Ons ry ‘n uur lank na die Little Buffalo State Park en gaan stap met Honey die hond deur die woud. Dis lieflike herfsweer, effens bewolk met kolle sonlig wat die herfsbome pragtig belig.

Smal teerpaadjies, bedek met ‘n blaretapyt, kronkel deur die bome.

Groen mos vorm ‘n pragtige kontras met die boomstamme en herfsblare.

In hierdie waterryke wêreld hoor mens stroompies kabbel, wat later in die Holman Lake inloop.

Daar is ‘n ou “covered bridge”, wat van ‘n dak voorsien is om die houtkonstruksie teen wind en weer te beskerm. Tussen 1830 en 1870 is ongeveer 1,500 sulke brûe in Pennsylvania gebou – hierdie een is van sy oorspronklike plek geskuif om te keer dat Holman Lake dit sou oorstroom.

Ons ry terug deur ‘n ou dorpie, Newport, wat teen die einde van die negentiende eeu groot voorspoed as ‘n knooppunt van vervoer beleef het. Daar is ‘n vervalle ou stasiegebou wat ek dadelik eien omdat die treintjie van Disney World se stasie net so lyk. Toe ek oe en aa oor die ou huisies, clapboard-dubbelverdiepings reg op die straat, met lang verandas en spits dakvenstertjies, ry P spesiaal ekstra draaie sodat ek nog kan kyk.

Die aand kom eet vriende van V&P, wat dieselfde werk as hulle doen. Ek verluister my aan die gesprek oor die wel en wee daarvan – hoe geniet ek hierdie insig in my kinders se lewe. Ons sit buite op die deck, dis nog nie te koud nie. Daar is rooirand-wolke met sonsondergang en ‘n blink skyfie maan skuif stadig op sy boogvormige pad van noord-oos na noord-wes.

Herinneringe aan die dag smaak so soet soos die opgepofte rosyne in die heerlike kos wat V gemaak het.

(Met erkenning aan V wat die foto’s geneem het.)