Ek is mal oor die gewone Amerikaners om my. Hulle is vriendelik en tegemoetkomend, oop en spontaan in hulle reaksies. Ag, hulle is so lief vir vierings en versierings!
Vandag is dit Halloween (verkorting van “All Hallows’ evening”). Ek het my nog nooit veel aan dié fees gesteur nie en vaagweg gedink dis eintlik heidens. Google vertel egter dat die kerk deur die eeue nie daarteen gekant was nie; dat die oorspronklike samhain, die Keltiese fees wat die halfpadmerk tussen die langste en die kortste dag van die jaar gevier het, mettertyd deur die kerk gekoöpteer is, ‘n proses baie soos wat met Kersfees gebeur het. Die kerk eer immers ook die oorledenes, wat goed ingepas het by die bygelowe oor die dooies wat in hierdie tyd glo nader aan die wêreld van die lewendes is.
Halloweentradisies het in die 1800’s saam met Ierse en Walliese immigrante na die VSA gereis en hier ‘n welige groeiplek gekry. Kindertjies trek allerlei monderings aan en klop by huise aan vir trick or treat. Met hulle tipiese vindingrykheid het die Amerikaners ook trunk or treat uitgedink, waar kinders op ‘n parkeerterrein van motor tot motor se versierde kattebak kan gaan om hulle houers met lekkergoed vol te maak. Trunk or treat het oorspronklik gedien om mense se bekommernis oor kinders se veiligheid te besweer, maar vanjaar is dit ook ‘n gawe oplossing vir die Covid-dilemma – V&P se kerk het vanmiddag so ‘n geleentheid aangebied. My kinders werk en hulle moet ook spesiaal aansoek doen om die seuntjies soontoe te vat, dus het ek dit ongelukkig misgeloop. ‘n Gewone stappie in die buurt het egter meer as genoeg daarvoor vergoed, want dit wemel van die versierings wat by hierdie seisoen pas.
Drie temas is vervleg: die oesseisoen (voëlverskrikkers, mielies en pampoene), herfs (blare en klein astertjies wat mums genoem word) en Halloween (spoke, hekse en grillerigheid) en orals pryk die Stars ‘n Stripes.














Vir my is die stomme heks wat teen die boom vasgevlieg het die oulikste.Grappig!
Ja, sy’s te kostelik!
“Sober, denkende siel?” Wanneer keer jy terug na SA? Daardie grasperk vol grafstene, sal mens bangmaak.
Dis nie te se ek stem saam nie, Danie! DV begin Desember, hou tog duim vas?
Dit is interessant om te sien, dankie vir hirdie insig oor Halloween.
Lag ek nou lekker, Frannie. My oudste moes hierdie naweek haar voet neersit toe ons klein negejarige engeltjie saam met die bure se kinders halloween wou doen. Ouma Una is ampertjies gebel, want daar was vreeslike tran by die besliste nee.
Ag foeitog Una, ek onthou nou nog hoe my ouers geweier het dat ek Guy Fawkes by die bure kon gaan vier.
Dis beslis nie n egte suid afrikaanse dag nie. Dankie vir die mooi beskrywing . Die fotos is lieflik
Dankie Appeltjie, ek sukkel maar met die selfoonfoto’s – my “mik-en-drukkie” het die gees gegee -dus beteken jou kommentaar sommer baie!
Mooi man, nou het jy eerstehande ondervinding opgedoen. Mooi fotos. Wys goed wat daar aangaan. Hier doen hul holoween, maar meer afgewater dis mos UK mense en nie US mense nie haha.
Ek hou van die vriendelike spokies.
Ja, hulle is beter as die swewende, hangende gevaartes, party is regtig grillerig.
Ek is dol oor die pampoene. Selfs die spoke en hekse is ook fyn met my want ek het feëverhale gelees….dankie vir die mooi fotos! Alles is nie altyd sleg nie, omdat mens net nie weet nie ‘label’ mense dit te maklik.
Die pampoene het sulke sagte skille, dis maklik om te kerf. Ek dink die heeltyd wat hulle met ‘n oordintlike boerpampoen sou aangevang het!
Daar sou baie meer ongevalle besoeke gewees het vir af of stukkende vingers!!
Ek dink ons gee te maklik vir die duiwel krediet. Ek het jou perspektief nou baie geniet, dankie!