Dit sous. Dit lyk asof iemand in die wolke aanmekaar derduisende emmersvol water oor ons omkeer. Halfvyf op ‘n somersmiddag en dis amper donker. Reg bokant ons blits die weerlig en rammel die donderweer so te sê tegelykertyd. In die tuin val ‘n dooie boom bo-oor die klimraam om; in die kombuis stroom die reënwater dwarsdeur twee kaste deur ‘n voorheen onbekende lekplek waar ‘n dakteël geskuif het. Maar in Gauteng mag mens nie oor reën kla nie.

Onder ’n afdak is my skoondogter besig om spaghetti oor ‘n vuurtjie in die Weber te kook. In die kombuis het sy maalvleis op die gasstofie aan die gang, gemaak met geurige gekapte groente wat haar pa gegee het toe sy gister die kinders by haar ouerhuis gaan bad het.
Vandag is die derde dag wat ons sonder krag sit – ‘n substasie het afgebrand, daar is straatgerugte van sabotasie. Nuwe besems van die stadsraad hou ons ingelig en dit help nogal, al is die nuus strykdeur sleg: die prognose is nege dae sonder elektrisiteit. Laatlam is iewers in die strate op soek na ‘n garage wat nog olie vir die “gennie” in voorraad het – hier in ons buurt is alles uitverkoop. Dankietog vir die kragopwekkertjie, wat ‘n onlangse aanwins is, al raas hy soos ‘n trekker en kan hy nie eens ‘n ketel kook sonder om uit te klink nie – ten minste sorg hy vir wifi so af en toe. En hy maak Joshua (5 jaar oud) se hartjie bly want dis nog ‘n masjien waaraan die kleinman hom kan verwonder.
So in die strome reën is Joshua besig om met die pienk sambreel en moddervoete heen en weer tussen die huis en die afdak te loop om “seker te maak of mamma okay is”. Sussie Gabby staan by mamma in die koue en hou vir haar en die spaghetti dop. Ouma dwaal bekommerd in die huis rond…
‘n Jaar gelede was ouma in Amerika, die “land of plenty”, waar ‘n sneeuskraper binne ‘n uur nadat dit begin sneeu het, reeds op en af in die strate jaag om die paaie skoon te skraap. Daar gebeur kragonderbrekings slegs vanweë natuurrampe en vullislorries met ‘n bemanning van een ry gereeld alles weg wat op die sypaadjie uitgesit is, al moet die bestuurder uitklim en voorwerpe wat die lorrie se knypers nie kan vasvat nie, self oplaai. Die kersboom was opgeslaan en versier, met talle mooi toegedraaide geskenke op die vloer onder sy takke, op die rooi kersboomvalletjie waar Midnight die kat so graag lê. Buite was daar skilderagtige sneeu; binne was daar vredige stilte of andersins kersliedere.
Hier donder die weer en die kragopwekkers brul. Die vet reëndruppels druis op die dak, hoor en sien vergaan. Daar was nog geen kans om ‘n kersboom te versier nie, ons is te besig met noodplanne vir oorlewing. Wat kersgeskenke sou gewees het, is nou duur petrol en olie vir die raasbek in die garage. Ouma se blogtyd is erg aan bande gelê en wanneer daar wel sein is, moet sy in die sitkamer gaan sit en te midde van die gesinsgeroesemoes probeer dink.
Maar vanaand vergryp sy haar aan die lekker spaghetti bolognaise wat haar slim dogter gemaak gekry het.
Voorwaar, Afrika is nie vir sissies nie. Dankietog vir voorgeslagte van Hugenote, Voortrekkers, grootwildjagters, bittereinders en ander hardkoppiges!
Ons het weer twee beurtkragbeurte op die hemelse Sondag en die kragopwekker is ook ‘n raserige redder. Ek hoop die kragloosheid wyk gou. Veilig bly.
Dankie, Vuurvliegie. Janee, ten minste lag ons op die oomblik vir beurtkrag…
So kragopwekkertjie giggel. 😉Sterkte.💝
Dis erg, ja. En vir ‘n groot deel van ons bevolking gaan dit vir jarre en jarre.
Sjoe: ons het ook vanmiddag weerlig en donderweer saam met regte egte 30mm reën ervaar – wat ‘n wonderlike gebeurtenis in hierdie deel van die land waar dit vir jare lank al so droog is! Binne die huis was dit so donker ons moes die ligte aanskakel … vir een of ander rede het die beurtkragbeurte van oggend en vanmiddag nie plaasgevind nie – ‘n wonderwerk. Afrika is nie vir sussies nie en ek hoop julle krag voor nege dae herstel sal word!
Sjoe sterkte tannie Frannie. 9 dae is nie grappies nie. Bly julle het darem n krag opwekker.
Soms dink mens jy raak gewoond aan al hierdie dinge … maar dan is daar dae wat ek net in ‘n hoekie wil gaan sit as die water en krag sommer net so “verdwyn”. Sterkte, ek hoop die ellende hou gou op (wel, nie die reen nie … want daaroor sal ons seker nie sommer kla nie).
Frannie! Goed gestel!
Ek hou van die hardkoppiges. My pa kon nie eklektrisieteit laat aanlê 1960 nie. Ons het tot 1980 wat my ouers daar gebly het geen krag gehad nie. parrafienlamp en kerse. Daar was darem ‘n gasstoof en yskas. Wasgoed is met die hand gewas. Sjoe dit was primatief. Die geen krag omdat… wat ook al die probleem is is beslis nie lekker nie. Toe ek weg is in 2009 was daar al van 5 tot 9 saans geen krag vir sekere dae nie. So dit het lankal begin om te verswak. Genoeg gekuier hier by jou. Ek het simpatie met jul want SA is beslis nie vir Sissies nie.
Ag ek hou van jou kuiertjies!
Dankie eks bly, wil nie n oorlas wees nie!
Nooit ooit sal jy dit wees nie!
Nee, maar ons nie-sissies kry altyd iets om oor te lag en selfs te juig. Sterkte en ek hoop die kragprobleem word gou opgelos.
Dis soos jy sê, Frannie,- nie vir sissies nie, maar gelukkig is ons kinders van Afrika! ( en kan ons kaalvoet oor die berg as dit moet!) Baie sterkte vir julle! ( tip: verkoop due elektriese stoof en kry n gasstoof.)
Ons is nie verniet kinders van Afrika nie….planmakers en oorwinnaars, selfs oor krag.
Jy gee my sommer moed!
Relax….as jy Mosambiek kon doen kan jy dit ook doen😎😎
Ek hoop vir tannie hulle dat die krag probleem nou al opgelos is
Baie dankie! Nee, nog nie 🙄 Hulle hoop om more en Saterdag weer die krag te kan aanskakel.
Eish dis moeilik sonder krag, gelukkig weet tannie van water kook op gas om te kan was LOL