Die eerste speletjie wat my byval toe Abrie hierdie uitdaging rig, is nie streng gesproke ‘n bordspeletjie nie, maar tog een wat onder dieselfde soort omstandighede gespeel is, nl. “Name, Vanne, Diere, Dorpe…” Elke speler kry ‘n stuk papier, sommerso uit ‘n ou oefeningboek geskeur, en skryf bo-aan as opskrifte van verskillende kolomme (krom en skeef met die hand getrek) die kategorieë wat gekies is. Die keuse is wyd, maar as mens Vrugte en Groente by die vier groepe van die speletjie se naam bygevoeg het, was die bladsy reeds vol. Mens kon ook saam besluit om bv. Name en Vanne vir meer uitdagende kategorieë te verruil. Op ‘n los papier word al die letters van die alfabet geskryf en omkring, sodat elke speler ‘n beurt kan kry om – met toe oë en ‘n potlood – lukraak op ‘n letter te druk. Dan moet almal ‘n woord in elke kolom skryf wat met daardie letter begin, bv. D: Delia, Dippenaar, Dinosourus, Dewetsdorp, Druif, Dop-ertjie. Elkeen skryf hulle punt in ‘n kolommetjie aan die einde van die ry neer en uiteindelik word al die punte opgetel om die wenner te bepaal. Elke aanvaarbare antwoord tel 5 punte, terwyl spelers wat dieselfde woord gekies het, elkeen net 3 punte kry. Dit beteken dat spelers hulle bes doen om ongewone woorde te kies. Die pret begin as elke speler hulle woorde voorlees en die deelnemers daaroor begin stry. So sou Dinosourus en Dop-ertjie bevraagteken kon word: Was daar regtig dinosourusse? Indien ja, is so ‘n versamelnaam aanvaarbaar, of moet mens ‘n enkele spesifieke dier noem? Is daar regtig ‘n verskil tussen ‘n dop-ertjie en ‘n gewone ertjie – m.a.w., het ou slimjan nie dalk hier ‘n groente beet wat eintlik met ‘n E begin nie?

Hoe voel ek nou weer die growwe sand van Scottburgh se strand onder my voete, sien ek die gesigte van my vakansiemaats daar in die rondawelkompleksie, saans wanneer ons deurdrenk van son en sout sit en speel het…

My Engelse maatjie onder op die hoek van die straat het ‘n pragtige “Chinese Checkers”-bord gehad: stervormig, met gaatjies waarin die albasters gerus het. Terwyl ons sit en speel, het die African Grey in die kombuis lustig al die gesinslede se stemme nagemaak – so lewensgetrou dat ons soms gedink het daardie persoon is regtig daar.

Met ons jaarlikse somervakansie in Jeffreysbaai toe die kinders klein was, was Monopoly ‘n groot gunsteling. Vroeg-vroeg was ons op die strand, want Jeffreys se allerverskriklike somerswind begin mos hier skuins na tienuur in die oggend waai en dan gaan skuil mens teen die sand wat jou kaal bene so geniepsig kan piets. Middae op die erge winderige dae het ons gesit en speel – tot op die dag toe ons die “bankbestuurder” betrap het dat hy heerlik sit en kroek… Daarna het ons maar liewers Slangetjies en Leertjies of Ludo gespeel.

Skielik onthou ek ‘n skaakspel teen Laatlam as laerskoolleerling, en hoe hierdie ma erg verleë daarvan afgekom het toe sy skaakmat gesit is – en dit nogal nadat sy haarself vermaan het om maar nie te ernstig te speel nie!

My eerste “matchmaking”-poging rondom ‘n aandete was ‘n klinkende sukses (‘n gelukkige huwelik en ‘n pragtige jong seun). Aangevuur deur hierdie sukses, beplan ek toe rondom Thirty Seconds ‘n volgende inisiatief, maar dié keer het dit nie gewerk nie. Ek is vandag nog spyt dat daardie twee introverte, wat my albei so na aan die hart lê, mekaar nie binne die reekse van dertig sekondes kon vind nie – die speletjie was ‘n ramp van onbegrip. Miskien is dit ook maar net so goed, anders was ek dalk vandag met die oormoed van twéé suksesse ‘n bemoeisieke ou tannie wat almal met almal probeer oplyn en afpaar.

Deesdae speel ek en my kleindogtertjie Gabby kleurvolle bordspeletjies wat op swaar karton in ‘n yslike boekvorm ingebind is (ietwat verflenterd, want die boek is oud, dit was haar pappa s’n). Sy is nou vier en ‘n half jaartjies oud en kan soos wafferse rekenmeester tel, maar sy sukkel erg om die strawwe en verlore beurte te verwerk – daar was selfs al ‘n toetentale tranedal omdat sy in ‘n “swart gat” beland het en moes wag tot sy ‘n 4 gooi om daar uit te kom! Die boek bevat ‘n Ruimtereis; Perderesies; tradisionele Slangetjies en Leertjies; ‘n Spinnerak waar die eerste speler wat in die middel van die web aankom, ‘n lekker vet vlieg mag eet (dankietog darem net denkbeeldig); die Muis se Huis, waar jy deur die hele huis hardloop om na kaas te soek; en les bes, ‘n soort Ludo (waarby ons gelukkig nog nie uitgekom het nie – dit hang soos ‘n swaard oor ouma se kop). G’n wonder die Nederlanders noem Ludo “Mens erger je niet” – dankie, Positief, vir daardie interessante brokkie.

As die meisietjie eers aan die gang is, speel ons dwarsdeur die boek in een sessie (Ludo voorlopig uitgesluit). Daarna is ouma pootuit. Ek vermoed vanaand is weer sulke tyd – dink aan my!

100_2499

Om die inskrywings van verskillende bloggers in die Lê-Jou-Eier uitdaging te geniet of om self ‘n blog wat jy geskryf het aan te heg by hierdie skakel, klik op die InLinkz skakel.

http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=784470.

Vir die reëls van hierdie uitdaging, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposts Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).