
Liewe leser, hierdie hoofstuk vorm deel van ‘n bloguitdaging waarin die Goue Vroue van Rebusfontein uitgedaag word om ‘n vervolgverhaal te skryf waarin ons items op mekaar se emmerskoplysies uitleef. Soos gewoonlik, is een of meer van die res van ons karakters in die vervolgverhaal. Elke hoofstuk word afgesluit met ‘n emmerskoplysie en ‘n spesifieke vrou word uitgedaag om die verhaal verder te vertel …
Jy kan dus ten minste 13 hoofstukke verwag. Die res van die verhale kan hier gelees word, onthou om gereeld terug te kom om nuwes te lees. Dit is ‘n werk in wording …
https://fresh.inlinkz.com/p/901334e664234152a8107aad817a73bb.
Chindeni Bushcamp, South Luangwa National Park, Zambia – YouTube
Omdat die Silwer Blitz – die Goue Vroue se nuutste ryding – ook so ‘n bietjie met die tyd kan peuter, reël Frannie dat Seegogga se emmerskop-item in November plaasvind, wanneer die Suid-Luangwa Nasionale Park in Zambië die “Smaragseisoen” beleef. Die swaar somerreëns tower stowwerige bome en droë veld in ‘n groen lushof om; die rivier en die mere is boordensvol; daar is baie kleintjies in die park – olifantjies, leeuwelpies, bobbejaantjies en wildebrakkies; die olifanttrop van Mfuwe Lodge is op pad na hulle wilde mangoboom – om daar uit te kom, moet hulle deur die ontvangslokaal van die lodge loop!
Blitz gooi eers ‘n wilde draai in Nieu-Seeland om vir Scrapy op te laai; verstom Frannie se Amerikaanse bure as sy met ‘n vrolike wuif teen die trap opwip; trotseer die sand van die woestyn sodat VirgoC kan aansluit; gooi dan ‘n Kaapse draai waar Trommeltjies, Toortsie, Appeltjie, Aalsie en die eregas, Seegogga, opklim; duik ‘n oomblik na die Noord-Kaap af vir Christa; en laai Sonell, Una, Woordnoot en Positief in Gauteng/Noord-Wes op voordat dit na Suid-Sentraal-Afrika koers kry.
Die Goue Vroue land vroegoggend op Kapamba, ‘n private landingstrook, waar hulle soos eregaste ontvang word. Dis warm en vogtig – die drie ontheemdes en ook Christa, die onlangs ontheemde, trek die soet Afrikalug diep in hulle longe in. Die klomp klim in twee wildritvoertuie in en oe en aa die hele ent pad na Mfuwe Lodge, waar hulle vandag in die Bos-Spa van Suid-Luangwa gepamperlang gaan word.
Die Goue Vroue baljaar: hulle kry pedikure en kopmasserings, modderbaddens, masserings met warm klippers en lyfbehandelings met plantekstrak; sit rond met gesigmaskers (nee, nie die laptipe nie, die roomtipe van elke kleur en geur – komkommer-en-laventel, makadamia-en-lemoen, wildeheuning…); lê in die jacuzzi op die spa se plankstoep en hou die wild daar onder in die rivierbedding dop soos wat die diere hulle normale gang gaan. Una en Woordnoot verdwyn om ‘n uitgerekte ontspanningsmassering te ondergaan; Toortsie willig dapper in om ‘n Thai-massering te kry; VirgoC ruil plantkennis met die personeel uit en bespreek die voor- en nadele van verskillende kruiedrankies wat aangebied word.
Laatmiddag slenter die ontspanne, welriekende groep na die ontvangslokaal van die lodge om hulle voertuie na die boskamp Chindeni te haal. (Eintlik kan die kamp net agt gaste huisves, maar toe die bestuur hoor dis die Goue Vroue wat kom en dat hulle graag almal saam op een plek wil bly, het hulle summier en spesiaal nog twee luukse tente laat oprig.) Skielik kom die bedrywige lokaal tot stilstand. Die man agter die toonbank gryp sy kamera en wys opgewonde na die ingang. Dan doem die eerste bosreus op (Wonky Tusk, die matriarg) en rustig kom die ou grotes aangestap, min gepla deur die gebou waardeur hulle moet beweeg om by die ryp mango’s van “hulle” boom anderkant die lodge uit te kom. Styf teen sy ma se bene draf Wellington, ‘n baba-olifantjie, maar net twee wekies oud. Die olifante volg nog steeds hulle olifantpad, al het mense die lodge bo-oor gebou! Daar is wedersydse vertroue – die mense staan doodstil terwyl die olifante, kleintjie en al, deurstap boom toe. Een van Wellie se tantes steek vas langs die Goue Vroue. Haar gevoelige slurp tas-tas in die lug en dan begin sy Una in alle erns besnuffel. Dit moet die lemoengeur van die spa wees wat Una nog steeds omgewe – en ook haar aura, want olifante beweeg op mistieke vlakke waarvan mense niks weet nie. Una se oë is so groot soos pierings, maar daar is ‘n sagte glimlag op haar lippe. ‘n Wildbewaarder kom stadig nader en maan die vroue saggies om doodstil te staan – heeltemal onnodig, want ons weet mos te alle tye hoe om ons te gedra! Toe die olifant klaar ondersoek ingestel het, stap sy doodluiters verder. As die laaste olifant teen die trappe afgeklim het, bars die vroue los en kwetter soos vinke. Hulle sug en skel en roep uit van verbasing oor hierdie ervaring; Woordnoot slaan haar arm om Una se skouers en almal stap met lam knieë na die voertuie.
