en na die gesamentlike Geloftedagdiens gekyk wat vanjaar deur ons gemeente se predikant gelei is. Dis moeilik om die kontras tussen Afrikasomer en noordelike winter te verwerk…
Die keurige Afrikaans van ds Hennie la Grange se preke en artikels bly steeds vir my ‘n vreugde. Vandag is die derde Adventskers aangesteek – die een wat Blydskap verteenwoordig. Ek herblog sy preek, dis aangrypend.
Maar nou ja, die jaar is op ‘n end. Pick ‘n Pay speel al Jingle Bells; daar is seker nie meer tyd vir regmaak wat verbrou is nie, of hoe? Sê nou net daar ís nog tyd, wat moet ons doen?
Doen of wees? Het jy ‘n doenlys of is jy dankbaar? Werk aan hoe jy leef. Laat jou optrede ander mense tot voordeel en tot voorbeeld wees. Maar werk veel harder aan hoe jy is. Wees!
My yskas daar in my skoondogter se kombuis in Suid-Afrika was laas so kaalgestroop toe dit splinternuut was. Dit is omdat Joshua al die magnete en kinderkuns afgehaal het en die yskas vir my “skoongemaak” het. Sy mamma stuur ‘n video waarin hy my vertel van sy harde werk en dan met sy mamma se aanmoediging vir my laat hoor hoe sê hy “ojanje”. (“Ouma” val so soet op mens se ore as ‘n kleinkindbekkie dit sê.)
Die yskas lyk dus nie op die oomblik baie interessant nie, maar dit het ‘n veelbewoë geskiedenis. Destyds toe ek en Laatlam ons voete in ‘n meenthuis moes vind, het die oorgroot yskas, ‘n oorblyfsel uit geborge gesinsdae, gebreek. Ek het ‘n kollega se seun se kroeg-yskassie geleen, totdat my een eks-skoonsus daarvan te hore gekom het. Sy het Gewese Liefling se sibbe opgekommandeer en hulle het vir my genoeg geld bymekaargemaak om ‘n splinternuwe yskas te kon gaan uitsoek, ‘n mooi slanke een met ‘n ruim vriesgedeelte onderin. Daar was nog genoeg geld oor om die yskas met kos te kon vul en hulle wou dit nie terughê nie. Hoe dankbaar was ek tog!
In die middel van die yskasdeur sit daar twee duikies, wat Laatlam se tienerkneukels tydens een van ons vele argumente veroorsaak het. Ek dink dit moes erg seer gewees het… As ek terugdink, besef ek dat hy en ek destyds soos verdwaasde oorlewendes na ‘n ramp opgetree het.
Daardie yskas het een trek saam met my deurgemaak en toe nog drie trekke as deel van Laatlam se volwasse huishouding. Ons het albei in ‘n nuwe bedeling tuisgekom, waar daar kinderhandjies is om ons skoon en heel te maak.
Scrapy het hierdie onderwerp langer as twee weke gelede voorgestel en ek is dus hopeloos te laat, maar ai, vandag loop my mond oor van wat in my hart is: my sewejarige kleindogtertjie Gabriella daar ver (so vreeslik ver!) in Suid-Afrika.
Gisteroggend stuur hulle mamma ‘n foto van die tweetjies voor die versierde kersboom, tjokkenblokvol klatergoudstringe en ornamente. Joshi staan selfbewus reg vir die foto, met die mooiste glimlaggie; Gabby omhels omtrent die boompie.
Op die video wat ook op my WhatsApp aanland, lewer Gabby ‘n volle lesing vir haar ouma: sy druk Joshua sagkens uit die pad uit en vis ‘n kersliggie tussen die stringe versierings uit om vir ouma te wys. Sy vertel dat die kersboom se agterkant maar so-so is (sy gebruik haar eie woord, iets soos “whêêngg”), maar dis oukei want niemand kyk na die agterkant nie. Sy stap na die deur om vir ouma die “sonnerige dag” daarbuite te wys.
Ek gaan kyk na ‘n video wat haar pappa aan die begin van die SA somer vir my gestuur het, waar sy in ‘n nuwe opblaasswembadjie heen en weer “swem”. Die badjie is seker so 40 cm diep, dus raak sy kort-kort die bodem, maar sy demonstreer verskillende style en beduie uitasem waarmee sy nóú besig is.
Waar kom die kindjie aan haar professionele aanslag: die amptelike lektorstemmetjie en die besliste gebare om verskillende aspekte uit te wys? Ouma is so beïndruk − te meer nog toe haar mamma vanoggend vir my vertel sy wil eendag ‘n “sosialemedia-ster” wees. Nouja – dis nie die dokter waaroor ouma gedroom het nie, maar ten minste het Gabby ‘n toekomsvisie…
Everything/Anything and...Chess..."Despite the documented evidence by chess historian HJR Murray, I've always thought that chess was invented by a goddess"--George Koltanowski: from the foreword to:"Women in chess, players of the Modern Age"
Ek is die hoofkarakter in elke dag se storieboek. Ek leef my lewe op die voorblaaie van koerante en hoofopskrifte in tydskrifte. Kom lees my stories en berigte soos ek dit elke dag beleef!