• About
  • Oor Tannie Frannie

Tannie Frannie

~ My terapie vir oudword

Tannie Frannie

Monthly Archives: Mei 2019

Oupa-en-Oumadag

24 Vrydag Mei 2019

Posted by Tannie Frannie in Uncategorized

≈ 29 Kommentaar

Gister was dit die graad R’s se Oupa-en-Oumadag by die puik laerskool waarheen Gabby nou gaan. Hulle het ons hemelhoog geprys met gediggies en wyshede, die mooiste items aangebied en die lekkerste verversings voorgesit. Ek het maar net opnuut my hoed afgehaal vir die onderwysers wat ‘n massa vyfjariges so mooi gedissiplineerd laat optree het.

My liewe skoondogter het beplan om drie kaartjies vir die een Ouma-en-Oupadag (vir my en haar ouers) en twee kaartjies vir die ander dag (vir Gewese Liefling en sy geliefde) te koop, sodat ons paaie nie hoef te kruis nie. Toe is die tweede dag se kaartjies reeds uitverkoop. Ek het my dogter verseker dat ek rêrig nie sou omgee om die dag saam met hulle te beleef nie, maar in my hart was daar ‘n skietgebedjie dat die dag vlot en genadig sou verloop…wat dan ook gebeur het.

Terwyl ek, oupa J en ouma N aanstryk saal toe, roep iemand na ons – dis Gewese Liefling en sy geliefde H. Tussen die horde oupas en oumas loop ons mekaar raak! Toe beland H en ek langs mekaar op die saal se ongemaklike plastiekstoele en in die loop van die oggend besef ek weer eens dat ek inniglik van hierdie vrou hou.

Ek ken H uit die dae toe ons albei kinders aan’t grootmaak was. Sy het die moed gehad om ter wille van haar seuntjies offisier vir ‘n seunspannetjie Voortrekkers te wees. Middelkind was een van haar spanlede en ek onthou nog dat ek so bly was, omdat sy met haar fyn vroulikheid die seuntjies sou laat besef dat daar staal in die vrouespesie skuil. Murg het sy beslis in haar pype gehad, want sy het die nege seuntjies dwarsdeur hulle laerskooljare met groot sukses begelei. Ek voel nou nog skuldig oor die dag toe sy vroualleen ‘n helikopter moes skoonmaak nadat die spannetjie begin opgooi het as gevolg van die toertjies wat die choppervlieënier in die lug uitgehaal het! Die belhamel en sy vlugingenieur het haar net so gelos, terwyl al wat ‘n mamma was, een kyk gegee en vinnig met hulle telge huis toe laat spat het…

Ons gesels oor ons kinders en kleinkinders en veral oor Gabby, vir wie ons albei so lief is. Ek vertel haar hoe die kleintjies die kuiers by haar en GL geniet (en verswyg die leë, eensame ure as ek nie betyds vir myself ‘n uitstappie op daardie dae gereël het nie). Sy vertel van laasjaar se kuier by haar en GL toe ons kinders wat nou oorsee woon, vakansie in Suid-Afrika kom hou het (hoe het ek hulle tog daardie kosbare tydjie saam misgun).

Na die kostelike program in die saal besoek ons Gabby se klas, waar een grootogige seuntjie met verwondering uitroep: “Dríé oumas en twéé oupas!” (Hmm, ek wonder hoe juffrou K daardie opset gaan verduidelik – die klassie is juis op die oomblik met “die gesin en familie” besig…) Gelukkig is daar ‘n geskenkie vir al vyf van ons.

GL lyk goed in sy swart jeans en kraakvars strepieshemp. Ek weet nie hoe hy en H mekaar weer raakgeloop het nie, lange jare nadat hy en ek uitmekaar is. Ons neem vrolik afskeid en ek kies my eie koers. Aanvaar ek uiteindelik, ná dertien jaar en heeltemal teen my sin, dat hierdie alleenpad tog vir my die beste is?

