Dit reën (alweer). Daar onder by die spruitjie kwaak paddatjies asof hulle betaal word. Emmersvol water dam op teen die randstene, maak plasse op die vaal grasperke. Hier en daar breek een van die kaal boomtakkies af, land saam met die baie water op die gras. Af en toe is daar ‘n weerligflitsie en ‘n onderlangse gerommel – nie naastenby so dramaties soos die Hoëveldse onweer waarmee ek bekend is nie.
As mense hier reënmeters gehad het, het die goed oorgeloop. Ek dink aan ‘n geliefde predikant, nou reeds saliger, wat so kinderlik opgewonde en dankbaar kon raak oor die reën in my verre, dorre, wye en droewe vaderland.
Dis koud en dis nat. Ons skakel ligte aan en brand ‘n kers. Gister was ‘n stralende, koue dag, maar die son is nie so geel soos wat ek gewoond is nie en ook nie so warm nie. Dis bleek, soos die botter wat mens hier kry.
Eergister was daar reën, die dag voor dit ook; ‘n dag gemaak vir terugtrek, lees en dut, gelukkig was dit Sondag en ons kon dit alles doen.
In die noorde van die VSA sneeu dit, maar hier in die suide reën dit net. Ek dink aan my Amerikaanse skoonseun se rympie: “April showers bring May flowers.” Dis nou eers einde Januarie, maar die rympie praat die waarheid, want in die tuin kom die spriete van bolplante geil op.
By die voordeur hang twee houers met voëlsaad, mooi glashouers met koperdakkies, stylvol soos al my kind se versierings. Die tuinvoëltjies laat hulle nie deur die reën stuit nie; hulle flits heen en weer, pik dan hier, dan daar. Die kat Midnight se snorbaarde bewe van die jaglus, haar stertpunt swiep heen en weer, hier waar ons twee op die leunstoel by die “picture window” met sy onbelemmerde uitsig die toneel daar buite dophou.
Skielik word die een houer windskeef gestamp. ‘n Eekhoring klou soos wafferse akkedis onderstebo aan die stoeppilaar vas, rek ver om sy pootjies op die onderste rand van die houer te stut en eet ‘n pad deur die saad. So ‘n laspos! Ek het sommer lus en hits Midnight aan om hom te gaan verwilder – maar nee, sy is ‘n dodelik doeltreffende roofdier en ek het nie lus vir moord en doodslag nie…
Dus gaan maak ek maar (alweer) tee en lees verder aan die boek wat ek lukraak by die dorpsbiblioteek uitgeneem het. Biblioteke was sedert die klein, krakerige bibliotekie van my jeug nog altyd vir my magiese plekke, met rakke vol moontlikhede van avontuur en romanse. Dalk roep ‘n bepaalde boek die regte leser? As tiener het Barones Orczy se reeks oor die Skarlaken Pimpernel my nader gewink; in Pretoria se stadsbiblioteek het ek “toevallig” op The Once and Future King, T H White se wonderlike weergawe van die Arthurlegende, afgekom; nou lees ek Peter Heller se roman Celine, stadig en met innige genot. Die skrywer eis sy leser se aandag op: hy laat val ‘n wenk of ‘n leidraad wat hy eers veel later verduidelik of opvolg. Hy weef sy karakters draadjie vir draadjie, skering en inslag, sodat hulle al meer gestalte kry. Hy skep ‘n hoofkarakter wat my herinner aan ‘n Amerikaanse vriendin met soortgelyke lewenslus, deernis en intelligensie. Ek lees stadig, want Marthe van die blog Seven Circumstances se “liberfinisfobie” lê op die loer…