person carrying black cat

Photo by Helena Lopes on Pexels.com

Vandeesweek se uitdaging is om Bondels Gedagtes se storie klaar te skryf. Ag lekker – ‘n storie oor ‘n kat!

Magrieta het ‘n wesenlike probleem. Die vraag is nie wat die probleem is nie maar hoe dit gaan eindig!

Om die storie te verduidelik, moet ek eers die ” set up” verduidelik. Sy bly op ‘n plaas met twee woonhuise. Sy self bly in ‘n pragtige woonstel wat aan die een huis vasgebou is. Alhoewel die woonstel piepklein is, is dit pragtig en pas perfek by haar persoonlikheid en die seisoen in haar lewe. Sy is gelukkig en tevrede. Daar is niks in haar kleine huisie wat haar ontstel of pla nie. Daarvoor sorg sy en hou alle onnodige spanning en komplikasies uit die veilige hawe wat sy vir haarself geskep het. Indien sy geselskap nodig het, is dit binne bereikbare afstand. Andersins is sy heerlik privaat en op haar eie. Maar wag, hoor ek “Jaws”se doem doem doem doem….. in die verte? Of nee wag, eder ‘n gepiep piep piep, of wag ‘n miaaauuuuu?!?

Dis reg, ‘n rot. Nie ‘n muis nie, ‘n ROT! Genadelik is die eienares van die plot gaaf genoeg om ‘n kat vir haar te leen as teenvoeter. Dis haar beste muisvanger en sy bring dit sonder verwyl oor. Kat het egter die hele doel van die oefening gemis.

Magrieta is nie groot gemaak as diere liefhebber nie en veral nie van katte nie (Diereplesiere). Daar het egter al twee diere vir Magrieta die loef afgesteek. Alhoewel Magrieta nie net wil misbruik maak van die kat nie, wil sy eintlik maar haar afstand handhaaf. Net vir ingeval. Kat het egter haar eie prentjie en volg haar eie kat natuur. Sy is onder die wan indruk dat Magrieta spesiaal vir haar wat Kat is, se plesier daar. Kat dring haarself met mening op aan Magrieta. Waag Magrieta om te loop, is Kat daar. Tree vir tree, soveel so dat sy kort kort oor Kat struikel. Dis ‘n gepurrr en geskuur en getrap en wie weet wat mens al die manewales moet noem. Purrr jouself sê sy maar Magrieta se hart wil wil vermurwe. Waar sy op haar bed sit, laat sak sy kort kort haar hand en vryf Kat se kop. Kat is in die sewende hemel en trek Magrieta se hand nader met haar poot wanneer Magrieta ophou vryf. Daar is ‘n lastige gevoelentheid wat krap krap aan Magrieta se hart. Dit lyk egter of die kat oefening gewerk het omdat rot nie weer sy astrante opwagting gemaak het nie. Hopelik verkeer rot onder die wanindruk dat Kat ingetrek het, soos in permanent. Behoede my!!

Magrieta is baie bly. Met rot uit die pad, kan Kat ook verkas. Vir sy alewige gekerm en geskuurdery sien Magrieta ook net nie kans nie. Sy voeg ook dus daad by die woord en vat Kat terug na die Hoofhuis toe net die volgende oggend. “Terloops, wat is Kat se naam?”, vra Magrieta. “Magriet”, antwoord die eienares. Magrieta se oë rek so bietjie. Sy groet en loop net om te sien Magriet volg haar. Magrieta gaan staan stil en verduidelik vir Magriet dat sy moet bly. Magriet se kyk spreek boekdele. Iewers hoor Magrieta die klanke van “maaaaaaar die kat kom weer want …” en sy gee ‘n lang mismoedige sug.

Vroeg die volgende oggend (nog donker), terwyl Magrieta bietjie koester tyd met Abba geniet hoor sy ‘n baie onwelkome geluid. Eers probeer sy dit ignoreer maar dit word net dringender en sy spits haar ore. Jip, dit Magriet, die Kat. Miskien as ek stil sit en lank genoeg wag, gaan sy weg….

