Vandag kon ek weer by my kosbare “katvriendin” kuier. Toe Lelik, my wilde wit kat, jare gelede reddeloos in die meenthuiskompleks rondgeswerf het nadat dié se vorige baas weggetrek het, het ek M ontmoet: die skraal vroutjie met die vanghok, die lepel en die blikkie vis waarmee sy al honderde – dalk selfs duisende − katte uit ellende gered het.

Met haar bruin krulhare en blou oë is M ‘n sagte, deernisvolle mens, maar absoluut gedrewe wanneer dit op “haar” katte aankom. Volgens haar predikant het sy ‘n bediening onder die straatkatte van Pretoria en ek beaam dit heelhartig, want hierdie bediening voldoen aan al die kenmerke: dit is ‘n heilige opdrag; dit verg toewyding, moeite en inspanning; en dis allesbehalwe maklik. Daarby is dit ook nog ‘n ondankbare taak, want katte ontlok mos maar altyd hewige gevoelens, hetsy dit liefde of haat is. En kathaters verstaan glad nie M se besorgdheid oor die haweloses nie.

Die reglement is eenvoudig: vang, steriliseer, plaas terug in die bekende omgewing en gaan voer dan tweekeer per week. Hierdie voerdery is egter die vangplek, want dit is ‘n onlosmaaklike verbintenis met die katte en moet week na week, jaar na jaar, volgehou word. Vandag het ek saam met haar gery: Sunnyside toe om katkos by iemand af te lewer; na die middestad om een enkele oorblywende kat te voer; terug Sunnyside toe om op twee plekke kattekolonies te gaan voer. Dit was net ‘n paar take, want M het reeds gister die meeste van die plekke besoek waar sy vandag sou gevoer het, om tyd in te ruim vir ‘n middagete saam met my. Haar tyd is skaars en kosbaar en ek voel geëerd dat sy vandag daarvan aan my afstaan, want ek is lief vir haar. Eintlik voer sy my ook, nes die katte: geskenksakkies met neutemengsels, marmelade, sjokolade en die lekkerste beskuit. Soos die katte, kry ek ook onverdeelde aandag en omgee.

Dis koud, bewolk en winderig. Die wêreld is vaal en stowwerig, die ou jakarandas geel en verflenterd. Die middestedelike kat se voerplek is in die agterplaas van ‘n woonstelblok, in ‘n stoorkamer waarvoor M ‘n sleutel het – die kat gaan in en uit deur die traliehek. Buite teen die baksteenmuur is daar roetkolle waar die woonstelbewoners soms vuurmaak, dit lyk na braaiplekke. ‘n Groepie verveelde kinders staan en klets op die kaal grond teen die agtergrond van verflenterde gordyne in die woonstelblok langsaan se vensters. Ek bewonder M se ordelike kattebak (“kattebak”! 😄): ‘n houer met skoonmaakmiddels (hierdie katte se voerbakke is skoner as Lelik s’n!); die waterbottel, want daar is nie krane nie, sy moet die water ook saamry; plastiekbakke met droë katkos, dan word skeppe reeds oopgemaakte blikkieskos uit ‘n ander bak bo-oor geskep en as afronding, word een van daardie klein sakkies met nat kos vir die lekkerbekkiges uitgegiet (hierdie katte kry lekkerder kos as Lelik!).

In Sunnyside loop mense heen en weer, elkeen op sy eie missie. Drie jong mans met bont broeke en helderkleurige gestoffeerde jasse slenter straat-af, dan weer straat-op. Ek is onder streng orders om nie saam met M te stap nie, net in die lekker warm kar te bly sit, terwyl M by ‘n spazawinkel ‘n sleutel gaan haal om ‘n kettingslot mee oop te sluit, dan by die agterplasie inglip en gaan katte voer. Ons ry verby die straatjie waar ek in my jeug gebly het en so in die ry sien ek daardie ou enkelverdiepingwoonstelgeboutjie staan nog steeds – die balkonstoepies nou toegebou en die hele ding giftig groen geverf.

Nou gaan ons restaurant toe. M: “Hoe lyk ek? Kan ek maar so gaan eet, is ek nie te stowwerig nie?” Sy grawe in haar handsak: “Ek het darem my pêrels gebring…”