Verklarings volgens die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT):
Vreugde: 1. Groot blydskap 2. Plesier 3. Oorsaak van geluk
Geluk: 1. Toestand van tevredenheid; bevrediging van jou wense en verlange; vreugde
Plesier: 1. Gevoel van vreugde, veroorsaak deur iets wat mens aangenaam vind 2. Vermaak, genot
Om tuis te wees, is ‘n groot aanpassing. Ouma het al “bietjie gevergeet” presies hoe lewendig twee klein lyfies kan wees!
Ek sit buite en kyk hoe Joshi op sy blou fietsie ry, om en om op die plaveisel. Gabby hardloop rondtes en Ouma hou haar hart vas dat die twee nie met mekaar bots nie. Gabs kom haar op my skoot neervly: die asempie jaag en die hartjie klop woes. Ek verkyk my aan die pragtige kindergesiggies: gladde vel en rosige lippies. Gabby se lang, laang vlegsels swiep deur die lug; Josh se blondekoppie blink in die laatsomerson.
Toe Scrapy ons nooi om oor vreugde te skryf, het ek gewonder presies wat daardie woord beteken. HAT werp ook nie eintlik lig nie – mens sal dalk na sielkundige verklarings moet gaan soek. Vir my is dit soort van die oortreffende trap van gelukkigheid, dis dalk daarom dat HAT dit gróót blydskap noem. Is hierdie innige oomblikke buite onder die koelteboom in die Afrikalug vreugde? Of is dit sagter: gelukkige tevredenheid gemeng met dankbaarheid, teen ‘n agtergrond van verlange na my liewe dogter wat nou so baie ver is?
Vandag is ek reeds ‘n week terug in Suid-Afrika, terug onder Laatlam se dak. Dis ‘n woelige huishouding: Laatlam loop soos ‘n groot ou beer rond met sy selfoon teen die oor, of sit voor die rekenaar en maak ergerlike geluide – hy werk nou al van laas Maart van die huis af… My skoondogter wip op en af teen die trap, besig met die menigvuldige pligte en verpligtinge van ‘n mamma. Gabby stort in duie van angs oor die nuwe skooljaar; Joshua gesels en ek kan hom nie meer verstaan nie, ek sal vir my ‘n kode moet uitwerk: t beteken k; s beteken g. Die twee nuwe troeteldieraanwinste is Kwazimoto, ‘n yslike Tuxedokat uit C se ouerhuis, en Great Dave, ‘n Great Dane. Muis die Africanishond en Lelik my ou wit kat weet nie wat hulle getref het met die “inkommers” nie.
Watter versameling eiesoortige, eienaardige wesens! Skielik besef ek met ‘n skok dat ekself as inwonende ouma wat in die tuin sit en juig en hande klap, vir seker tot hierdie eksentrisiteit bydra…

Ek glo dis woelig in die son na die stilte en ys van sneeu. Elke plek het mos sy eie goeie goed. Geniet die hirre op jou vel en die mooi klank van kinderlaggies.Een vd dae is jy weer oumafiks.
Jy verf so n gelukkige prentjie met jou woorde
Terug pieng: Rebus, hier kom ek! – toortsie.com
Jy is terug en almal is bly. Ek kan goed glo dis weer ietwat van ń aanpassing, Frannie.
Welkom tuis.💐
Ek gaan jou Amerikaanse foto’s en perspektief mis
Om so tussen jou geliefdes te wees, klink vir my na ‘n wonderlike vreugde!
Dit is, inderdaad.
Jy laat my glimlag.
Jammer ek reageer nou eers maar ek moet verduidelik: Ek lees soggens vroeg die poste op my foon. Jou blog is so klein geskryf, ek kannie eers lees wat ek tik om jou te antwoord nie. Ek moet op my “laptop” skootrekenaar werk om te sien wat ek doen. So moenie dink ek het jou nie gesien en gelees nie. Ek dink daardie kinders om jou en die sonskyn bring beslis vir jou nuwe vreugde na jou jaar lange afwesigheid daar. Goed om te weet jy is darem weer ingeburger in jou eie “ou” leefwyse en plek. Geniet dit.
Liewer laat as nooit…welkom tuis! So mooi geskryf!
Baie dankie! Dit het moed geverg om op daai vliegtuig te klim.
As ek so vinnig kyk na daai melkwit hare en sy sit, my kind op druppel water die lyftaal ook 😇🥰