Destyds, uiteindelik, na twee jaar se verlamming, het ek so ver gekom om ‘n nuwe blyplek te soek – een waar ek alleen, sonder Gewese Liefling, sou intrek.

Toe ek die populierbos anderkant die hoë traliesheining sien, was daar hoop op genesing in my hart. Toe het ek nog nie geweet dat daardie genade my eers 13 jaar later beskore sou wees nie. Al kon ek nooit in daardie bos gaan stap nie, het die ritselende blare vir my gelukkige kinderherinnneringe opgeroep. Die meenthuisie was pragtig ontwerp, deel van net 12 eenhede; daar was twee kleiner slaapkamers: een vir Laatlam en een vir my dogter wat toe nog op die skepe gewerk en na elke toer ‘n rukkie huis toe gekom het. Laatlam se hond Appel en die twee katte was welkom.

Die trek was uitputtend – ek moes goed opruim wat normaalweg Gewese Liefling se verantwoordelikheid sou gewees het: ‘n lendelam Wendyhuis, inhoud en al; olie op die garagevloer… Die trekmaatskappy was die goedkoopste wat ek kon kry en dit het my deeglik berou. Hulle het opgedaag met ‘n horingou geel-en-blou lorrie (nee, ek kan dit nie ‘n “meubelwa” noem nie!) wat swart rook gespoeg en verskriklik gebrul het. Ons het vroeg op ‘n Sondagmiddag by die kompleks opgedaag en al rasend met die straatjie langs gery tot reg voor die huisie. Toe die lorrie weer moes ry, moes die bestuurder die toere van die enjin opjaag om die ding met ‘n skrikwekkende geraas weer aan die gang te kry. Geen siel in die omgewing sou daardie middag ‘n Sondagdutjie kon inkry nie.

Binne die eerste week is daar by ons garage ingebreek en my dogter se mooi sportfiets is gesteel. Seker ‘n tas of twee ook, dalk van die bokse wat nog nie uitgepak was nie – ek wis nie mooi wat alles in daardie garage op my aandag gewag het nie. Die skelms het deur die populierbos gekom, met ‘n dienspaadjie langs beweeg en oor die muur geklim. Ek was net dankbaar dat ons niks gehoor en gaan ondersoek instel het nie.

Die eerste naweek wat ons daar was, het ek en Appel ‘n entjie in die kompleks gaan stap. Appel was die lieflikste hond, ‘n kombinasie van ‘n staffie-pa en ‘n bokser-ma, met die mooiste eienskappe van altwee en g’n duit aggressie in sy ou gladde bruin lyf nie. Dit was die eerste keer dat ek in ‘n kompleks gebly het en ek het nie gedink ‘n leiband is nodig nie. (Waar was my verstand? Maar ek was eintlik destyds soort van permanent van my verstand af…)  

Ons was seker so 50 tree van ons hekkie af, toe vlieg ‘n foksterriër soos ‘n bliksemstraal by ‘n ander hekkie doer ver uit en takel Appel met tande, naels en ‘n verwoede gesnou, geknor en geblaf. Appel verweer homself en omdat hy omtrent drie keer groter en sterker as die foksie is, doen hy erg skade. Die foksie se baas kom aangehardloop, tel sy hondjie met sy kaal hande uit die woeste gemaal op en verdwyn in sy meenthuis; Appel en ek trek terug na ons nuwe, vreemde blyplek.

Daardie aand kom die opsigter en die leier van die inwoners my vra om asseblief my hond aan ‘n leiband te hou. Die volgende aand gaan klop ek by die foksterriër se huis en vra hoe dit met die hondjie gaan en hoeveel die veearts gekos het, bied aan om die rekening te betaal. Die man is baie stug, noem die bedrag, maar wil nie betaling aanvaar nie. Toe skryf ek maar ‘n briefie en sit dit saam met die geld in ‘n koevert wat ek by die opsigter gaan afgee. Dit was ‘n baie moeilike ding om te doen… Al die geld wat ek gespaar het deur met daardie ou lorrie by die kompleks op te daag, was nou in elk geval daarmee heen.

Ten spyte van die rampsalige begin, was ek gelukkig in daardie huisie. Eendag, toe ek regtig terneergedruk was, het ‘n kolgans-ma en -pa met die straatjie afgestap gekom, gevolg deur ‘n klompie klein bolletjies veertjies – soiets laat mens dink die lewe is tog mooi. My broer se twee kindertjies het soms kom speel – daar was lekker plek om op hulle fietsies te ry. Die bure se lieflike vierjarige dogtertjie het graag kom kuier – ek onthou ‘n koue winterskemering toe die geselskap van daardie kindjie al was wat my van wanhoop gered het.

Vandag, op Goeie Vrydag, onthou ek veral die voëlbadjie waar ek oorskiet-Nagmaalbrood gaan strooi het.

Goeie Vrydag – Sheila Cussons

Vandag is daar geen klokke nie

lui geen angelus:

die wêreld hou sy asem in

by die kruisiging van Jesus –

nee, anders is die waarheid

in ritme en in rym:

die wêreld drink sy wyn in die son

en niemand dink aan Hom –

O onpeilbare vademlose

diep geheimenis:

dat krummels en ‘n kring op ‘n tafel

daardie agonie werd is.