Dankie, Scrapy, vir die inspirasie.

Dit was eintlik maar ‘n stoorkamertjie, met ‘n groot ingeboude kas en net genoeg plek vir ‘n divan,* maar daar was ‘n lekker groot venster wat nogal noord (!) gewys het. Dit was in die dae toe huise se vooraansig deur die straat bepaal is, maak nie saak hoe die son sy baan deur die dag gevolg het nie. My tannies se groot dubbelverdiepinghuis in Potchefstroom se vooraansig het wes gewys. Dit was ‘n pragtige ou huis, nog met die patroonplafonne – die enigste noordekamertjie het egter net ‘n gewone plafon gehad. Die res van die noordekant van die huis is deur die houttrap en ‘n stoep in beslag geneem, maar in daardie kamertjie op die boonste verdieping het die son in die winter heerlik geskyn.

Wanneer ons gesin by my twee tantes gaan kuier het, is ek en my boetie soos koninklikes ontvang en onthaal. Daar was boerekos, lekkers, my tannie Gertie se soetkoekies en Boerstra Bakkery se veerligte konfyttertjies. Die enigste voorwaarde wat ooit aan ons gestel is, was dat ons soetjies moes speel sodat ons nie my hoogs bejaarde ouma sou pla nie. Ons het heerlik op die groot dorpserf hopscotch gespeel en onder die groot eikebome op die sypaadjie akkerdoppies op die leivoor laat afdryf wanneer dit die straat se waterbeurt was.

Photo by Eriks Abzinovs on Pexels.com

Moeg gespeel, het ek in “my” kamertjie in die son gaan lê en van die tydskrifte gelees wat daar opgestapel was: die Reader’s Digest, Huisgenoot en Brandwag. O, en daar was die wonderlikste ding: ‘n pofferige bulsak op die divan, waarop ‘n kind kon spring sodat sy na daardie eerste lugontploffing stadig in die veresagtheid insak. Laatnag kon mens die treine verweg hoor fluit en jou verlustig in die geborgenheid van ‘n veilige slaapplek.

Daar was nooit enige twyfel oor wie in daardie kamertjie sou slaap nie, as die oudste het ek dit eenvoudig geannekseer. Ek onthou nou nog die gevoel van verontregting toe ek – reeds uit die huis uit – weer eendag saam met die gesin in Potch gaan kuier en agterkom dat die kamertjie van eienaar verwissel het: dit was nou my boetie se domein. Dit was my eerste ontnugtering met die grootmenslewe; dit was, helaas, nog lank nie die laaste nie.

* ‘n Deftige naam vir ‘n baie basiese bed met vier plat stukke yster elkeen soos ‘n u gebuig om die pote te vorm, wat aan die ysterraamwerk vasgesweis is. Die kettinkies wat in diamantvorms binne die raamwerk saam met ystervere gespan is om die mat vir die matras te vorm, kon vreeslik kraak en kreun as die bed al oud was.