Toeval? Nee – bestiering.

Lees voort

Advertisements

Om ma én ouma te wees

Sy is so dapper, my kind daar in die VSA. Sy moet ‘n ernstige operasie ondergaan en het gevra dat ek moet kom. Hulle koop die kaartjie…

Joshi is maar vyftien maandjies oud en wankelrig op sy beentjies. Sy gunstelingplek is op sy ma of sy ouma se heup, vanwaar hy dan met besliste gebaar en veeleisende uitroep kan beveel waarheen ons nou moet beweeg. Hy hou ook daarvan om soos ‘n seesterretjie aan sy pa se lyf vas te klou.

As die ma na haar kind in Amerika toe gaan, moet die kleinkindjie saam met sy sussie skooltjie toe. Watter kultuurskok gaan dit vir hierdie bedorwe brokkie wees!

Hoe kan ek my kind alleen deur hierdie dal laat gaan?

Die kaartjie is gekoop, die tyd loop uit. Ons probeer Joshi nou bedags dieselfde tyd te laat slaap as die roetine van die skool. Dis ‘n stryd.

Ouma kan nie genoeg kry van haar kindskindertjies nie. Saans sit sy en die kleutertjie styf teen mekaar na sinnelose kinderprogramme en kyk. Net voor haar vertrek, sal sy die liewe kindjie vertel waarheen sy gaan – Gabby het al met haar tannie op Skype gekuier. Bedags kyk ouma hoe Joshi reguit na die gevaarlikste plekke in die huis kruip en geniet die manier waarop hy sy koppie laat sak om ekstra vaartbelynd te wees. “Keplaks, keplaks,” maak sy handjies op die vloerteëls. Wanneer sy oor twee maande terugkom, sal hy nie meer kruip nie, hy sal die wêreld vol waggel op sy ou maer beentjies.

Maar my kind het my nodig…

Tuiskoms

Na vier weke sonder internet kan ek vanaand weer al my blogvriende sien – halloooo!

Laatlam het ‘n huis gekoop en ons is nou redelik reggeskik. Die hond het agtergekom sy kan blaf (trouens, sy lyk vir my groter, soos ‘n vis in ‘n groter visbak sou groei!) en die kat sluip nie meer vervaard rond nie. Die kindertjies geniet die buitelug en ouma adem die voorstedelike stilte in. Blaffende honde dan en wan is ‘n veel beter alternatief as Atterbury se nimmereindigende verkeer.

Drie weke het ons gewag en drie dae lank het Telkom se mense gearbei om ons weer internet-vaardig te kry.

Dankietog…

Verjaarsdagperske

Gistermiddag skraap ek al my moed bymekaar en ry in die rasende middagverkeer na die winkelsentrumpie toe waar die ou so op my geswets het. Daar’s ʼn groentewinkel daar – raserig, beknop en nou nie wat mens sou kon noem silwerskoon nie, maar met vars groente en vrugte in oorvloed.

Daar maak ek ʼn wonderlike ontdekking: wit kaalperskes!

Joshi het vandag sy eerste verjaarsdag gevier. Hy sit op my heup terwyl ek een van die sappige perskes in skyfies sny en klein-klein stukkies vir hom voer terwyl ek self lekker weglê. Nou en dan hou ek ʼn heel skyfie vir hom sodat hy met sy agt tande daarin kan byt.

Die geur van die perske beweeg met my kiewe langs tot in my neusholtes – dis ʼn heerlikheid wat mens eintlik nie kan beskryf nie. Ouma en kleinseun raak al hoe taaier…

Hoe geseënd is hierdie ouma tog!

x

Handvaardig? Helaas, nee!

Sy is ʼn kleine, fyne vroutjie, maar sy maak die wonderlikste smaakvolle behangsels, tafeldoeke, tafellopers en blindings vir ons kerkgebou: groot, swaar stukke wat nie deur die dimensies verswelg word nie en deurgaans bydra om warmte in die huis van die Here te skep.

My skoonsus het my skoonmammie se naaldwerktalent geërf; ek onthou hoe ek by haar gesit het terwyl sy in ʼn japtrap vir ons kleutertjie die mooiste broderie anglaise-rokkie gemaak het, wit met fyn matroosblou kantrandjies om die vrygewige valletjies, ʼn rokkie wat behoorlik opgedra is. Jare later het sy vir daardie einste dogtertjie se matriekafskeid ʼn droomrok van amberkleurige kant saam met ʼn vollengte sprokiesmantel gemaak. Vir my was daar (onder andere!) ʼn mosgroen aand-ensemble, met liefde geskep en met vreugde ontvang.

