Ek het die vaas weer hier kom kry, ses jaar nadat ek dit VSA toe gebring het, die eerste keer toe ek by my dogter en haar man kom kuier het. Destyds het ek daaroor geskryf, nog op LitNet se blogs, maar ek skryf weer, want toe Scrapy ons nooi om oor ‘n voorwerp te skryf, was hierdie een die eerste waaraan ek gedink het.

Die swaar vaas is van gesnede kristalglas, 24 cm hoog, geskep deur wonderlike vakmanskap, soos die skerp kante van die patrone bewys. In die glasdieptes dans talle reënbogies rond.

Enigiets wat mens in sy verwelkomende dieptes indruk, verander in ‘n rangskikking, vanweë die slim vorm wat sorg dat elke blom en takkie tot sy reg kom.

Dit was ‘n trougeskenk aan my ouers, wat tydens die hoeksteenlegging van die Voortrekkermonument getroud is – daar was, as ek nou reg onthou wat my mammie vertel het, ongeveer 100 paartjies wat op 16 Desember 1938 daar getrou het, onder die streng regie van Anna Neethling Pohl, nogal. Hoe wens ek dat ek geweet het wie vir my ouers die vaas gegee het.

Toe ek drie jaar oud was, brand die stoorplek af waar my ouers se besittings geberg was terwyl hulle gewag het om in hulle splinternuwe huis in te trek. (Die naam van daardie maatskappy was vir altyd ‘n skeldnaam in ons gesin.) Daar het niks oorgebly nie, maar my mammie het in die puin gaan grawe, ‘n paar boeke met verskroeide kante gered en ook die vaas ontdek: pikswart verbrand, maar verder ongeskonde.

Vir my is daardie vaas die verteenwoordiging van my mammie se moed en deursettingsvermoë. Nou staan dit in my dogter se huis, die kleindogter vir wie my mammie so innig lief was.