Frannie hoor die oorbekende melodie oor Rebusfontein se dorpsmeent weerklink. Sy is lief vir die sangeres se fluweelstem, die onweerstaanbare Afrikaritme, die ondertoon van heimwee. Vanuit haar toringvenster sien sy hoe die Goue Vroue daar onder naderkom en begin lyndans, soos net hulle kan. Hulle het immers hulle vaardigheid op Dullstroom en in mnr. Barnum se sirkus bewys.

Una is die voorbok, sy het mos nou al hierdie dans mooi onder die knie, het dit tot selfs al amptelik saam met haar hoërskoolprotegés gedans.

Frannie se voete begin jeuk. Nie verniet het sy op haar dag by ‘n spanbou-potjiekos in die veld saam met haar kollegas op maat van Mandoza se Nkalakatha gedans nie! Sy het agter E ingeval en haar bes gedoen om by te hou; in die proses ‘n getroue vriendin bygekry, wat agterna met ‘n sagte glimlag haar goedkeuring van Frannie se poging bevestig het (“That’s right, F! Dance!!”) en jare later nog vir haar klein gunsies gedoen het.

Sy onthou haar verstomming die eerste keer toe sy van naderby met haar mede-Afrikane se spontane danskultuur kennis gemaak het. Dit was ‘n skreeusnaakse vermenging van kulture: ‘n kersboom vir die uitgewery/drukkery se werknemers en hulle kindertjies, op ‘n warm somersdag, met ‘n swetende kersvader in ‘n rooi pak, kompleet met mus met watte-omboorsel. (Die arme jongeling was die mees junior werknemer en kon nie weier om hierdie rol te vervul nie.) Uit erkenning vir hulle werkgewer se vrygewigheid het die vroue spontaan begin dans; so ook hulle kleuters. Ai, die ritme in daardie klein lyfies!

Lank kyk Frannie nou al na die talle Jerusalema-video’s; glimlag meewarig oor onbeholpe pogings; dink meerderwaardig oor hoe Afrikaritme ook deur haar are vloei en hoe sy sommer een-twee-drie hierdie dans sal regkry. Sy hardloop teen die wenteltrap af en neem haar plek vol bravade in.

Die eerste ruk gaan dit goed, maar kort voor lank besef Frannie sy het, soos altyd, haar fiksheid hopeloos oorskat. Sy ken wel die passies, maar haar asem begin jaag, haar knieë raak lam, haar voete wil nie meer hoog trap nie. Hoekom hou die musiek net aan en aan, weet daai vrou met die heuningstem dan nie wanneer om op te hou nie?

Frannie se skouers pyn, sy hyg, voel duiselig… Sy verloor haar balans en stamp teen die Goue Vrou langs haar. Dit veroorsaak ‘n domino-reaksie en die presiese formasie is daarmee heen – party dansers giggel, ander tsk-tsk besorgd.

Plat op die grond sit Frannie, kop onderstebo, skaam tot in die stof toe, terwyl Jerusalema oor die meent weerklink…