Sleutelwoorde
bloganuary, bloganuary-2024-08, dailyprompt, dailyprompt-1811
Die Bybel noem ‘n lang lewe as beloning: Eer jou vader en jou moeder, dat jou dae verleng mag word in die land wat die Here jou God aan jou gee. Die wyse Prediker (vermoedelik Koning Salomo) waarsku egter:
Prediker 12:1 EN dink aan jou Skepper in die dae van jou jonkheid voordat die ongelukkige dae kom en die jare aanbreek waarvan jy sal sê: Ek het daar geen behae in nie —
In ‘n reeks treffende beelde beskryf hy hoe die mens se sintuie verswak. Die oë raak dof:
2 voordat die son en die lig en die maan en die sterre verduister word en die wolke terugkom ná die reën,
Die hande bewe, die bene word krom, die tande raak min:
3 dié dag wanneer die wagters van die huis sal bewe en die sterk manne krom word en die malers die werk staak, omdat hulle te min geword het, en die wat deur die vensters kyk, verduister word,
Die ore doen nie meer hulle werk nie:
4 en die deure na die straat gesluit word, terwyl die geruis van die meul verswak; en hy opstaan as die voëltjies begin sing en al die tone van die lied dof sal word.
Die ou mens verswak en raak angstig, sy hare is so wit soos amandelbloeisels:
5 Ook sal hy bang wees vir ‘n hoogte, en verskriklike dinge sal op die pad wees! En die amandelboom sal in bloei staan, en die sprinkaan sal homself met moeite voortsleep, en die kapperkruid nutteloos wees; want die mens gaan na sy ewige huis, en die rouklaers sal op die straat rondgaan.
Sy kosbare lewe kom tot ‘n einde:
6 Voordat die silwerdraad verwyder word en die goue oliekruik stukkend val en die kruik by die fontein gebreek word en die wiel stukkend in die put val
7 en die stof na die aarde terugkeer soos dit gewees het, en die gees na God terugkeer wat dit gegee het.
8 Alles tevergeefs,sê die Prediker, dit is alles tevergeefs.
Sjoe – dit is darem erg neerdrukkend! Maar hierdie einste Salomo lig ook in Spreuke een van die grootste vreugdes van die ouderdom uit:
Spreuke 17:6 – Kleinkinders is vir oumense ‘n trots. Nie net ‘n trots nie – ook pret, plesier, vreugde en troos.
Mense wat in die fleur van hulle lewe afgemaai word, behou vir ewig die glorie van hulle jeug. Mense wat baie oud word, kom voor die groot uitdaging te staan om nie in ‘n knorrige grompot te ontaard nie. Dankietog vir die volgende Bybelse belofte:
Jesaja 46:4 – Ook tot in julle ouderdom is ek die Here, tot in julle grysheid sal Ek julle dra. Ek het julle gemaak en ek sal julle vashou, julle dra en julle red.