Vir K

Om iemand te ken wat suksesvol leef, is ‘n voorreg. Om hom as vriend te kan toe-eien, is ‘n seën.

Gister het ek my weer in K se geselskap gaan verlustig, daar op sy gulhartige stoep. Ons drink regte blaretee uit ‘n regte teepot. Die gemmerkat maak ‘n skramse verskyning; die groot swart labrador kom plof aan ons voete neer. Die twee keffertjies, jare gelede aangeneem toe hulle eienaars geëmigreer het, dut met syerige, goedversorgde lyfies in hulle onderskeie beddens. In die tuin kwetter die voëltjies om hulle voerplek terwyl ons op die stoep sit en ginnegaap.

100_2385.JPG

Ons ken mekaar nou 44 jaar lank. Ons was albei by ‘n amateurtoneelproduksie betrokke. Een aand agter die skerms van die Kleinteater, haal hy my teen ‘n trap in; haak by my in en ons klim so saam-saam verder. Ek onthou nou nog die verrassing waarmee ek hierdie gebaar beleef het en hoe sy vriendelike energie die trap sommer na ‘n gelykte laat voel het. Hy was ‘n eksotiese figuur, met sy rooi kortbroekie en stringe krale om die nek. Sy “afro” – destyds hoog mode! – het soos ‘n donker stralekrans om sy kop geskyn.

Toe ons ontdek dat ons op dieselfde dag verjaar, was die saak beklink: ons het na onsself as “we Cancerians” verwys en summier ‘n “mutual admiration club” gestig. (Ja, ons het ook maar lekker pretensieus die Engelse frases so tussen die Afrikaans ingegooi.) Deur die jare het hy manhaftig my huilbuie verduur: die aand in die woonstel-vir-twee waar een sopas weggetrek het; die dag in die woonstel-vir-een toe my moed my begewe en ek net nie meer een kwashaal kon gee in my beteuterde poging om die plekkie leefbaar te maak nie. Hy was op my pa se begrafnis; hy het my mammie “Tannie Viooltjie” genoem. Ons het myle ver gedans; mense op die lughawe gaan afsien; toneelopvoerings bygewoon; op ‘n Sondagmiddag na Edith Piaf geluister. Ek bewaar nou nog ‘n poskaart van Stormsriviermond af waarop hy geskryf het dat hy, noudat hy self die plek beleef, kan verstaan waarom ek altyd weer wil terug daarheen.

Sy liefde vir die teater het hom gedring om drama te gaan swot – ‘n dapper besluit, want hy was enkele jare ouer as die ander studente in ‘n lewensfase toe dit nog ‘n groot verskil sou kon maak. Dit was ook die regte besluit: gou was sy woonstel ‘n gewilde bymekaarkomplek en die vriende wat hy in sy universiteitsjare gemaak het, is vandag nog deel van sy dampkring. In daardie woonstel het Gewese Liefling K se seël van goedkeuring verdien deur op sy gemak, met sy gebruiklike sjarme, tussen wildvreemde mense ‘n verhoogpartytjie te deurstaan. Nadat K gegradueer het, het hy gaan toneelspeel in Suid-Wes; die res van sy professionele lewe aan die teater gewy.

Op ons troudag, wat hy nie kon bywoon nie omdat hy die hoofrol in ‘n produksie gespeel het, het hy die confetti wat ek vir hom gestuur het, in sy kleedkamer gestrooi en vir ons ‘n kers gebrand. Dis seker te verstane dat die goeie wense van daardie kers se vlammetjie na 29 jaar uitgebrand was? Ek is dankbaar dat hy my toelaat om ‘n bitsige aanmerking of twee in Gewese Liefling se rigting te smyt, sodat ek verlig verder hier op die stoep kan kuier.

Drie partytjies onthou ek beter as die res: die uitbundige gesamentlike verjaarsdagparty in ons twintigs op ‘n landgoed naby Rietvleidam; sy vyftigste verjaarsdagdinee wat ek saam met Gewese Liefling bygewoon het; sy sestigste, toe ek alleen moes opdaag – daardie aand toe sy vriendin Amanda Strydom spesiaal vir hom kom sing het.

Sy sewentigste verjaarsdagviering kon ek nie bywoon nie, daarom vra ek of ek asseblief na die video kan kyk wat sy begaafde susterskind vir dié geleentheid gemaak het: ‘n elektroniese collage van foto’s deur die jare. ‘n Pragtige baba, met krulhaartjies wat liefderik om ‘n vinger gekam is; die ernstige klein ouboet in ‘n gesinsfoto; ‘n jong tiener… Dan die vriend wat ek leer ken het: die sielvolle oë, die sigaret tussen die vingers… Die een na die ander toneelfoto; foto’s van ontspanne tye saam met goeie vriende…

Die uiters gepaste keuse van agtergrondmusiek laat my diep bewoë:

Non, rien de rien – non, je ne regrette rien…