
Kry Frannie toe ‘n WhatsApp van Silver – Kameel het vir hom haar nommer in die VSA gegee: “Hei, Frannie, kom ons gaan ry Route 66 op my Harley. Google bietjie, dan laat jy my weet.”
Frannie begin googleloer en hou van wat sy lees: “The old highway is a road of dreams, a corridor of neonsigns and gaudy roadside attractions.”

Highway 66 is reeds in 1926 oopgestel, deel van die ou VSA-hoofwegstelsel. Dit was oor die 2000 myl lank en het van Chicago, Illinois deur Missouri, Kansas, Oklahoma, Texas, Nieu-Meksiko en Arizona, tot aan die kus van Kalifornië gestrek. In 1985 is dit amptelik van die hoofwegstelsel verwyder nadat die nuwer Interstate Highway System dit vervang het.
Ondernemings in klein dorpies langs die roete het voorspoed beleef danksy die swaar verkeer op ‘n hoofweg wat oos en wes verbind het. Wedywering om klante te lok en aandag te trek het vir die wonderlikste advertensiefoefies gesorg. Soos wat die groter deurpaaie oorgeneem het, moes baie van hierdie besighede toemaak. Gelukkig het gemeenskappe ingespring om die betowering van die ou roete te behou en dele van die oorspronklike roete is vandag toeganklik as “Historic Route 66”.
Die ikoniese highway shield, met dieselfde buitelyn as ‘n polisiewapen, is orals langs die pad te sien, net soos die Stars ‘n Stripes wat die patriotiese Amerikaners so graag tentoonstel.

Daar is verlate gas stations met outydse pompe, American diners wat jare gelede reeds toegemaak het, genadiglik ook eetplekke wat steeds kos bedien, soos Mr D’s Diner in die woestynlandskap van Arizona.

In Oklahoma bied die nuwe Pop’s Restaurant ‘n keuse van 700 geure soda, dit wil sê gaskoeldrank. ‘n Reusekoeldrankbottel, toevallig 66 voet hoog, skyn saans soos ‘n reënboog danksy LED-ligte.
Iets besonders is kolossale veselglasbeelde (18 tot 25 voet hoog) wat vroeërjare gebruik is om aandag te trek en te adverteer. Van die beelde het motors se knaldempers vasgehou – vandaar die bynaam “Muffler Men”. Die oorspronklike gietvorm se linkerhand het ondertoe gewys en die regterhand boontoe. Verskillende voorwerpe is dan in die hande ingepas. Van die beelde is ook spesiaal aangepas, soos Chicken Boy wat aanvanklik bo-op die dak van ‘n restourant was wat hoender bedien het en Gemini Giant wat die 1960’s se belangstelling in ruimtevaart verteenwoordig het en voor die Launching Pad padkafee staan. Die restaurant is in 2019 heropen nadat dit jarelank toe gestaan het.

Daar is ook ‘n yslike pienk olifant en ‘n blou walvis langs Roete 66 te sien; Cadillacs waarvan die neuse in die grond begrawe is; ‘n motel met sement-wigwams as kamers; enkele “world’s largest”-voorwerpe – “Welcome to ‘merica!”

Frannie WhatsApp terug: “Ek’s in – kom laai my op in Pennsylvania. Wanneer en hoe laat?”
Reëlings word getref en sommer gou trippel Frannie met die voorste trappies af na die Harley wat in die huis se oprit sit en brul. Sy’s effens skrikkerig vir die langpad, maar wat – sy het mos nou darem al ‘n hele paar Suid-Afrikaanse draaie saam met Silver op sy Harley gegooi. Na ‘n vrolike groet wrooma hulle straat-af tot aan die onderkant van die bultjie waar hulle regs moet draai, op pad snelweg toe.
O wee… Of dit die weersiens is en of hy net vlugvoos is – Silver is nie sy gewone effektiewe self nie. In plaas daarvan om regs te hou, gooi hy ‘n wye draai en begin aan die linkerkant van die pad ry, reg teen die aankomende verkeer in. As hy besef wat hy aanvang, ry hy links van die pad af en die Harley kantel stadig om.
Frannie het haar vrekgeskrik. Sy sukkel regop en gooi haar helm op die grond neer. “Is jy BESIMPELD?” gil sy in Silver se besorgde gesig. “Die Amerikaners hou REGS!” Sy pluk haar rugsakkie terug oor haar skouers en begin briesend aanstryk terug huis toe. Silver staar haar verdwaas agterna, tel dan sy Harley met een woedende gebaar regop en kies koers in die teenoorgestelde rigting.
Frannie het nog nie weer van hom gehoor nie, maar volgens Toortsie swerf hy in die Overberg rond met ‘n verflenterde hippiebus…

Haha, so n blokskottel. Hy wil mos slim wees. Jammer jy kon nie die roete ry nie maar om aan die verkeerde kant te eees van wat ook al is net nie goed genoeg vir n towerin van fomaat nie.
Net toe ek nou baie opgewonde raak om van jou wedervaringe te hoor, toe maak Silver droog. Die blikskottel! Ek glo die Overbergers sal ń ogie oor hom hou, Frannie, hippie-bus en al.
Ha ha, jy maak my oggend Frannie! Maar dat si n silwer nou so deur die wind ksn wees. Ek dink jou arms om sy lyf het hom heeltemsl van koers af gekry
Hy rits heelwaarskynlik nou op Montague se Route 62 met sy Harley rond.😆
Ai Frannie, soos jy gesê het, dis ‘n hartseer verhaal.
Vrekkit…net voor jy nou terugkom SA toe…dit sou nou die hoogtepunt van jou vakansie gewees het! Hippie bus, nogals….gmmmpphhh
Oulik, ek sien ‘n storie kom ….
dis so oulik dat die dorpies self ingespring het en die pad aan die lewe gehou het. Daar is soveel verhale in die wêreld waar ‘n pad wat skuif besighede gemaak of geknak het.
Frannie, dink jy nie jy was ‘n bietjie oorhaastig nie? Sies tog, hy het hom seker vrek geskrik toe die verkeer verkeerdom ry.
Nee sien, die idee was dat hy agter my aan kom, al apologerende…
Mmm
Ai Frannie, dit klink na awesome idee, dalk het hy afkoel tyd nodig oor die verkeerde kant bestuur… Kan ek nou vir my sien hoe ruk jy vir jou op😀. Dis mooi roete daai, sodra ek my lisensie het is ek op hom verseker. Dalk tyd om ou Silver te wa en hoor hoe dit gaan in die mooie Kaap