My vriendin H is baie lief vir boeke. Verlede week het sy vir my die wonderlikste boek laat aflewer. Ek knip die koerier se plastieksak oop. Binne-in die volgende deeglik toegeplakte koevert waarop haar en my adresse sorgvuldig uitgespel is, wag die boek, toegedraai in geskenkpapier op die koop toe – want H doen dinge nooit half nie. Op die binne-agterblad is haar gebruiklike “aan”-inskrywing, in haar bekende en geliefde handskrif.

Bewaar die knikkertjie is saamgestel deur Myra Lochner en in April vanjaar deur KREATIV SA (Posbus 4404, George-Oos, 6539; http://www.kreativ.org.za) in George gepubliseer. Dit beslaan bykans 150 glansbladsye, keurig uitgelê, gelaai met volkleurprente en -foto’s, vertellings en gedigte.

In die inleiding verduidelik die samesteller die ongewone titel soos volg:

“Die titel van dié Toek-A-frikaans-publikasie, Bewaar die knikkertjie, was ’n gunsteling-sêding van ouma Rita Lochner, wat altyd wanneer sy kom kuier het, lekkertjies in die kleintjies se gretige handjies geplaas het met die woorde: ‘Toe met die ogies!’ en dan: ‘Bewaar, bewaar die knikkertjie, dat geen kat of muis daarby kom nie.’” Ek ken die woord “knikkertjie” van g’n kant af nie en gaan soek in die Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Die WAT vertel uitvoerig van ’n pantspeletjie waarin die een wat aan was, elke keer laasgenoemde frase gesê het terwyl hy in ’n kring maats sy hande, waarin ’n “knikkertjie” gehou word, deur elke maat se hande trek. Iewers sou hy die knikkertjie ongemerk in iemand anders se hande oorgee en as hy die kring voltooi het, het die raaispel begin: wie bewaar nóú die knikkertjie?  

Die knikkertjies in hierdie pragboek word beskryf as herinneringe “…wat as ’n kleinood diep in die hart gebêre word, maar wat ook oorgedra word van geslag tot geslag. … Benewens hegte gesins-, familie- en vriendskapsbande, is daar ook die onthou-en-hou-knikkertjies van erenaam, gunstelingdis, kleding-/juweelstuk, troeteldier, hartland en geboorteplek.”     

H is een van die bydraers en heel eerste soek ek na haar en haar mense. Daar sit my liewe vriendin met haar kleindogtertjie in haar arms; staan sy by haar dierbares – haar liefhebbende man, hulle twee seuns, haar “kosbare skoondogter … en ’n sterrekindjie … om die kring te vergroot”. Die foto van die skoentjies wat H “ouma-getrou” vasgehou het terwyl haar kleinkindjie aan God toegewy is en H se aangrypende gedig “Met vaste tred” wat uit daardie dag voortgespruit het, laat my diep bewoë…

Vir my oumahart is dit louter vreugde om verder deur die boek te blaai; hier en daar te lees en dit uiteindelik van hoek tot kant te verslind. Hier in Blogland is ons ’n hele klompie oumas, wat graag vir mekaar van ons kleinkinders vertel en oor mekaar se familievreugdes lees. Bewaar die knikkertjie het egter nóg ’n perspektief, vir my ’n ongewone invalshoek, want herinneringe aan oumas en oupas word ook hierin beskryf: ’n Kleinkind wat saam met haar oupa pruime en vye pluk en net daar onder die boom staan en eet; die oggendpsalms van Ouma en Oupa; die hond, kat en makou wat ’n ander oupa bushalte toe vergesel het en ewe “doodluiters en gedweë weer teruggeloop [het] huis toe”.

Die voorbladkuns is ’n sewejarige kleindogter se portret van haar vriendelike oupa met die onderskrif “Oupa lag altyd” – watter wonderlike getuigskrif. ’n Mooi blom-en-blaarmotief dien aanvanklik as agtergrond vir ’n motto en verskyn dan hier en daar dwarsdeur die boek, om die leser telkens aan die aanvanklike gedagte te herinner:

As tyd jou pootjie,

Moenie verder stap:

Betrag die kleine miertjie

Waarop jy dikwels trap.

Myra Lochner

Op dieselfde bladsy word die boek opgedra aan “voorsate, tydgenote en nasate, wat deur herinneringe in ons leef”. Daar is ’n uitvoerige inhoudsopgawe wat dit maklik maak om in die boek rond te beweeg en waarmee kennelik moeite gedoen is.

Benewens die temas waarby my hart so aanklank vind, maak die keurige Afrikaans van die begaafde skrywers en digters my innig bly. Dankie, my liefste vriendin, vir hierdie wonderlike “knikker”.