My jonger skoonsus het vir my ʼn vadoek borduur met “Sussa” langs ʼn vrolike mandjietjie blomme. Ook ʼn spierwit stel handdoeke vir my kleinkind Gabby – die kleinste handdoekie met “Ouma”, lint en ʼn hartvormige knopie versier.

Ek ontvang ʼn omgehekelde waslappie as blyk van waardering en verstom my aan die eweredige stekies.Die pragtige gebreide en gehekelde kombersies wat Dirkie op fb plaas, slaan my asem weg van bewondering.

Ag, as ek tog maar ʼn enkele talent self kon gekies het! Dan sou ek en juf. Bekker nie mekaar tot raserny gedryf het in die laerskool nie (die enigste naaldwerksteek wat ek tot vandag toe behóórlik kan doen, is komberssteek, nadat ek agt lang nate van ʼn prinsesstylrokkie moes omwerk – dankie, juffrou!) Op my mammie se Singermasjien het ek heerlik popklere gemaak vir my “teenager”-poppe en toe sy vir my ʼn eie masjien present gee, selfs ʼn rokkie of twee vir myself… Dit was egter altyd ʼn stryd: dinge gaan goed tot op ʼn punt en dan loop alles skeef, ek moet uittrek, niks wil werk nie en uiteindelik lê daar nog ʼn mislukte poging iewers in ʼn kas. Breiery het goed gewerk solank dit net ʼn reguit stuk was – die oomblik as ek moes verminder/vermeerder, het die ellende vol in die blom gestaan.

In die vloedgang van huishou en kinders grootmaak het ek moed opgegee: my 5-duime-gesukkel was net te tydrowend.

Verlede jaar toe my kleinseun op pad is, wou ek opsluit vir hom ʼn spoegdoek omhekel, maar had gʼn benul hoe om dit te doen nie. Toe gaan ek na die Kreatiwiteitsgroep by die kerk, want ek wis dáár is die voorvroue en raakvatters bymekaar. Gewapen met ʼn boek (“Alles oor hekel”), pen, blou gare en doek vra ek toe om hulp. Een dierbare vrou willig in om my te onderrig. Meewarig kyk sy na die moles terwyl ek sukkel. Uiteindelik seg sy: “Gee hierso, ek sal dit vir jou doen.” Sondagoggend kry ek toe die allermooiste omgehekelde doek terug – met ʼn fraaie skulpiesrand – ʼn spoegdoek wat enige ouma met trots oor haar skouer sal kan gooi!

Miskien is hierdie begeerte en onmag bedoel om my nederig te hou…

Brief aan ‘n ou kat

004

Beste Knersus (kan nie sê “liewe” nie, want jy was mos maar altyd nog ietwat van ʼn teef),

Jou dae is nou getel, ou kat. Jy is 19 jaar oud en mens kan dit sien aan jou maer flanke; hoor aan jou wanhopige gemiaau saans, wanneer jy in die hoekie langs die badkamerdeur sit en die hulpeloosheid van die ouderdom uitskreeu; voel aan jou pynlike gesukkel om op my bed te kom – jy spring lankal nie meer nie, dis nou ʼn geriatriese geklouter.

Dit voel soos gister (ja, dis ʼn cliché omdat dit so waar is!) toe jou nooi se vriendin en haar mammie amptelik by my kom toestemming vra het om vir haar ʼn katjie as verjaarsdagpresent te gee. Natuurlik het ek ja gesê, al was daar reeds ander katte in die huis. Hulle het die Junk Mail gefynkam en jou gevind. Ag, jy was nie juis ʼn mooi katjie nie – ek onthou dat ek jou grootgewens het omdat ek gedink het jy sou dan mooier wees. Toe nou nie…

Een van jou nooi se vriende het na jou verwys as “…that burnt cat” – ʼn baie goeie beskrywing. Sedertdien het ek al weer sulke katte gesien, maar jy was die eerste in my verwysingsraamwerk: gemengde vlekkies gemmer en swart dwarsoor jou lyf, met ʼn skewe, onopvallende blertsie wit op jou borskas en die eienaardigste verdeling van gemmer en swart op jou gesig, amper soos ʼn harlekyn. Mooi geelgroen oë, maar ʼn persoonlikheid met al die minder vertederende eienskappe van ʼn kat en baie min van ʼn kat se sjarme.