Langtafel op Rebusfontein

13 Maandag Mei 2019

Posted by Tannie Frannie in Uncategorized

≈ 40 Kommentaar

le-jou-eier1-e1512926357627

In Towerinstraat 7 steek ek vas op die kombuis se drumpel – dis dan ‘n replika van die kombuis waarin ek op my gelukkigste geleef het! Die mooi handgekerfde donkerhoutkaste, die lang venster wat uitkyk op ‘n prieel en Kaapse kanferfoelie, tot die bitterlike geelbruinbont linoleum van die sewentigerjare is daar! Heeltemal betowerd stap ek van die een kombuiskas na die ander en ontdek skatte van lank gelede…*

Hier staan al die sjerrieglasies wat met een slag gesneuwel het toe ‘n rak gebreek het. My kaasbak van gesnyde glas; die ronde glasbakkie wat net groot genoeg was om een boksie jelliepoeier in aan te maak. In hierdie mooi glasbeker kan ek gaan putwater skep – ag, en hier is my Tupperware-koekhouer ook! Die Royal Albert-teestel is weer volledig, reg vir ons koek-en-teesessies, en die handewerk van begaafde pottebakkers, wat so deur die jare aan skerwe geval het, is weer heel. A, hier is dit waarna ek eintlik kom soek het: my “Schlemmertopf”, ‘n ongeglasuurde kleibak waarin my bydrae tot die Langtafelfees gemaak gaan word: “Opgefoeterde Hoender”, soos dit in ons gesin genoem is, oftewel “Just Chicken” ter wille van my Amerikaanse skoonseun. Die resep was in ‘n klein kookboekie wat saam met die nuwe Schlemmertopf in die boks was en dit was baie jare lank vir my ‘n staatmakerresep.

Eers word die kleibak lank in koue water geweek. Op ‘n ruimskootse laag gekapte spek, uie en groen soetrissie word gegeurde hoenderporsies gepak. Een koppie hoendersop sorg vir die nodige vogtigheid. Bo-op pak mens rou aartappelskyfies, wat so stadig sonder olie of vet onder die kleideksel in die oond gaar bak. Na die langsame bakproses skep jy die skyfies in ‘n afsonderlike bak, sout dit liggies en roer ‘n houer suurroom by die hoender. Daar moet rys wees om die spek-, uie- en soetrissiesous oor te skep, bros groenboontjies met knoffelvlokkies en skywe soetpampoen, met ‘n kraakvars mengelslaai daarby. In die dae toe ek wynfiks was, was my gunsteling Haute Cabrière Chardonnay Pinot Noir. Die naam is ‘n mondvol en ‘n mondvol van hierdie wyn is die heerlikheid vanself. Hmm, gaan ons plek hê vir roly-poly met vla saam met ‘n glasie hanepoot? ‘n Klein koppietjie koffie en maroelaroomlikeur? Maar natuurlik, dis mos towerwêreld dié.

Nataniël het ewe galant die uitnodiging na Rebusfontein se Langtafel aanvaar, waaroor ek baie bly is, want ek bewonder hom grensloos: as mens, entrepreneur, sjef, ontwerper, kunstenaar, sanger, akteur en storieverteller. Ag, ek hoop tog die man is vanaand in ‘n bui om sy wonderlike staaltjies oor die plattelandse tannies van sy jeug te vertel – sowat van spitsvondigheid in die keurigste Afrikaans.

Oor die gas aan my linkerkant het ek ernstige bedenkinge: Kim Kardashian. ’Nuff said. Sy het gisteraand kom nes skrop in die groot slaapkamer op die eerste verdieping van my huisie. Gelukkig het sy haar eie tolk saamgebring wat seker maar die hele aand in haar juweelbehangde oortjie sal moet sit en fluister… Ten minste gaan haar elaborate uitrusting (ja, dis einste daai Met Gala-kostuum) interessante bespreking uitlok (pun very much intended); eintlik sien ek daarna uit om te hoor wat Nataniël gaan kwytraak…

* Ek moet Toortsie bedank vir die idee om goeters in Rebusfontein terug te vind – diep in my onderbewuste het haar ontdekking van haar musiekboek wat met hulle trek soek geraak en toe in haar huisie hier op Rebusfontein weer opgeduik het, my laat dink aan al die kosbare breekware wat ek so deur die jare moes afskryf.

