Dankie, Scrapy, vir jou uitdaging.

My pa was baie lief vir my, ek was vir hom ‘n bron van vreugde en vermaak. Ek onthou hoe hy eendag gelag het toe hy na my breë, plat voetjies gekyk het, “sandtrappers” het hy hulle genoem. Die spasies tussen my tone het hom geamuseer.

Nie vir my nie! Dit was altyd moeilik om skoene te kry wat breed genoeg was om al daai toonspasies te akkommodeer en kort genoeg om nie van my hakke af te glip nie. Te wyte aan die modieuse skerppuntskoene van my jeug sit ek vandag met toonknobbels. As ek ooit die brein agter die Suid-Afrikaanse skoennaam “Froggies” ontmoet, sal ek daardie persoon se voete uit dankbaarheid soen. Nou is daar darem mooi skoene wat gemaklik pas.

Ofskoon skoene nooit vir my ‘n passie was nie, onthou ek tog hier en daar ‘n besonderse paar. Seker die mees uitspattige skeppinge wat ek ooit gedra het, was ‘n paar sandale iewers in die sewentigerjare van die vorige eeu. Dit was dik houtplatforms met leerlelle daaraan vasgekram, wat oor die brug van die voet met leertoutjies opgeryg het. As ek straat-af gepiekel het, het ek kompleet soos ‘n perd geklink.