Die Goue Vroue is ń groepie bloggers wat saam aan spesiale stories skryf. Indien jy mettertyd al hierdie skrywes saam wil lees, en wil uitvind hoe die Goue Vroue beland het waar hulle nou is, gaan loer in op die skakel: https://fresh.inlinkz.com/party/a844ec34c0574957a27ccdce16e2a94d

Koorsagtig blaai Frannie deur Wikipedia op haar foon, besig om te probeer uitvind oor Athena, Triton en Poseidon. Dis egter onmoontlik om te konsentreer, want om haar is dit chaos en pandemonium. ‘n Derde stamp sidder deur die boot en sy kyk op, reg in die reusagtige, ekshibisionisties gegrimeerde gevreet van die seekat Ursula, die gruwelike seeheks, wat bo-oor die seiljag troon. Frannie besef sy het in die verkeerde mitologie rondgesoek – hierdie scenario is nie antiek Grieks nie, maar moderne Disney!  

Dapper tree Seegogga na vore en begin in onverstaanbare Seekats brabbel. Al verstaan die res van die mense op die seiljag se dek daar g’n snars van nie, kom hulle agter dat Seegogga besig is met oorreding soos net sy dit kan regkry, want Ursula se tentakels waai nie meer so woes in die lug rond nie en sy het nog nie weer teen die boot gestamp nie. Toortsie staan sy aan sy met haar vriendin, gereed om te help waar sy ook al kan. “Ai,” sug sy, “waar is Scrapy tog? Wat ons nou nodig het, is Scrapy se vuurpyl wat sy so af en toe by haar vriend Elon leen! Dan kon ons almal aan hierdie gevaar ontsnap het…”

Athena se seeperd is skoonveld, maar die dolfyne swem nog in wye, bekommerde kringe om die seiljag. Lorenzo sit met sy arm om Athena se skouers, terwyl Camilla hulle fyn dophou. Die losskrum van goue vrouens is uiteindelik ontknoop en een vir een gaan sit hulle weer rondom die tafel – dankbaar oor die vroeëre versterking van Toortsie se skons en Frangelico, wat nou aan hulle die krag gee om hierdie gevaarlike situasie te bedink.

“Julle,” fluister Positief dringend, “ons is gelukkig! Stap 1 en 2 van Trommeltjie se plan is reeds afgehandel! Stap 1: Ons is inderdaad in verskriklike gevaar. Stap 2: Kyk net daar hoe tederlik is Lorenzo besig om Athena te probeer kalmeer. Kameel, jy het nou ‘n groot verantwoordelikheid – gaan trek Camilla se aandag af, want sy gaan enige oomblik die arme harsingskuddende Athena se oë probeer uitkrap!”

Kameel gryp Camilla se arm met haar een hand en die amper leë bottel Frangelico met die ander hand. Sy sleep Camilla, wat luidkeels protesteer, met die trap af na die skeepskombuisie, terwyl sy haar alter ego streng aanspreek: “Vandag luister jy na my, meisiekind! Ons het nie nou tyd vir speletjies nie, al manier waarop ons uit hierdie gemors gaan kom, is om die Trommeltjieplan se derde stap te verwerklik en vir Triton so jaloers te maak dat hy besef Athena is sy enigste ware liefde, en dit gaan ons net regkry deur voor te gee Athena en Lorenzo is verlief op mekaar!” Kameel keer die Frangelicobottel in ‘n koffiebeker om: “Dè, drink hierso en raak rustig – jy weet mos Lorenzo se hart behoort net aan jou!” Grootoog en gedweë sluk Camilla gehoorsaam – oe, die arme meisie gaan soooo dronkverdriet kry…

“O gonna,” kla Trommeltjie, “hoe gaan ons dit regkry dat Triton daardie tweetjies op die dek sien? Ons kan mos nie net sit en wag en hoop dat hy hier opdaag omdat Ursula besig is om ons rond te stamp nie?”

