Ons stap deur die tuin, my swaer en ek. Daar is rose, kundig gesnoei, wat nou net begin uitloop. ‘n Enkele, yslike oranje roos pryk hoog teen ‘n lat vol dorings, wat die basis gaan vorm van ‘n roseboog. H buig dit ondertoe sodat ek kan ruik, die heerlikste rosegeur met ‘n sweempie sitrus daarin. Onder die muurtjie loop ‘n breë bedding miniatuurmargrietjies wat in oorvloed blom: wit, bleekpienk en wynrooi.

Dis die naaste wat ek nog ooit aan ‘n janfrederikkie was. Op my skoonsussie se pragtige Persiese mat stap die outjie met sy onmoontlik dunne beentjies. Ek en my ander skoonsus sit ademloos en kyk. Hy korrel reguit na ons, sodat ons die sierlike wit weerskantkroontjie (die voëlmense noem dit ‘n supersilium) mooi kan bekyk. Sy okergeel borsveertjies is die presiese skakering van een van die kleure in die mat. Dan beweeg hy kombuis se kant toe, waar my sus besig is om ‘n berg vetkoeke te bak, sodat hy dalk daar krummeltjies kan oppik. Weerlose wesens – voëltjies, geitjies, hulpbehoewendes en allenige mense ‒ is almal welkom in my sussie se gulhartige huis.

Maar veral is haar kleindogtertjies welkom, en vier van die ses (die ander tweetjies is in die Bahamas) kom vanmiddag by oupa en ouma kuier. Hulle kom ingewaai, saam met hulle oppassers: ‘n pa en sy skoonsus, en ‘n mamma. Skielik popel die ruim sitkamer van oorvloedige lewe. Al vier die meisietjies het blou oë en die haarkleur wissel van blond na ligbruin na donkerbruin. Daar is krulletjies en bokstertjies en die rokkies wat vanoggend fleurig pers en pienk was, is nou ietwat verlep en stowwerig na ‘n besige dag by die kleuterskool.

Ek het geweet my skoonsus gaan ‘n uitbundige ouma wees, sy was nog altyd mal oor babatjies en klein kindertjies. Sy maak die klompie bymekaar en hulle verkas na die skelpienk pophuis wat hulle liefhebbende oupa vir hulle aangeskaf het. Daarbinne is speelgoed vir Afrika, en die grootmense in die huis kan hulleself weer hoor gesels. ‘n Rukkie later is hulle terug: ouma sit op die mat met ‘n armvol dogtertjie aan weerskante, terwyl die pop van ‘n baba oupa se hempsak visenteer vir die dummy wat sy wéét daar iewers wegkruip. Die enetjie dra vuisies vol margrietjies rond; die ander enetjie het in oupa se ryk grenadella-oes ingevaar en ‘n skotteltjie vol gepluk.

Al te gou is die tydjie by ouma en oupa se huis verby en met drukkies en soentjies woerts almal by die deur uit. Ons bly ietwat bedroë agter en probeer mekaar oortuig dat ons dankbaar is oor die rus en stilte …