*******
WIL JY KOM SAAM KUIER? MAAK SO:
Ons langtafel is sosiaal en gemeensaam van aard. Ons kinkel is dat elke Towerin en Blogmaat plek vir haar of homself en twee gaste aan die tafel het. Dit moet ‘n beroemde of bekende persoon wees – een wat jy bewonder en een wat jy verpes. Dis nou lewendes en die wat ons reeds vooruit is. (Broodina het ons mos geleer om selfs die van wie ons nie so baie hou nie, te aanvaar.)

Ook moet jy asseblief iets lekker bring om aan jou gaste en ons ander voor te sit. Vertel hoekom, en deel die resep as jy wil.

Kom ons kuier, begrawe strydbyle, bou brûe, smee vriendskappe en smul lekker saam soos net Rebusfonteiners kan.

Voorbeeldvonk
Towerin 17 Onbekend bring vir John McEnroe van tennis faam omdat hy so vreeslik kon vloermoer en dis nie sportmanskaplik nie en sy bring vir Dolly Parton omdat niks haar onderkry nie, nie eens spottery nie!
Smulgoed wat sy bring is Makataankonfyt en varsgebakte brood.

Mik om so 500 woorde te skryf dat ons lekker kan lag en lees en mense leer ken.

Onthou om jou bloginskrywing op Inlinkz te gaan haak:
https://fresh.inlinkz.com/p/f3a95533873d4e39950509a1af369d8a
 

 

Moedersdag 2019

12 Sondag Mei 2019

Posted by Tannie Frannie in Uncategorized

≈ 2 Kommentaar

Moedersdag 2019

Eenmaal per maand hou ons Kinderkerk terwyl die gewone erediens aan die gang is. Drie opgeleide predikante neem die verskillende ouderdomsgroepe (voorskools in die groot saal, gr 1-3 en gr 4-7 in twee verskillende kategeselokale) en die diens volg die gewone liturgie, met seëngroet, wet, geloofsbelydenis, verkondiging en seënbede. Daarna is daar ‘n handwerkie om hulle besig te hou totdat die groot kerk uitkom – vandag was dit vanselfsprekend Moedersdagkaartjies. Dis vanjaar 11 jaar vandat die eerste treetjies gegee is: 8-10 kindertjies rondom ‘n houttafel in ‘n klein lokaal, met die mammas wat destyds beurte gemaak het om aan te bied.

My ere-kleinkinders het ek soontoe gevat voor hulle Nieu-Seeland toe getrek het en nou is ek so bevoorreg om die twee kleintjies wat elke dag deel van hierdie ouma se lewe is, te kan saamneem. Hoe wonderlik is dit om te sien hoe Gabby sit en luister, opspring, sing en deelneem! Joshi is soos gewoonlik op sy eie missie – aitog, hoe dankbaar is ek dat ek nie sy juffrou gaan wees nie. Hy is egter redelik stil en het al die grootmense wat om hom kom kloek het toe hy voor kerk op my heup gesit het, ewe mooi gegroet. Hmm, ouma sal hom moet leer dat sy naampie eintlik nie “Boetie” is nie, soos wat hy telkens op die vriendelike vraag geantwoord het…

Na ‘n gewoel en ‘n gewerskaf kom ons aldrie vodde by die huis aan. Gabby is bleek en Joshi sit ‘n keel op oor enigiets wat nie na sy sin is nie. Ouma is heeltemal gedaan – sy moes Joshua met mag en mening wegsleep toe hy op ‘n stokkielekker aangedring het by ‘n groepie wat duidelik net genoeg vir elke kind in die groepie gehad het. Die onderdrukte geamuseerdheid van die omstanders het sy hanteer met die versugting: “Oumas het nie meer krag hiervoor nie!” (Dat ‘n mens nou so ‘n leuen uit pure verleentheid vertel en dit nogal by die kerk!)