Chindeni Bushcamp – South Luangwa, Zambia – YouTube
Dis reeds donker as hulle by die kamp kom, waar ‘n heerlike aandete buite op die plankstoep se lang tafel op hulle wag. “Hoor die paddas!” sê Frannie opgewonde. “Umm, Frannie,” antwoord Positief: “Daai is nie paddas nie, dis seekoeie.” “Oooo,” sê Frannie en die “o” verander in ‘n lang gaap. Almal gaan vroeg slaap, want môreoggend gaan hulle ‘n staptog deur die veld onderneem.
Chindeni is teen ‘n standhoudende meer geleë. Die verskeidenheid wild en voëls is volop en verstommend. Vroegoggend kleur die opkomende son die wolkies pienk, wat dan in die wye strook water hier vlak voor die kamp weerspieël word. Tortelduiwe koer heeldag en snags “whoe-hoepp” hiënas om die kamp. Saans wanneer die ondergaande son die wolke dramaties rooi en pers kleur, sit die vroue kaalvoet in die vlakwatertjies van die meer en teug aan koel witwyn of jenewer; later op die plankstoep staar hulle in ‘n kampvuur se vlamme en dink ver en wyd…
Hulle stap in ‘n lang ry deur die veld, met twee gidse aan die voorpunt en nog ‘n wildbewaarder wat die agterhoede vorm. Hulle sien leeus en wildehonde, sebras en kameelperde. Vlakvarke vermaak hulle; bobbejane laat hulle lag. Een skemeraand op ‘n wildrit is daar ‘n luiperd wat van tak tot tak klim; ‘n groot uil in die middel van die pad; ‘n ystervark wat skugter in die donkerte wegglip. ‘n Trop hiënas draf-draf doodstil langs die pad, hulle oë blink in die maanlig.
En (‘skuus Lou) die vroue gesels! Terwyl hulle in die hangmatte voor die een tent lê en luiweg swaai; op die stoep in die lomerige middaghitte; laataand om die vuur. Sonell vertel van haar gesin se toekomsplanne; Toortsie vertel hoe sy covid oorwin het. Seegogga kla sy verlang na haar man, waarop Appeltjie diep sug van verlange na haar geliefde. VirgoC laat almal skater met kostelike staaltjies oor haar werk; Trommeltjies vertel van Kanada en haar liefmense daar in die koue. Positief verduidelik hoe mens met boerbokke werk en Scrapy vertel van die stoute bok en die skape wat sy in Nieu-Seeland moes oppas. Aalsie gesels kopstukke oor die VLU en Christa vertel die vroue meer oor die invloed van sosiale media. Daar is stories oor troeteldiere en kleinkinders en mans en familie. Die hele week is een lang praatterapiesessie, wat heeltemal te gou verbygaan.
Die laaste aand in die bos sit Frannie weer asof begogeld na die vlamme en staar, terwyl sy ‘n mopanietakkie heen en weer tussen haar duim en voorvinger rol. “Weet julle, as ek so terugdink, besef ek dat ek al wonderlike goed ervaar het. Dis eintlik nou te laat vir my vir ‘n emmerskoplysie, my uurglas is amper leeg, maar daar is tog nog twee goed wat ek bitter graag sou wou doen. Die een is om ‘n week in Parys, Frankryk deur te bring – ek was nog nooit daar nie… Die ander een is om weer so lank moontlik in ‘n chalet by Stormsriviermond te gaan bly, in die see te swem en in die woud te gaan stap…” Sy kyk oor die vuur heen na Toortsie wat aan die anderkant sit: “Sal jy asseblief een van hierdie items kies en ons almal saamvat, Toorts?”
Dankie Frannie, ek smag juis so na ń Nasionale Park wegbreek. En ek kan jou verseker, ek het elke sekonde van die gesnuffel geniet! Het nog altyd gewens dat ek so ń ondervinding met ń olifant kan deel.
Jy het ons almal jaloers gehad.
