Toe Afrikaans nog as “ons pêrel van groot waarde” beskou is, is kinders gemaan om dit suiwer te gebruik – g’n Engelse uitdrukkings tussenin nie! Destyds was dit ook maklik, want daar was ‘n ryk Afrikaanse omgewing: puik kinderprogramme op TV, talle Afrikaanse tydskrifte en koerante, Afrikaanse flieks, universiteite waar Afrikaans vanselfsprekend die voertaal was.  

As selfaangestelde bewaarder van my moedertaal, het ek probeer om my kleindogtertjie Gabby ook te leer dat mens enigiets in Afrikaans kan sê. Soms het dit gevoel of ek met my hande ‘n oorstroming probeer keer, want sy word in ‘n gans ander taalomgewing groot: Engels op die TV en YouTube, Engels in partytjie-uitnodigings, Amerikaanse superheroes en pop stars. Sy het my egter geduldig verdra – en toe is ek vir 14 maande weg uit haar lewetjie en die Engelse ranke groei welig…

Ouma is terug en vasberade om al daai Engelse woorde in haar oogappeltjie se taalgebruik met mag en mening te beveg. Vandag is die wind egter behoorlik uit my seile gehaal, want dit kom toe uit dat Gabby nog altyd gedink het haar ouma verstaan Engels nie so mooi nie. Want ouma het dan altyd gevra wat die Engelse woord in Afrikaans beteken!

Kleinkinders help oumas om hulself nie so bitterlik ernstig op te neem nie…

Photo by Sharon McCutcheon on Pexels.com