Die Goue Vroue is op ‘n avontuur in Afrika. Elkeen is die outeur van haar eie storie. Maar die Jumanjibord gooi ons rond. Lees al die avonture hier:  https://fresh.inlinkz.com/party/222c461d2afc4999aca03fa567cd84ea

Elkeen kry haar beurt om die dobbelsteen te gooi wat hulle in ‘n nuwe ondervinding bring. Voor almal nie die dobbelsteen gegooi het en hulle die eindpunt bereik en JUMANJI! skree nie, kan hulle nie teruggaan Rebusfontein toe nie. Intussen storm elkeen van die diere waarmee hulle te doen kry, met ‘n verwoestende spoed Rebusfontein toe en skep daar chaos.

Jumanji, ‘n spel vir die wat soek om te vind, ‘n manier om hulle wêreld te verlaat. Jy rol die steen om jou teken te skuif. Dubbels kry nog ‘n beurt. Die eerste speler om die einde te bereik wen. Aan die ander kant: Avontuurlustiges, pasop. Moenie begin tensy jy beplan om klaar te maak nie. Die opwindende gevolge van die speletjie sal eers verdwyn wanneer ‘n speler Jumanji bereik en die naam uitroep.

Nadat Woordnoot se hiënas en Volstroois met al sy volstruise na Rebusfontein weggevoer is:

Dis skemertyd in die Afrikabos. Die moeë Goue Vroue sit in ‘n kringetjie om die kampvuur wat Positief en VirgoC uit grassies, stokkies, droë houtjies en ‘n paar stompies aan die gang gekry het. Teen die aandgloor toring ‘n hoë krans, terwyl ‘n ronde goue maan in die ooste opkom.

Heelbo op die krans, afgeteken teen die rooskleurige aandlug, is ‘n bobbejaansilhoeët sigbaar. Die trop is besig om op die rotslyste reg te skik vir die gevaarlike nagure. Daar’s ‘n verskrikte getjank as ‘n klomp kleintjies getugtig word omdat hulle nie wil rustig raak nie. Die leier bôgom ‘n paar keer kwaai en die geraas bedaar. Iewers in die bos snou ‘n luiperd…

“Julle,” sê Toortsie, “ons sal hierdie vuur vannag aan die gang moet hou, anders word ons luiperdkos.” Aalsie werk ‘n wagrooster uit en een na die ander raak die uitgeputte vroue aan die slaap. San neem die eerste wagbeurt waar – sy tuur diep in die vlamme in. Positief neem by haar oor en skud later vir Toortsie wakker. So sleep die donker ure verby…

Vroegoggend gooi Una die laaste stompies op die vuur. Die vlamme verbleek in die oggendlig. Una skrik haar besimpeld toe ‘n yslike bobbejaanmannetjie skielik die wit buffiesakkie met die laaste kosbare broodjies onder Frannie se kop uitruk. Gelukkig gryp hy dit aan die knoop aan die onderkant, met die gevolg dat die broodjies en die los diamante in die stof uitrol. Nou het bobbejaan se kind ‘n probleem! Hy gryp ‘n broodjie en knyp dit onder sy arm vas. Soos wat hy ‘n tweede broodjie gryp, lig hy sy arm om die broodjie te bêre en die eerste broodjie val op die grond. Bôjaan probeer ‘n derde keer, wat veroorsaak dat die tweede broodjie in die stof val. Una giggel, half histeries van skok. “Jou bobbejaan!” skree sy.

Photo by Sebastien Dottin on Pexels.com

Skielik gryp die bobbejaan Una aan die hare en hardloop rats teen die krans op, langs lysies wat net hy ken. Una kan nie anders nie – sy moet saam hardloop, anders trek die ondier haar hare te seer! Haar bloedstollende gille maak almal wakker. Die twee figure verdwyn oor die lip van die krans. Daar is ‘n kommosie onder die bobbejaantrop en die vroue hoor hoe die geraas al hoe dowwer raak, hoe verder die trop weg beweeg.

In die yslike wildevy daar eenkant grom-hoes die luiperd wat hom in die nanag daar tuisgemaak het, dit klink amper asof hy oor die petalje daar onder op die grond sit en lag. Die geluid kry die verslae vroue aan die gang. Woordnoot gryp Aalsie aan die arm: “Vandag moet jy al jou tolktalent inspan, ons sal die luiperd om hulp moet vra om Una op te spoor!” “Kom!” sê VirgoC, “ek gaan saam met jou!” Katvoet stap die twee tot by die boom. Dis te ver vir die ander om te hoor wat daar gesê word, maar aan hulle maats se liggaamstaal kan hulle sien dat die onderhandeling suksesvol was. (Hulle het later gehoor dat die luiperd jonk en onnutsig is en dat hy sommer gou ingewillig het om te help om Una terug te kry, aangesien die bobbejaantrop hom erg irriteer.)

Lui-lui spring die luiperd van die een tak na die ander, totdat die vroue hom in sy volle glorie onder die boom sien staan: lang, swiepende stert, geelbruin pels met die sierlike rosette, donker kolle onder sy ken wat soos ‘n kraag lyk, glansende groen oë en ronde ore. Hy kies koers met ‘n ompad sodat hulle nie teen die krans hoef uit te klim nie. “Oe,” sê Christa, “kyk, soos wat hy so vooruit loop, die ligte halfsirkels aan die bopunte van sy donker ore,” en sy pluk haar kamera uit. Appeltjie is ook besig om lustig foto’s te neem.

Photo by Pixabay on Pexels.com

Sonell waarsku: “Trommeltjie! Jy sal jou blouwildebeeskalfie baie goed moet wegsteek vandag, anders eis hierdie luiperd hom dalk as vergoeding vir sy hulp!” “Nee!” Trommeltjie kyk wild rond. “Toemaar,” troos Seegogga, “Hierdie buffie van Frannie rek lekker – ons kan die kalfie daarin sit, dan dra jy hom so onder jou arm soos wat sy die broodjies gedra het. Nou moet jy net ver weg van die luiperd af bly, dan sal alles oukei wees.”

‘n Rukkie later kom die eienaardige optog in ‘n groen vallei op die bobbejaantrop af. Una sit heerlik met die klein bobbejaantjies en speel, maar sy lyk darem bly om die Goue Vroue te sien. Die luiperd grom bloeddorstig en al wat ‘n bobbejaan is, laat spaander – reguit Rebusfontein toe, met die groot kat agterna. Frannie gryp die dobbelstene en druk dit in Seegogga se hande: “Gooi, Seegogga, gooi!” skree sy.