Nou sit ek tuis en teedrink terwyl my hart van dankbaarheid oorloop.

Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval, ja, my erfenis is vir my mooi. (Psalm 16:6, ou vertaling)

Woordsnoer 4: Towerinstraat 7, Rebusfontein – Tannie Frannie

06 Maandag Mei 2019

Posted by Tannie Frannie in Uncategorized

≈ 44 Kommentaar

Die ossewa, swaar gelaai met al my “skatte”, knars stadig straat-af. Hier kom ek alweer op die nippertjie aan, net-net betyds om by Towerinstraat 7, Rebusfontein, #MiddelMzanzi in te trek. Daar was nie genoeg plek op die eerste ossewa vir al my boeke en goeters nie, toe het die liewe Towerinne ‘n tweede ossewa vir my gereël. Ek loer gou by die kathokkie in – ou Lelik het die reis goed deurstaan, maar ek het mos nou al my les geleer met katte, ek is seker haar magie voel asof dit vol vlinders is. ‘n Nuwe, afgeleë omgewing – sy en ek voel albei die opwinding deur ons are bruis! Ek swaai soos wafferse sigeuner van die wa af terwyl ek aan die een wiel vashou; stap dan verby die spekboomheining onderdeur die pergola na die stoep van my huisie toe. Lorenzo, wat deur Hester afgevaardig is om my te gaan haal, sit die bal aan die rol en begin afpak. Die tuintjie is effens verwaarloos, ek sal met Hester moet onderhandel oor Lorenzo en tuinwerk…

Huisie

Hierdie stoep gaan ‘n heerlike kuierplek wees, dit kort net ‘n lang tafel met genoeg gemaklike stoele vir man en muis. My Bali-eend word seremonieel in die hoek van die stoep staangemaak. Oe, kyk, daar’s ‘n rêrige kaggel in die sitkamer! Een groot en een klein slaapkamer op die eerste verdieping vir as my kinders en kleinkinders kom kuier en die snoesigste dakkamertjie (ai, daardie dakvensters!) waar ek my gaan tuismaak.

Nou vir die wonderlikste van alles: my eie ivoortoring! (Ag oukei, die reine waarheid is dis nie ivoor nie, dis van fyn rooi baksteentjies gebou. Maar net soos die spreekwoordelike ivoortoring, gaan dit my droomplek, leesplek, dinkplek, skryfplek wees. Gaan sommer vir Toortsie vra om my te leer brei en vir Scrapy om my te leer kwilt, dan word hierdie toring ‘n naaldwerkplek ook, vyf duime aan elke hand ten spyt – dis nie verniet Towerinwêreld hierdie nie! Wie kan nou vadsig wees as jy so ‘n plek het om in te werk?) Lorenzo het reeds al die bokse boeke hier ingedra en my ou lessenaartjie teen die wenteltrap opgesukkel tot voor die venster op die boonste verdieping, die man is ‘n honorêre towenaar! Net jammer hy is so ‘n babbelkous, dis net Hester wat hom kan stilkry. “Innig dankie, Alfonso, Valerio, Carlos, aag ek bedoel Lorenzo, dagsê, ons sien mekaar sommer gou weer.”

Lelik, hoekom miaau jy so daar onder die trap? Wag laat ek gou gaan kyk – grote griet, hier’s ‘n valdeur! Ahaa, vyf trappies lei na ‘n keldertjie, dis net die regte wegsteekplek vir die broodmandjie. Die antieke koekstaander lyk tog te mooi daar op die stoep met die pot ligpers rankmalvas daaraan vasgehaak, ek’s nou bly daar was nie destyds kans om dit te probeer smous op die Kaapse Parade nie. Ag foeitog, kyk daar sit Lelikkie buite in die tuin, lyk of sy so effens die blues het. Katte hou mos niks van verskuiwings nie, ek sal bietjie botter aan haar pootjies moet gaan smeer.

