Vir iemand wat oor haar lewe sit en mymer, is hierdie onderwerp nommerpas – dankie, Sonell!

Sovele gelukkige, geborge ure, dae, maande, jare het ek in my kindertyd op daardie voorstedelike erf aan die Wesrand deurgebring.  My ouers het huis laat bou en ons het daar ingetrek toe ek drie jaar oud was. Die erf was effe afdraand en verskriklik klipperig, maar my pa – Wes-Transvaalse plaasseun wat hy was – het ingespring en begin tuinmaak. Ek onthou ‘n yslike sif, skuins staangemaak, en grawe vol grond wat daarteen gesmyt word sodat die goeie grond op ‘n hopie deurval en die klippe daarteen afrol. Langs die garage het ‘n diep laag klippe gelê en aan die ander kant van die erf het my pa ‘n lang, lae wal met die klippe gemaak, bedek met die Wesrandse rooigrond, net reg vir ‘n willewragtig-dogtertjie om paadjies vir haar karretjies daarteen te skraap en modder-“garagies” te bou. Voor die agterstoepie het hy ‘n vlak terras met die klippe gebou, aan die een kant gestut deur ‘n lae sementmuurtjie om die helling van die erf te akkommodeer. Hierop het hy gras geplant, met naby die ogiesdraadgrens ‘n Acacia elata-boom – o, daardie boom!

Agter die grasperk (die geur van vars gesnyde gras…) was my pa se boord, waar hy die gate vir die bome deur ‘n kliplaag laat kap het. Laat November het die eerste perskes ryp geword en van daar af was dit een lange fees tot in Maart: een of twee bome elk van witperskes, kaalperskes, albertas, geelperskes; appelkose; geel en rooi pruime; vye en adamsvytjies; turksvye (agter die klipwal); granate; amandels en ‘n kweperlaning daar by die komposgat. (Sulke lekker latte vir my tuisgemaakte boog-en-pyle!) Ek het saam met my pa van boom tot boom getrek as hy die boord natlei, sit en kyk hoe die water by die blikkie voor die tuinslang se bek uitvloei (die blikkie het gekeer dat die waterstroom ‘n gat in die grond spoel) en deur die los blare, grassies en klein klippies syfer. Die een appelkoosboom het ‘n nommerpas-mik gehad waar ‘n klein vraat heerlik gesit en smul het aan die soet, ryp vrugte – vrugte wat mens bitter selde op ‘n winkelrak kan kry, rustig rypgemaak deur die liewe son self.

In die voortuin was daar rose (die geur van rose…) en eenjarige blomme wat my mammie gereeld in die huis gerangskik het; langs die huis was ‘n prieel met glippertjies, kristaldruiwe en hanepoot. Teen die garage was daar ‘n halfronde sandput, waar ek en my maatjies die heerlikste uitgrawings kon maak. Twee kante van die tuin was begrens met ‘n hakea-laning wat streng gesnoei is. Daar kon ek inkruip en na hartelus wegkruip.

Hoe modderig en stowwerig en taai moes daardie rabbedoe van ‘n kind soms gewees het! Maar ek het toe nog nie geleer om vuil raak te sien en te gril vir stof nie. So geseënd, só geseënd was ek…

Seën deur Rabindranath Tagore (eie vertaling uit die Engels Benediction)

Seën hierdie hartjie, hierdie rein siel

wat die kus van die hemel vir ons aarde ingewin het.

Sy is lief vir die sonlig, sy is lief vir haar mamma se gesig.

Sy het nog nie geleer om vir stof te gril

en om goud te begeer nie.

Druk haar teen jou hart vas en seën haar.

Na hierdie land van ‘n honderd kruispaaie het sy gekom.

Ek weet nie hoe sy jóú tussen die skare uitgekies het, na jou deur toe gekom het,

en jou hand gevat het om te vra hoe sy moet loop nie.

Sy sal jou volg, laggend en babbelend, sonder enige twyfel in haar hartjie.

Behou haar vertroue, lei haar op ‘n gelykpad en seën haar.

Plaas jou hand op haar voorkoppie en bid dat, al raak die golwe

daar onder diep en dreigend, daar nogtans asem van bo af sal kom

om haar seile te vul en haar na hemelse vrede te voer.

Moet haar nie in jou haas vergeet nie, laat haar toe in jou hart

en seën haar.

Om die inskrywings van verskillende bloggers in die Lê-Jou-Eier uitdaging te geniet of om self ‘n blog wat jy geskryf het aan te heg by hierdie skakel, klik op die InLinkz-skakel:

http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=781922

Vir die reëls van hierdie uitdaging, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposts Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).