Ons is ñ groep vroue, bloggers, en tussen ons klompie het ñ dorp ontstaan, Rebusfontein.

Iewers in Suid-Afrika. Iewers in ons lieflike land.

Hierdie hoofstuk sluit by ñ menigte voriges aan. Jy sal dalk frons, jy sal dalk wonder. Ja, Rebus bestaan. Vir ons, en dalk vir jou.

Rebus is ons wegloopplek, en soms ons wegkruipplek. Maar feite is, Rebus is ONS s’n.

As jy ooit lus het om deel te word, om deel te neem, sê net, en jou droom sal bewaarheid word.

Terwyl Una, Frannie, San en Toortsie nog besig is om Seegogga se kunstige, kleurvolle koei Blommetjie te bewonder, wat heel in haar skik na haar spieëlbeeld kyk, kom Lelik die wilde wit kat aangedraf.  “Nooi, nooi!” miaau sy benoud. “Kom help, die Rebusdiere is besig om te baklei doer in die Rebusrus Amfiteater!”

Frannie lê die rieme neer Amfiteater toe, met die ander Goue Vroue agterna. Daar gekom, sien hulle chaos daar onder op die proscenium: Rebus se diere het poot- en vlerkgemeen geraak, hulle baklei dat die stof so staan, die hare en die vere waai. Eintlik sien mens net die groot stofwolk, met so nou en dan ‘n kat- of hondepoot of ‘n vlerk wat uitsteek en weer verdwyn, dit lyk kompleet soos die strokiesprente altyd ‘n bakleiery voorstel. Die diere blaf en knor, tjank en miaau, tjirr en skrrree dat hoor en sien vergaan.

Toortsie storm teen die kliptrappe af en roep met ‘n stentorstem: “Hokaai! Wat dink julle vang julle aan?! A nee a, Rebusfontein is ‘n plek van rus en vrede!!” Geleidelik raak die diere rustig en die stof gaan lê. Geluk, Kameel se swart kat met die wit pootjies, begin haarself energiek was, volgens die immergroen katbeginsel soos deur Paul Gallico verwoord: “When in doubt, wash!” Die Bengaalse kat Liefkat wat aan Woordnoot behoort gaan lê lankuit in die son, haar flanke hyg op en af van uitputting. Abby-kat van San ruk haar stert verontwaardig op en af.

Op ‘n ander deel van die proscenium lê die honde, behoorlik pootuit. Rondloper Rof, die rooibruin reun, lê op sy rug met Bybie, Hitler se hond Blondie se baba, styf teenaan hom. Trompie lê op sy magie met ‘n fronsplooi tussen die oë, want hy voel half aandadig aan hierdie onmin – die bakleiery was oor die geskenk wat hy vir Dawie, Appeltjie se Yorkie, gestuur het: die Verf-vlgs-nommers-stel. Dawie huil lang trane, want sy pragtige verfstel is weg, Porkie die Morepork-uil wat Scrapy van Nieu-Seeland af saamgebring het, het dit gegryp en daarmee weggevlieg. Die ander Yorkie, Twinkles, probeer hom troos terwyl Karolus, Trommeltjies se Staffie, en die Labrador Charlie van San besorgd om hulle rondmaal.

In een van die hoë dennebome sit Pasella en Bekkie die spulletjie en bekyk.   

In die voorste ry sitplekke sit die diere wat nie deel van die bakleiery was nie: Kieterkat, Lelik, Danie, en Christa se drietjies BB, Shilo en Sjobek. Botter kan nie in hulle bekkies smelt nie, hulle blink van die vroomheid. Heel bo in die amfiteater is daar ‘n groepie kreature: Appeltjie se lemur Lemmie, die luidier Blits, die ietermagog Rocky, Francis die bromvoël en Faye die feetjie, geskaar rondom ‘n verwonderlike, glorieryke verskynsel. Dis Floki, VirgoC se Noorse boskat, maar in ‘n nuwe gedaante. Voordat daar onmin tussen die diere gekom het, het hulle almal saamgewerk aan hierdie wonderlike projek om Floki te verf. Hoekom? Om dankie te sê vir al die groen raad wat Floki se nooi so gulhartig met die Rebusfonteiners deel.

En toe gebeur die ramp, soos wat so dikwels met goeie bedoelings gebeur: die diere het begin stry oor wie volgende aan die beurt is om geverf te word, wie die verfwerk gaan doen, en wat die motivering vir die nuwe projek sou wees. Dit was vinnige denke aan die kant van Scrapy se uiltjie om die verfstel weg te raap, anders het die stof nog lank nie gaan lê nie…

Seegogga wink die ander: “Kom julle, ek het nou tee en vrugtekoek nodig. Kom ons gaan sit op my huisie se stoep en kyk of daar nog van die ander Goue Vroue opgedaag het, dis tyd vir ‘n behoorlike avontuur!”