100_2382

‘n Rukkie later sit ek by my lessenaar en teedrink, dink en droom. Perdebytjie het nou-die-dag haar verwondering uitgespreek oor hoe die virtuele blogwêreld oorspoel na die werklikheid. Wat maak dat vreemdelinge mekaar as vriendinne eien en die vriendskap in die werklike lewe kan voortsit? Waarom trek ons almal sonder huiwering hier na Rebusfontein, met die volle vertroue dat ons heerlike avonture gaan beleef?

Dis omdat ons veilig voel. Net soos wat dit maklik is om mense op sosiale media te beledig en diatribes rond te slinger, is dit ook maklik om op sosiale media mooi goed oor en vir mense te sê, want die filter van natuurlike beskeidenheid wat so dikwels maak dat komplimente weerlê word, ontbreek. Om mekaar op te bou en nie af te breek nie, is iets wat blogmaats by uitstek doen, want ons almal verstaan die krag van woorde en werk versigtig daarmee.

Nou verlang ek so na die Towerinne dat ek eers hier in die straat gaan afslenter en kyk wie woon waar…
**************************
Wil jy saam woordsnoer en Towerinavontuur op Rebusfontein? So maak mens :
Jy kan ‘n enkele woord as inspirasievonk gebruik of al die woorde – nes jy lus het.
Skryf dan jou blog. Maak seker om die woord(e) in vetdruk (bold) aan te dui in jou skrywe.
En moenie vergeet om jou bydrae op Inlinkz te gaan aanhaak nie!
https://fresh.inlinkz.com/p/c79e46273dd84a68bceb38fb23d1f7c5

Aanhaling

“Don’t die, Dad – but they die.” Les Murray, The Bard of Bunyah, 17 October 1938 – 29 April 2019

04 Saterdag Mei 2019

Posted by Tannie Frannie in Uncategorized

≈ 2 Kommentaar

Hierdie blogger het bande met Suid-Afrika. Sy skryf met diep insig oor boeke en digkuns. Julle kan gerus ook haar artikel “Why I hate and love poetry” lees.

via “Don’t die, Dad – but they die.” Les Murray, The Bard of Bunyah, 17 October 1938 – 29 April 2019

Kwalik ‘n kworum…

03 Vrydag Mei 2019

Posted by Tannie Frannie in Uncategorized

≈ 7 Kommentaar

Bewussynstroom soos ek deur die voorstede onder die herfsbome na Lynnwood Bridge toe ry:

Hoe wonderlik dat twee Towerinne ver pad ry na ‘n ontmoeting hier in my omgewing – Frannie, jy is regtig bevoorreg! Vanoggend is ons kwalik ‘n kworum, daar was soveel struikelblokke: gesondheid, werksverpligtinge, ander aansprake op ons tyd en energie… Dankie, my liefste skoondogter, dat ek klein Joshi heel selfsugtig by jou kantoor kon gaan aflaai om bietjie in eiereg my menswees te gaan vier.

Ai, en watter viering was dit tog. Perdebytjie en Una waai vrolik toe ek aangestap kom, hoe welkom laat dit mens voel. My en ‘Bytjie se eende staan op die tafel – groter as wat ek gedink het, met hulle bakbene stewig in gemaklike stewels geplant, wat sekerlik nie die ou breë webvoete pynig nie. Hoe mooi is my veelkleurige eend, met haar kolletjieskeil, strepiestoppie, helderpienk hotpants en bypassende stewelveters! Hoe warm maak dit my hart om te dink dat Una en Positief haar spesiaal vir my uitgesoek het.

Bali-eend (2)

Perdebytjie bederf my met Nataniël se karamelbotter in twee pragtige vierkantige flesse, saam met ‘n kosbare briefie wat my hart opnuut verbly. Onverdiende gunste en gawes…

Saam beleef ons hoedat virtuele vriendskap in die werklike lewe bevestig word en verstom ons aan die wonder daarvan. Ons kuier en eet en gesels; vra uit om ontbrekende stukkies legkaart van die blogmaat oorkant ons in te vul. Kameel bel en Woordnoot loer in op WhatsApp met ‘n pragtige baba op haar arm. Ons verlang na Toortsie en betreur Bondelsgedagtes se afwesigheid. Una vertel van haar ontmoeting met Hester en haar dogter. Soos Vuurvliegie vanaand op Una se blog geskryf het: daar was ‘n groot groep vroue om daardie tafel.