‘n Olifant het eenkeer so met ‘n vriendin van my gemaak, terwyl sy op ‘n wildvoertuig gesit het. Ek dink regtig hulle herken ‘n bepaalde, besonderse element in iemand se aura.
As ek my oë toemaak, voel ek daardie versigtige slurp-aanraking.
Frannie! Wow! Jy kon hierdie netsowel vir my geskryf het! Dit was ‘n belewenis! Ek moet sê, ek is steeds nog geknoop en dit sal dalk ‘n rukkie vat om my los te knoop ná daai Thaistorie, maar verder … is ek bly om te sê dat, siende dit November is en die ou willepes intussen heeltemal verower is, lande weer oop is, ons sommer lekker saam kan toer. Dankie!
Bwahahaa vir die geknooptheid! Ai, as mens tog net weer vry en onbesorgd en spontaan kan kuier!
Ek herleef my Kruger Wildtuin besoek! Daar was troppe olifante en ai, wat is dan nou lekkerder as om in die natuur te kuier. (Dalk ‘n besoek aan ‘Paris’?!)🌐
Ons sal maar moet sien wat Toortsie kies…
Mmmmm wat sal ek tog kies, né?
I wasn’t sure whether you have already visited this Zambia bush camp, or if it is still on your list? Either way. I enjoyed the YouTube clip. And a fuschia coloured bucket? very stylish !
Dankie Alison – ek is so bly jy lees hier! Die boskamp is op die lysie van die vorige skrywer, Seegogga. Die uitdaging is dat ons elke keer ‘n item namens die vorige skrywer moet uitleef. Die pienk emmertjie is Christa van Staden se breinkind, ek stem saam, dis beslis stylvol.
Tannie Frannie, dit is lieflik geskryf. Om weer eendag in ‘n wildtuin of by so ‘n boskamp langs ‘n rivier te wees, is ook nog ‘n droom van my. Ek was jaaaaaaaaaaare gelede in die Kruger. en daardie olifante – my ikoniese dier.
As ek kon kies, sou ek maar steeds die see bo die bos verkies. Gelukkig kan mens albei beleef!
Ek het by die see grootgeword. Sal altyd my eerste keuse wees
Ai Frannie….jy sal maak dat ek sommer net dros en die pad soontoe te voet aanpak. Dit was ‘n heerlike avontuur en daai olifante????? Ek is mal/dol/gaga/verlsaaf aan hulle
Ekke ook.
Ken jy Lawrence Anthony se boek “The Elephant Whisperer”?
Jip. Ek het hom….het al sy boeke gelees. Maar Jodi Piccoult het ook n boek geskryf waarin sy fokus om olifante se emosies…dit was excellent …
Frannie, dit is briljant geskryf. Ek het my absoluut in jou verhaal ingeleef, skoon hartseer dit is verby. Daar is nog baie skop in die lyf hoor, sal graag wil hoor wat op jou lysie al afgemerk is. Ek het die woordgebruik verskriklik baie geniet. Begaafde skryfster, jy.
Dankie, Christa. Jou uitdaging is werklik iets besonders!
Dankie, Frannie, daardie boek het so na aan my hart kom praat. En julle maak dit ‘n wegholwenner.
Het jy gelink? Moet ek help/
Het dit reggekry, dankie Christa.
Die video’s lok mens, maar nie naastenby soveel soos jou pragtige beskrywing nie. Wel gedaan.
O Dankie Frannie! Dit was ‘n absolute belewenis! Wow wow wow!
Terug pieng: Emmerskoplysie 7 – toortsie.com
Frannie al wat ek kan sê is welgedaan. Uitstekend, jy het my meegevoer na Afrika. Ek het dit baie geniet.
Soos altyd het tannie pragtig geskryf, dit voel asof ek op daai hangmat lê en oor ditte en datte klets
Oelala, ek wou ook altyd soos Jane in die bosse saam met wille diere wees. AS jong kind het ek altyd gedroom dat ek Jane is en saam met Tarzan al die dinge beleef. Ons het elke Tarzan fliek gaan kyk in die inry saam met my pa. Dankie dat jy my ook saam gevat het op jou reis.
Jy is altyd ‘n aanwins.
Dankie Frannie, dit gee die ou verstand bietjie spasie om in ander rigtings te werk.
Jy toor met woorde!
‘n Wonderlike kompliment van iemand wat so goed skryf soos jy! Baie dankie.
Ek stem, jy toor werklik met woorde🌻🌻
Baie innemende stuk wat my sommer vir ‘n klomp redes huis toe laat verlang. Jy skryf so mooi en jy hét iets te sê! Hartlik dank. – Willem (Ek voel gevly om my foto op jou lys te hê! Daai kleurvolle rye goeters kom uit Suid-Korea.)
Hoe kikker jy my oggend op!