Dit moes my 29ste verjaarsdag gewees het. My vriend-met-die-stoep, K, en ek het ‘n gesamentlike verjaarsdagpartytjie gereel by sy destydse adres op ‘n landgoed, toe ‘n landgoed nog ‘n besonderse plek was – ver uit op die pad na Rietvleidam buite Pretoria.
Dit was my dae van glorieryke mooiwees – ek het twee nuwe rokke vir die geleentheid gekoop: ‘n gesofistikeerde swart langmourok tot op my enkels, slank en nousluitend, met bo-oor ‘n wit sjiffonkaftan, met groot, wasige blou en pers blomme en valle reg rondom die soom, wat oor my arms gevou het om “moue” te vorm. Klink dit gruwelik? Dit was die middelsewentigs van die vorige eeu en hippiemodes was nog steeds in! Verder was dit koud, in die hartjie van die winter, en vir iemand wat maar altyd koud gekry het, selfs in haar fleur, was die uitrusting ideaal.
Toevallig het my haarkapper en sy gesin ook op die landgoed gewoon, net ‘n entjie straat-af. Om onder daardie begaafde hande te kon uitstap, reguit na die partytjievenue toe met my kunstig gekamde los bruin krulle, het verseker dat my selfvertroue (“I feel pretty, oh so pretty…”) op ‘n absolute hoogtepunt was.
Die partytjie was ‘n happening, ‘n klinkende sukses. Dit was te ver van die stad af vir die polisie om ‘n draai te kom maak en ons aan te maan oor rusversteuring. Dit was ‘n versameling eienaardige mense, swerwers en soekers, kunstenaars en filosowe. Daar was lekker eetgoed en baie wyn; kerse en sigaretrook. Op ‘n stadium het ‘n groepie kaalnaelers deur die meenthuis gehol, tot almal se groot vermaak.
Iewers in een van my bokse is daar ‘n verbleikte kiekie van my en ‘n lang jongman met blonde krulhare – arms om mekaar geslaan en selfbewus aan’t glimlag voor die hekkie van die huisie. Dit was ek en F, heel aan die begin van ons storie – wat maar ook, soos al my romantiese stories, op droewe verlatenheid en wroeging sou uitloop. Nog nie toe nie!
My en F se gesamentlike vriend, N, was ook daar. N was klein van statuur, met ‘n fynbesnede gesig en ‘n sensitiewe geaardheid, ‘n dromer en ‘n versorger, wat my soms in Sunnyside aandete uit sy bevrore margarienbakkie-porsies heerlike kookkos gevoer het (ek was permanent honger, destyds…).
Saam het F en N die wonderlikste verjaarsdaggeskenk vir my bedink: ‘n kosbare, groot glasvisbak, kompleet met water, wit klippies onderin, ‘n rêrige waterplant (N sou eerder dood voor hy vir my plastiek sou gee!), twee pragtige goudvissies en ‘n houertjie viskos. Daar was ‘n lang brief wat, saam met ‘n aanhaling uit ‘n Nederlandse verhaal ter stawing, verduidelik het dat hulle gemeen het die heel, heel beste geskenk was iets lewendigs.
Oorstelp, het ek met oop arms die verantwoordelikheid aanvaar – ek het immers reeds ‘n ma-kat met twee kleintjies in my woonstel geherberg. Ek het ‘n glasblaser gaan soek wat vir my ‘n glasroostertjie gemaak het om te keer dat Bliksem die vissies vang – hy het wel daarin geslaag om die enetjie se vin effens te beseer voor ek hom kon keer. Daardie kat het voorwaar die regte naam gekry…
‘n Hele paar jaar lank, deur al die oppe en affe van ‘n alleenloperlewe tot by my “tuiskoms” by my lewensmaat (altans, so het ek gedink…) het die vissies my groot plesier verskaf – tot een dag toe ek en Gewese Liefling met vakansie gegaan en die katte en vissies by ‘n dierehotel op ‘n plot gaan aflaai het. Toe ons die diere gaan haal, het die liewe vrou met groot hartseer en apologie ‘n plastieksakkie uit ‘n vrieskas opgediep en aan my oorhandig. Sy het die water in die bak omgeruil en nie besef dat boorgatwater vir stadsvissies lewensgevaarlik sou wees nie. Een vissie het oorleef, die ander een se lykie het ek maar net daar op die plot agtergelaat. Ek kan nie eens onthou hoe en wanneer die ander enetjie dood is nie – GL het hom vir my gaan wegspoel.
Hulle was so mooi, met hulle glimmende oranje lyfies en grasieus-swewende vinne, al swemmende verby die groen waterplant tussen die reënbogies wat die glasbak geskep het as die sonlig daarop skyn. Soos met alle mooi dinge, moes daar ‘n einde aan kom. Tog was ek nog nooit spyt oor my lewende geskenk nie.