Ons neem traag afskeid, deel vir oulaas drukkies uit, kry elkeen haar eie koers. Deur die herfsdeurstraalde middag ry ek huis toe, met ‘n hart tot barstens toe vol vrolike dankbaarheid.

About this blog

This blog is written in Afrikaans, a South African language that evolved from 17th century Dutch. I write in my mother tongue because it is also my heart's tongue, and a language that has been custom-made for life in this country.

Sleutelwoorde

Afrikaans Blogging 101 Om te skryf Ouma wees Persoonlik Toeka-Tokkel

Sonneblomtoekenning vir uitmuntende skryfwerk

Onlangse Bydraes

  • Boeke
  • Warmte in die hartjie van die winter
  • Bewaar die knikkertjie
  • Die Goue Vroue hou vakansie
  • In die oomblik – 2022(16)

Blogs I Follow

Onlangse Bydraes

  • Boeke
  • Warmte in die hartjie van die winter
  • Bewaar die knikkertjie
  • Die Goue Vroue hou vakansie
  • In die oomblik – 2022(16)

Nuutste kommentaar

Anne oor Boeke
scrapydo2.wordpress.… oor Boeke
de Wets Wild oor Boeke
granny1947 oor Boeke
scrapydo2.wordpress.… oor Warmte in die hartjie van die…

Argief

  • Julie 2022
  • Junie 2022
  • Mei 2022
  • April 2022
  • Maart 2022
  • Februarie 2022
  • Januarie 2022
  • Desember 2021
  • November 2021
  • Oktober 2021
  • September 2021
  • Augustus 2021
  • Julie 2021
  • Junie 2021
  • Mei 2021
  • April 2021
  • Maart 2021
  • Februarie 2021
  • Januarie 2021
  • Desember 2020
  • November 2020
  • Oktober 2020
  • September 2020
  • Augustus 2020
  • Julie 2020
  • Junie 2020
  • Mei 2020
  • April 2020
  • Maart 2020
  • Februarie 2020
  • Januarie 2020
  • November 2019
  • Oktober 2019
  • September 2019
  • Augustus 2019
  • Julie 2019
  • Junie 2019
  • Mei 2019
  • April 2019
  • Maart 2019
  • Februarie 2019
  • Januarie 2019
  • Desember 2018
  • November 2018
  • Oktober 2018
  • September 2018
  • Augustus 2018
  • Julie 2018
  • Junie 2018
  • Mei 2018
  • April 2018
  • Maart 2018
  • Februarie 2018
  • Januarie 2018
  • Desember 2017
  • November 2017
  • Oktober 2017
  • September 2017
  • Augustus 2017
  • Julie 2017
  • Junie 2017
  • Mei 2017
  • April 2017
  • Maart 2017
  • Februarie 2017
  • Januarie 2017
  • November 2016
  • Oktober 2016
  • September 2016
  • Augustus 2016
  • Julie 2016
  • Junie 2016
  • Mei 2016
  • April 2016
  • Maart 2016
  • Februarie 2016
  • Januarie 2016
  • November 2015
  • Oktober 2015
  • September 2015
  • Augustus 2015
  • Julie 2015
  • Junie 2015
  • Mei 2015
  • April 2015
  • Maart 2015
  • Januarie 2015
  • Desember 2014
  • November 2014
  • Oktober 2014
  • September 2014
  • Augustus 2014
  • Julie 2014

Kategorieë

  • Afrikaanse blog
  • Uncategorized

Meta

  • Registreer
  • Meld aan
  • Inskrywingstoevoer
  • Kommentaarvoer
  • WordPress.com

Sonneblomtoekenning

Create a free website or blog at WordPress.com.