Magrieta se mercy hart kom in die pad en sy struikel. Dis koud buite sê haar hart, siestog arme Magriet (nogal soort van naam genoot). Maar ek bid en kat gaan pla, probeer Magrieta haarself verweer. Die geveg binne Magrieta is groot. Alle snoesige koesterende vrede het soos mis in die son verdwyn. Magrieta het nie komplikasies soos Katte in haar lewe nodig nie. Dis katkos en aandag en kathare orals en ‘n Pasela papegaai wat buite op sy hok sit wat toutrek met ‘n mercy hart. Magrieta probeer haar hart verhard en sê neeeeeeeee……..
Gebruik kursief en ‘n ander kleur ink om jou gekose einde te skryf.

Die gemiaau verander in bloeddorstige gromgeluide, ‘n gesis en geblaas. Neewat, met so ‘n geraas is daar geen sprake van verdere stiltetyd nie. Met ‘n sug staan Magrieta op om te gaan kyk wat daarbuite aangaan.

Magriet het sowaar ‘n rot teen die muur vasgekeer! Dis ‘n bielie van ‘n rot, sy slagtande blink in die dowwe oggendlig. Magrieta gryp die eerste die beste wapen – ‘n graaf wat sy na gister se tuinmaak sommer buite teen die muur staangemaak het. Blind van woede en gril slaan sy na die rot. Die ondier skarrel om die hoek, maar Magrieta se woeste hou tref…en verbrysel die kat se kop.

In totale ongeloof staar sy versteend na die stuiptrekkende diertjie terwyl die lewe uit haar uit wegsypel. Sy sien hoe sy die kat se nooi moet gaan vertel dat sy – sy, Magrieta, wat nie eens ‘n spinnekop kan vrekmaak nie! – haar geliefde kat vermoor het. Sy sien hoe haar bure hier op die plaas haar met wantroue aankyk, hoe sy as katmoordenaar die lewe van ‘n uitgeworpene lei… Al die vrede wat sy met soveel moeite om haar bymekaargeskraap het daarmee heen – nee! Dit kan nie, dit mag nie gebeur nie! Sy sal moet plan maak, op die een of ander manier hierdie ramp moet beredder.

Die eerste stap is om van die verdoemende getuienis van die katlykie ontslae te raak. Sy gryp die moordwapen, gaan grawe ‘n graffie onder die ou peperboom. Met trane van skuld en verwyt lê sy die slap lyfie neer en gooi Magriet toe. Die geur van die klam grond slaan in haar neusgate op – hoe sal sy ooit weer kan tuinmaak sonder om hierdie afgryse te onthou? Sy strompel terug huis toe, gaan sit bewend en snikkend in die kombuis met ‘n koppie warm, soet tee.

Die suiker help niks vir die skok nie, haar gedagtes maal al in die rondte. Wat nou? Sal sy gaan bieg? Of dalk ‘n plaasvervangerkat by die DBV gaan soek? Swart katte kry glo moeiliker huise as die ander. Ja! Dis wat sy sal doen! Die eienares sal hopelik nie eens die verskil agterkom nie – Magriet was mos maar meestal in die skuur besig om muise te vang. Magriet die Tweede sal soos ‘n eregas in hierdie huis behandel word! Sy sal op die bed mag lê en altyd van daardie duur sakkies “nat kos” met die eksotiese geure kry om te eet. So kan hierdie aaklige situasie tog vir ‘n arme ou weggooikatjie ten goede uitwerk – so sit Magrieta en rasionaliseer.

Watse geluid is dit daardie? “Pirrnjiaau, pirrnjiaau…miaau?” hoor sy by die agterdeur. Magrieta se hare staan orent, die een na die ander koue rilling spoel deur haar lyf. Sy weet swart katte word, ten regte of onregte, met die donker kunste verbind – gaan Magriet dan nou by haar kom spook? So gou na die moord – kon die ellendige kat haar nie eers net so ‘n ou bietjie grasie gegee het nie??

Die gemiaau raak al dringender, word naderhand ‘n gegrom, gesis en geblaas. Dalk is sy in ‘n parallelle heelal? Sê nou net sy is ‘n genadige tweede kans gegun, sodat sy dié keer nie moord hoef te pleeg nie? Met lam bene strompel Magrieta na die kombuisdeur, ruk dit oop. Pasella die grys Afrikapapegaai sit op sy hok se dak, lustig besig om katgeluide na te boots.


Om die inskrywings van verskillende bloggers in die Lê-Jou-Eier uitdaging te geniet of om self ‘n blog wat jy geskryf het aan te heg by hierdie skakel, klik op die InLinkz skakel:

http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=785036

Vir die reëls van hierdie uitdaging, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposts Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).