Die Oujaar is nooit my maat nie. Toe ek ‘n kind was, was daar Oujaarsdienste wat om 23:00 begin het, sodat ‘n mens om middernag in intense, eerbiedige stilte daar in die kerk die nuwe jaar kon binnegaan.

Laterjare was daar paarties – maar maak nie saak hoe hard ek probeer het nie, die onderliggende heimwee kon ek nooit behoorlik ontvlug nie.

Daar was ‘n heerlike Oujaarsdans in Mosselbaai, opgevolg deur middernagtelike geswemmery en ‘n vars hamburger wat ‘n wildvreemde hand deur die venster vir my aangegee het toe ek “Yes!!” geantwoord het op sy vraag: “Would anyone like a hamburger?”

‘n Gesellige braaivleis op Klapperkop het uitgereën, maar die skouspelagtige weerligstrale oor my geliefde Pretoria het daarvoor vergoed.

Daar was skrynende hartseer tussen baie vreemde mense terwyl ek ‘n vonkstokkie vashou en “Sal ons ou kenn’se” saamsing.

Op die vooraand van 2020 het ek saam met my kinders in die VSA en van hulle vriende gekuier en domino’s gespeel tot middernag toe. Dit was groot pret, maar in die lig van wat daardie jaar met die wêreld gebeur het, het ek vroeg gaan slaap op die volgende Oujaarsaand, wat 2021 ingelui het.

Hoe nou gemaak met vanaand? Die heeldag al is ek net eenvoudig befoeterd, probeer ek werk met klein Joshua se knaende geselsies wat my konsentrasie versteur. Ek hardloop buitentoe in my pijakkies om die asblik uit te sit, want die kinders slaap laat en die vullislorrie is vroeg. Ek vererg my vir die motorhek wat nie behoorlik werk nie, vir die pap vlieë, vir die hitte van die dag…

Net voor ‘n donderstorm vanmiddag welkome lafenis bring, bel Kameel. Watter heerlike verrassing! Dis die eerste keer wat ons oor die foon gesels en haar mooi wense vir die nuwe jaar gee my sommer moed vir 2022. Ek begin my seëninge tel…

Ek weet nou nog nie of ek vanaand gaan wakkerbly nie, maar ek weet wel dat ‘n gunstelingblogger my op hierdie Oujaar moed gegee het. Daarom wens ek julle almal graag ‘n hoogs voorspoedige 2022 toe. Dankie vir julle skrywes, vir die deel van vreugde en verdriet. Julle is kosbaar.