Vandeesweek het die taakspan van VONKK (“Voortgesette Ontwikkeling van Nuwe Klassieke Kerkmusiek”) hulle jaarlikse werkswinkel in Pretoria gehou. Ek het al hier vertel van dié inisiatief.
Die vergadering het met ’n spesiale opening begin: ’n huldeblyk aan die komponis en koorleier Cecilia van Tonder, wat op 28 Mei vanjaar oorlede is. Sy het ’n geweldige bydrae tot VONKK gelewer en telkens deur die drie dae is sy met liefde en heimwee onthou.

Om hierdie tafel is daar hard gewerk. Regs, buite die foto, staan ’n digitale klavier waarop die musici die nuwe melodieë beproef het. Intussen het die teoloë gesit en proeflees aan liedere wat reeds goedgekeur is en nou op pad is na die webwerf. Hoe mooi is die sang en die klavierspel van hierdie begaafde mense, hoe aangrypend hulle toewyding en eerbied!
Dis koud daar buite, maar hier is daar die warmte van gemoedelikheid; gedeelde belangstelling; digterlike en musikale talent in oorvloed; ook beskeidenheid, respek en wedersydse erkenning van mekaar se besonderse aanleg en vermoëns.
’n Nuwe lied kom op verskillende maniere tot stand. Soms is daar ’n melodie wat iemand graag in die kerk sou wou hoor. So het “Highland Cathedral” in ons kerk as “U is die lig wat deur die donker skyn” tereg gekom. Indien nodig, word daar groot moeite gedoen om die kopiereg op so ’n melodie te bekom. Ander kere lê ’n digter ’n gedig voor vir toonsetting. Partykeer ontvang die taakspan ’n volledige lied, met woorde én melodie.
Dis egter nie net vir dig en komponeer nie; daar is verdere streng vereistes, want in die eerste plek word hier liedere geskep wat gemeentes moet kan sing – die voorsitter praat van “timmerwerk” as daar aan ’n melodie geskaaf moet word. Van ’n taamlik hoë noot, sê hy: “Ek kan in elk geval nie daar sing nie, maar wat – ek dink net aan die ander.” Of: “Ek het altwee melodieë daar ingesit, dat mense kan besluit wat wil hulle doen.”
Daar is ook strategiese oorwegings: Die liedereskat van VONKK tel reeds oor die 500, dus word daar nou gefokus op leemtes – oor watter temas sou predikante graag nog liedere wou hê? ’n Opmerking laat mens besef dat daar deeglik gedink word: “As dié melodie gesing word, ontsluit dit onmiddellik drie minder bekende liedere in die Liedboek.”
Benewens wye ervaring, beskik die taakspan ook oor jeugdige stukrag, en dié kombinasie is ’n wenresep. Dis wonderlik om te sien hoe ’n gesoute woordkunstenaar ’n nuwe bydraer se woorde effens skommel sodat die klem reg val en die rymskema werk; hoe die vergadering met goedkeuring ‘n koorverwerking deur ‘n nuwe lid aanvaar.
Self is ek maar ’n passassier, daar om punte en kommas te versorg, maar ai, watter voorreg is dit om deel van hierdie geselskap te wees.
Wat n heerlike ding om tw doen! Ons eie Toortsie het nou baie mooi Afrikaanse woorde vir n baie bmelodie geskryf. Jy kan haar gerus laat weet how sy te werk kan gaan om dit by julle vir oorweging te kry.
Sal so maak, dankie!
Hoe interessant! Dankie vir die lekker sang vanoggend. My seun speel ‘Highland Cathedral’ op sy doedelsak 🙂
Ai Anne, die eerste keer toe ons die lied in die kerk gesing het, was daar ook ‘n doedelsakspeler saam met die orrel – dit was aangrypend mooi.
Sjoe, jy is beslis bevoorreg om saam met sulke begaafde mense te kan verkeer en saam te leef met wat hul doen.
Ek is regtig dankbaar, Scrapy! Hoe gaan dit met jou – kom vertel ‘n bietjie, toe?
Jong daar het sooooo baie gebeur die laaste paar maande. Ek het nooit tyd gehad om als neer te skryf nie waaraan ek nie gewoond is nie. Ek hou daarvan om tenminste die belangrike dinge van n dag aan te teken. Dit was eintlik was alles meer n nagmerrie as n aangename belewenis. My hart het op ‘n stadium amper gaan staan van spanning. Moes myself net regruk om weer by te kom. Nog nie heeltemaal reg maar werk daaraan. Hopenlik sal die lewe nou stabiliseer. Sal een of ander tyd weer begin skryf en vertel.
Dit moes ‘n uiters moeilike tyd vir jou gewees het. Ek sien uit na die dag wanneer jy weer voluit aan die gang is hier op jou blog.
Ek ook!. Stadig maar seker is die lus besig om terug te kom. Mis jul alger baie.
Liefde en groete hier van my af ook.
Dankie Lolla.
Dit is ‘n lieflike lied. Ons sing dit gereeld in ons gemeente.
Die mense van VONKK sal bly wees om dit te hoor.
Dit is ‘n baie mooi lied Tannie Frannie – dankie vir die deel. En al sit Tannie dan nou ook net die kommas en punte op die regte plekke, dis geen mindere taak nie … wat ‘n voorreg!
Hierdie mense laat my spyt voel dat ek so lui was om klavier te oefen!
Dit klink na ‘n heerlike ondervinding
Dit was, Bondeltjies – ek het sommer weer moed vir hierdie koue dae.
Moenie jou eie taak geringskat nie Frannie! en dit klink lekker om deel te wees van so ‘n skeppende span.
Dit is regtig lekker – hulle harte is vol omgee.
Sjoe dis ‘n mooi lied
Die wysie speel al die hele dag in my kop en dit maak my nie eers moeg daarvoor nie!
Sjoe Frannie….daar leer ek alweer iets. Mens neem vanselfsprekend aan dat die liedere net daar is. Dis ongelooflik!
Enigiets wat die moeite werd is, het mos maar moeite nodig 🥰
Dis nou vir jou interresante storie
Baie bly dat jy so dink.
Ek sal bitter graag my hande op daai nuwe melodieë wil lê
Gaan na http://vonkk.kerkmusiek.co.za/ en klik op FAQ om besonderhede oor die lisensie te sien. VONKK val onder Bybel-media en jy sal meer daaroor kan lees op hierdie webwerf.
Ekself speel Highland Cathedral op die orrel. Hemelse klanke