 

Ek onthou hoe dikwels ek my vererg het vir jou gegrom as ek dit durf waag het om – op my eie bed! – rond te vroetel. Jy grom glad nie meer nie, sou dit die sagtheid van die ouderdom wees, of bloot omdat grom te veel energie verg? Ek moet sê jy het verstommend verdraagsaam geword – my eenjarige kleinseun het jy gister toegelaat om oopmond teen jou ou flank “whaa-whaa-whaa” te dreunsing. Ouma het egter baie vinnig daardie speletjie stopgesit.

In jou lang lewe het jy saam met my rondgeswerf van die een meenthuis na die ander. Moederskap het jou so ontstel dat my hartskat Skoonlief jou kleintjies moes skoonlek en oppas daardie eerste nag, omdat jy pad gevat het en eers die volgende dag druipstert teruggekom het. Toe jou nooi ver weg – so ver! – gaan werk, het ek jou maar noodwendig geërf.

Op die een of ander manier het jy in Laatlam en sy nooi se harte ingekruip, soveel so dat hulle gevra het of jy deel van hulle huishouding kon word – ek was maar te bly om jou te laat gaan. Hulle het jou op die hande gedra en allerhande grappe rondom jou persoonlikheid geweef. Drie maal het jy saam met hulle getrek. Uiteindelik beland ons toe weer saam, toe hulle vir my onderdak aanbied. Hier sit ons twee nou, “oud en der dagen sat”.

Jy’s gelukkig, ou kat, want as jou lewe nog moeiliker word, sal jy ʼn genadige inspuiting kan kry…

‘n Sagte antwoord…

Vir die middeljarige, effe oorgewig, welvarende man in sy silwergrys Mercedes wat my gister voor die slaghuis so verskriklik en onverdiend gevloek het (ja, meneer, omdat ek bietjie doof is, kan ek baie goed liplees!): ek hoop dat die ding wat jou eintlik so radeloos woedend gemaak het, intussen uitgesorteer is. Vrede en liefde vir jou.

Sjaddap!

Geagte meneer Windlawaai, Soeperherou van die Mouterbaaik-brigade,

Jy is nie op die langpad nie; jy is nie op die snelweg nie; jy is op ‘n voorstedelike pad in ‘n WOONgebied, met woonstelle, meenthuise, ‘n ouetehuis en selfs ‘n hospitaal langs die pad, wanneer jy so windmakerig ‘n streep ekskrement in die vorm van geraasbesoedeling agter jou laat aansleep.

Og, as jy tog maar wis hoe jy hierdie ouma se siel versondig – en hoe sy jou verwens…

Drie-uur in die nag

Dit reën, die perfekte voorbeeld van die Weerburo se beskrywing “sag en deurdringend”.

Ek kyk by die venster uit, kry ʼn vlietende beeld van die wit kat wat in die geel buiteligte van die kompleks soos ʼn skim om die hoek verdwyn. Later, weet ek, sal sy deur die oop venster spring en met haar warm lyfie – waarskynlik ook met nat pootjies – op haar gebruiklike pos langs my kom lê.

Sluip kaalvoet die trap af om te gaan troostee maak, trap in die hond se piepie op die kombuisvloer en vererg my gruwelik. Vee op en foeter die brak toe sy kom ondersoek instel. Skrik my besimpeld toe sy een harde tjank gee – het ons nou die res van die huis wakker gemaak? nee, alles bly gelukkig rustig…

WhatsApp my dogter in Amerika en hoor hoe gaan dit. Lees op fb oor regsprobleme met: huurders en verhuurders, pa’s wat nie wil/kan onderhoud betaal nie, toesig oor kinders en bittere stryd tussen ouers en grootouers, siekverlof en werk en afdankings. Besluit vir die hóéveelste keer om hierdie bladsy te verlaat, dit raas net te veel in my rustige afgetrede wêreld, en besef dan dat ek die morbiede gerusstelling van ander mense se probleme waarskynlik sou mis.

Sien Dirkie is ook wakker – sy het die mooiste video van wuiwende papawers gepos. Is dankbaar dat ek net slapeloos is, sonder pyn.

Gaan blogs toe en haal in op my lees.

Sit die rekenaar en die lig af, rol rond.

Staan op en kom skryf…