Vir Scrapydo
Jare gelede het my dogter in ‘n boekwinkel gewerk voordat sy by Disney World sou gaan werk. Die winkel het pragtige legkaarte in voorraad gehad en sy het een teen personeelafslag gekoop, ‘n Josephine Wall-prent van 1500 stukkies met die mooiste kleure en ‘n metaalglans. V en ek het die legkaart met vreugde gebou – ek onthou nou nog toe ons die heel laaste stukkie ingepas het. Toe het sy dit laat raam en daardie legkaart het orals saam met my geswerf, teen verskeie slaapkamermure gehang, totdat ek dit laasjaar amptelik aan my kleindogtertjie Gabby “bemaak” het.
Dit was die begin van ‘n kosbare gewoonte: as ek en V saam kuier, bou ons graag legkaart, verkieslik ‘n Josephine Wall. Vanjaar se kuier is dit weer ons kans om saam te bou, ou legkaarte van vorige kuiers en ook nuwes. Saans as hulle pligte as huisouers afgehandel is, kom sit V by haar hoë eetkamertafel en bou ‘n rukkie saam met my.
Nou bly ek by die twee katte in hulle huis terwyl die kinders steeds op kampus werk: twaalf dae aan, drie dae af. Ek ontdek ‘n legkaart uit my eerste VSA-kuier en begin bou. (Dis moeiliker as dit net een mens is wat bou!)
V maak graag goed bymekaar wat sy in een van haar handwerkprojekte sou kon gebruik. Ek gaan haal ‘n yslike geraamde advertensieprent uit die basement om op te bou; sy het dit vir ‘n dollar opgeraap toe ‘n klerewinkel toegemaak het. Dit pas bo-oor die ronde eetkamertafel en werk heel goed, behalwe dat van die stukkies aan die katte se pote vassit as hulle oor daaroor loop. (Natuurlik gaan hulle daaroor loop – ounooi moet deeglik besef sy is net ‘n gas en eintlik behoort hierdie hele gebied aan hulle.)

Hoekom hou ek so van hierdie tydverdryf? Dis lekker as die stukkie wat mens gedink het daar moes kom, netjies inpas en nog ‘n deeltjie van die geheelbeeld onthul. Uiteraard peins ek oor die figuurlike toepassing van hierdie letterlike aktiwiteit. Hoe maak ek sin van my deurmekaar lewe, versplinterd in ‘n duisend stukkies? Waar pas hierdie verwarde jaar? Wanneer word die heel laaste stukkie ingepas…
Ek is ook n legkaart bouer. Ek koop darem nie 1500 stukkies nie, dis te veel. Ek bou op my eie en geniet dit om so te sit en mik en pas. As ek huise oppas vat ek altyd een saam om ekstra iets te doen. Ek het nou lekker saam met jou gebou aan die verlede en hede stukkies van jou legkaart. Gelukkig het ek nie katte wat deur my lewe beweeg nie. Op oomblik moet ek klein kinderhandjies weghou van die stukkies. Nou die dag vir Bea n legkaart gekoop wat sy gebou het. Dis te oulik. Hul het die stukke in verskillende vorms gesny wat dan op die agterblad gesit word bo-op daardie vorm ook. Hul leer dus vorms en ekstra woorde ook. Jy moet maar n foto opsit as die een waarmee jy besig is klaar is. Geniet dit.
I used to love working on jigsaw puzzles with my grandsons. There’s nothing so satisfying as fitting that last piece in.
It’s nice to see you!
Hoe mooi trek jy die lewensdinge bymekaar, Frannie, met jou legkaart en met jou wonder.
Ek is lief om legkaarte te bou. Die probleem is om ‘n plek te vind waar dit vir ‘n paar weke kan staan! Ek hoop al jou planne om huis toe te kom gaan vlot loop.
Wat is tog nou lekkerder as om daai laaste puzzle blokkie in te sit,né.
” … Wanneer word die heel laaste stukkie ingepas… ”
Daardie vraag is die onderbou vir baie van vuurklip se skrywes.
Ek het ook herinneringe van legkaart bou. Met my vroeë jare se speelskool het ek my eie geplak en gesny met ‘n houtwerkmasjien. Later het my ma haar kleinkinders rondom die tafel gekry en is daar legkaart gebou. Ouma se “birds of paradise” legkaart moes dmv ‘n lootjie trek na 1 van die niggies toe gaan. dit was die laast een wat saam met haar gebou is en almal wou dit hê. Nou het hierdie ouma klaar 2 babalegkaarte gekoop vir die kleinkinders as hulle kom kuier.
Ja wanneer word daardie laaste stukkie ingesit. Legkaartbou is heerlik; ons het altyd ‘n 1 500 stuk legkaart saamgeneem op vakansie. Partykeer het almal saam gesit en bou, ander kere het die een wat lus was sommer alleen sit en bou.
En so lyk elkeen se lewenslegkaart anders
Kry ek nou ‘n knop in my keel…
Ek hou ook baie daarvan om legkaarte te bou, maar het dit lanklaas gedoen!
Mens kan dit net doen as jy ‘n oorvloed tyd het!
Dis ook weer waar! 😊
Sjoe! Dit klink so lekker as 2 dit saam doen. Dalk moet ek dit probeer!