Scrapydo nooi ons om oor frustrasie te skryf…

As daar een tydvak in ‘n mens se lewe is waar jy met frustrasie te kampe het, is dit die ouderdom. Ek verstaan maar al te goed waarom “a grumpy old woman” ‘n gesegde geword het!

‘n Oumens word weer soos ‘n kleuter: klein goedjies ontstel haar uitermate; sy mors maklik tee in haar piering; sy vat lank om aan te trek en sy beweeg stadig in vergelyking met die grootmense (= jonger mense).

Haar hande raak swak en dom en sy moet telkens hulp vra om flesdoppe oop te skroef. Fyn vingerwerkies soos om die plastiek om ‘n plakkie kaas te verwyder, raak amper onmoontlik. Gelukkig is diegene soos die uwe, wat net met styfheid gepla word, sonder dat hulle nog teen pyn ook moet stry!

Klank raak dowwer; beelde raak vaer. Buk is ‘n hele proses. As sy so gelukkig is om nog plat op die grond te kan gaan sit, is dit ‘n geweldige uitdaging om weer op te staan – sy kyk met verstomming en diepe naywer na die “American football”-spelers wat orals op die veld soos vrot velle neerslaan en moeiteloos weer op hulle voete terugwip.

Daar is die flou grappie van die ou oom wat, toe sy mense op pad dorp toe was, vir ‘n jongman gevra het: “Het jy gehoor of ek saamgaan?” Dis hoegenaamd nie snaaks nie, omdat dit so waar is! As mense nie spesiaal moeite doen om die oumens by hulle planne in te sluit nie, dwaal die oumens verwese en ontredderd rond – gelukkig is hierdie frustrasie my gespaar; ek is elke dag dankbaar oor die bedagsaamheid waarmee my kinders my behandel.

Photo by Inga Seliverstova on Pexels.com

Jesaja 46:3-4 Ook tot in julle ouderdom is Ek die Here, tot in julle grysheid sal Ek julle dra. Ek het julle gemaak en Ek sal julle vashou, julle dra en julle red.