Here Since 1975

Never Too Old To Try Something New

Jan Peppler HOME

Exploring Our Connection to People and Place

Chessalee

Everything/Anything and...Chess..."Despite the documented evidence by chess historian HJR Murray, I've always thought that chess was invented by a goddess"--George Koltanowski: from the foreword to:"Women in chess, players of the Modern Age"

Die lewe gebeur

Lomi

Leer, Speel, Skep

kammakastig

... en sê nou daar's 'n ... kat?...

LollaseGoete (Lolla's Thingz)

Welcome to my world - experiences of a middle-aged Wanderer

Daisy op die stoep

Daisy deel haar gedagtes oor die lewe en al sy kwessies

SoundEagle 🦅ೋღஜஇ

Where The Eagles Fly . . . . Art Science Poetry Music & Ideas

Felinity Forum

A source of feline knowledge when watching cat videos is not enough

Jack Greeff jr

Pack in the good weather

Every journey begins with the first step

The Pennsylvania Rambler

Exploring the Histories and Mysteries of the Famous and Forgotten

Carmen Niehaus

LioneL.D

Voyager, Dormir, se Régaler, se Divertir

Dr. Christa van Staden

Opvoedkundige navorser

Dawid Brits

Lig is beter as duisternis

Leeshoekie

Afrikaanse kortverhale

Wegste: Missives from far and near

Missives from far and near

Madeleine Venter

Skrywer

binnetoe

Wet and Dusty Roads

Camino Stories & Other Journeys

Begaafde Kind Suid-Afrika

Saam kan ons ‘n verskil maak

Die Jaaif van Joni

Gedagtes, opinies en stories van iemand soekend

Henny Loves Africa Travel Blog

Kleuter Kliek

Idees, raad en pret !

Herklink

Virtuele Begrafnisse | Virtual Funerals

Ek kan nie Blog nie ...

Ek is die hoofkarakter in elke dag se storieboek. Ek leef my lewe op die voorblaaie van koerante en hoofopskrifte in tydskrifte. Kom lees my stories en berigte soos ek dit elke dag beleef!

Detouring

Home

Una se gedagtes

Noem-my-Skottie

My journey, my lewe in Skotland

supermanme

Loer Toer

Reisjoernaal oor Hier, asook Daar

Will Will Travel

Musings about my travels...

Een, Twee, Drie. Blog Myself!

'n Storie oor die wêreld, vir die wêreld.

Momma Life 2 the Fullest

From pregnancy to parenting in a busy world

Safari Sunset

A pensioner's blog

Die Aarde en die ruimte

Kan jy onthou

Ons onthou die lekker dinge van die verlede

Natasja Franzsen

- Rou opregte woorde - Partymal vorm woorde in my kop as ek iets hoor, sien of ervaar en dan dans die pen in my hand

Herman van Bon Photography

Fine Art Photography, Napier, South Africa.

Dis Ekke

My vreugdes en frustrasies

Appeltjie

potpouri van stories, foto's, gedagtes, goue vroue

Rolbos ©

Living the life of the common people.

Versindaba

~ 'n Weblog vir die Afrikaanse digkuns ~

Masha du Toit

The Fynbos Blog

A year in the Cape Floral Kingdom

Letty-Ann se Ervarings

Aalsie sê:"Sommer vir die lekker!"

2020 - Nieu Bethesda soutenpeper's blog deur Niël Stemmet

nostalgie - die toekoms van kos en leef lê in die verlede

vetgirlmemoires.wordpress.com/

Privacy & Cookies: This site uses cookies. By continuing to use this website, you agree to their use.
To find out more, including how to control cookies, see here: Cookie Policy
  • Follow Reeds gevolg
    • Tannie Frannie
    • Sluit aan by 222 ander intekenaars
    • Already have a WordPress.com account? Log in now.
    • Tannie Frannie
    • Pasmaak
    • Follow Reeds gevolg
    • Sluit aan
    • Meld aan
    • Report this content
    • View site in Reader
    • Manage subscriptions
    • Collapse this bar
 

Die kommentaar is aan't laai...