“Ek weet,” sê EkMyselff, “Lolla, jy praat mos Dolfyns – gaan vra Athena se dolfyne om dringend na Triton te gaan soek en hom te vertel van die gevaar waarin ons verkeer!” Lolla hardloop dadelik na die skeepsreling en begin met die dolfyne praat. Gou-gou hou hulle op met kringe swem en bondel verstom teen die kant van die seiljag waar Lolla die rede in hulle eie taal voer. ‘n Kort rukkie later swem hulle vinnig en doelgerig weg…

“So ‘n bek moet jêm kry!” dink Frannie so by haarselwers. Dit herinner haar aan die mandjie broodjies wat sy vir die wis en die onwis op vakansie saamgebring het. Sy hardloop na haar kajuit toe, gryp die mandjie en gaan gee dit in Woordnoot se hande: “Sien jy kans om Ursula se aandag van die gestampery af te trek en haar te probeer kalmeer met hierdie broodjies? Jy het mos destyds so netjies broodjies van ons boetiekhotel se eetkamer in Pretoria aan die manne daar onder gegooi.” Dapper willig Woordnoot in en klim na die boonste dek. Van daar af begin sy netjies die broodjies in Ursula se groot rooi bek inskiet. Die seeheks smak haar yslike lippe – “nog, gee nog!”  beduie sy. Seegogga gaan sit sommer plat op die dek, innig dankbaar dat sy ‘n rukkie kan rus terwyl iemand anders die monster besig hou.

Adri en Aalsie sit koppe bymekaar – mens kan sommer sien hoe hulle praktiese planne uitdink. Die twee spring op en gaan soek na die “jong kapteintjie in wit”, soos WoordNoot hom beskryf het. Hulle vind hom op die brug, terwyl Christa langs hom ingewikkelde berekeninge doen wat met die boot se ewewig te make het. Die twee is dapper besig om die seiljag se balans te probeer hou in die groot golwe wat Ursula se massiewe liggaam veroorsaak soos wat sy rondbeweeg om die broodjies te vang en te verorber. Aalsie verduidelik dat sy en Appeltjie al die slaappille in die skip se medisynekas benodig – hulle gaan dit in broodjies stop sodat WoordNoot dit vir Ursula kan probeer voer. Die kaptein dink dis ‘n goeie plan en oorhandig ‘n hele plastieksakkie vol slaappille – met ‘n handvol seesiekpille daarby. “Seesiekpille?” twyfel Appeltjie, maar Aalsie gryp die sakkie: “Kom, jong, wat ook al kan help om daai ellendige seekat te bedwelm, is welkom!”

Terwyl die twee die pille in ‘n paar broodjies stop, is daar ‘n gestommel op die trap en ‘n verwilderde Camilla verskyn op die dek met die oranje skeepskat in haar arms. Sy strompel reguit na Una toe en begin kliphard teen haar skouer huil. Una vee net trane af en paai die kat sowel as die snikkende jong vrou.

Intussen het VirgoC en Sonell in ‘n stryery met Woordnoot, Aalsie en Appeltjie betrokke geraak:

VirgoC: “Hoor hier, julle gaan maak dat daardie seekat verdrink! Kyk hoe baie pille is dit dié – as daai dierasie dit alles inhet, gaan sy soos ‘n klip sink!”

Aalsie: “Ag neewat, man, VirgoC – seekatte leef dan onder water, hoe sal sy nou kan gaan staan en verdrink?”

Sonell wil die broodmandjie by Woordnoot gryp, maar Appeltjie help vasklou daaraan.

Skielik kom een van Ursula se skrikwekkende tentakels nader, voel-voel al oor die dek nader … totdat die suiers blitsvinnig om Sonell se middel vassuig. Sy word hoog die lug ingeswaai, terwyl sy gillend spartel en die mense op die dek skreeuend uitmekaarspat…

Lolla, sal jy asseblief verder vertel?