In Towerinstraat 7 steek ek vas op die kombuis se drumpel – dis dan ‘n replika van die kombuis waarin ek op my gelukkigste geleef het! Die mooi handgekerfde donkerhoutkaste, die lang venster wat uitkyk op ‘n prieel en Kaapse kanferfoelie, tot die bitterlike geelbruinbont linoleum van die sewentigerjare is daar! Heeltemal betowerd stap ek van die een kombuiskas na die ander en ontdek skatte van lank gelede…*
Hier staan al die sjerrieglasies wat met een slag gesneuwel het toe ‘n rak gebreek het. My kaasbak van gesnyde glas; die ronde glasbakkie wat net groot genoeg was om een boksie jelliepoeier in aan te maak. In hierdie mooi glasbeker kan ek gaan putwater skep – ag, en hier is my Tupperware-koekhouer ook! Die Royal Albert-teestel is weer volledig, reg vir ons koek-en-teesessies, en die handewerk van begaafde pottebakkers, wat so deur die jare aan skerwe geval het, is weer heel. A, hier is dit waarna ek eintlik kom soek het: my “Schlemmertopf”, ‘n ongeglasuurde kleibak waarin my bydrae tot die Langtafelfees gemaak gaan word: “Opgefoeterde Hoender”, soos dit in ons gesin genoem is, oftewel “Just Chicken” ter wille van my Amerikaanse skoonseun. Die resep was in ‘n klein kookboekie wat saam met die nuwe Schlemmertopf in die boks was en dit was baie jare lank vir my ‘n staatmakerresep.
Eers word die kleibak lank in koue water geweek. Op ‘n ruimskootse laag gekapte spek, uie en groen soetrissie word gegeurde hoenderporsies gepak. Een koppie hoendersop sorg vir die nodige vogtigheid. Bo-op pak mens rou aartappelskyfies, wat so stadig sonder olie of vet onder die kleideksel in die oond gaar bak. Na die langsame bakproses skep jy die skyfies in ‘n afsonderlike bak, sout dit liggies en roer ‘n houer suurroom by die hoender. Daar moet rys wees om die spek-, uie- en soetrissiesous oor te skep, bros groenboontjies met knoffelvlokkies en skywe soetpampoen, met ‘n kraakvars mengelslaai daarby. In die dae toe ek wynfiks was, was my gunsteling Haute Cabrière Chardonnay Pinot Noir. Die naam is ‘n mondvol en ‘n mondvol van hierdie wyn is die heerlikheid vanself. Hmm, gaan ons plek hê vir roly-poly met vla saam met ‘n glasie hanepoot? ‘n Klein koppietjie koffie en maroelaroomlikeur? Maar natuurlik, dis mos towerwêreld dié.
Nataniël het ewe galant die uitnodiging na Rebusfontein se Langtafel aanvaar, waaroor ek baie bly is, want ek bewonder hom grensloos: as mens, entrepreneur, sjef, ontwerper, kunstenaar, sanger, akteur en storieverteller. Ag, ek hoop tog die man is vanaand in ‘n bui om sy wonderlike staaltjies oor die plattelandse tannies van sy jeug te vertel – sowat van spitsvondigheid in die keurigste Afrikaans.
Oor die gas aan my linkerkant het ek ernstige bedenkinge: Kim Kardashian. ’Nuff said. Sy het gisteraand kom nes skrop in die groot slaapkamer op die eerste verdieping van my huisie. Gelukkig het sy haar eie tolk saamgebring wat seker maar die hele aand in haar juweelbehangde oortjie sal moet sit en fluister… Ten minste gaan haar elaborate uitrusting (ja, dis einste daai Met Gala-kostuum) interessante bespreking uitlok (pun very much intended); eintlik sien ek daarna uit om te hoor wat Nataniël gaan kwytraak…
* Ek moet Toortsie bedank vir die idee om goeters in Rebusfontein terug te vind – diep in my onderbewuste het haar ontdekking van haar musiekboek wat met hulle trek soek geraak en toe in haar huisie hier op Rebusfontein weer opgeduik het, my laat dink aan al die kosbare breekware wat ek so deur die jare moes afskryf.
*******
WIL JY KOM SAAM KUIER? MAAK SO:
Ons langtafel is sosiaal en gemeensaam van aard. Ons kinkel is dat elke Towerin en Blogmaat plek vir haar of homself en twee gaste aan die tafel het. Dit moet ‘n beroemde of bekende persoon wees – een wat jy bewonder en een wat jy verpes. Dis nou lewendes en die wat ons reeds vooruit is. (Broodina het ons mos geleer om selfs die van wie ons nie so baie hou nie, te aanvaar.)
Ook moet jy asseblief iets lekker bring om aan jou gaste en ons ander voor te sit. Vertel hoekom, en deel die resep as jy wil.
Kom ons kuier, begrawe strydbyle, bou brûe, smee vriendskappe en smul lekker saam soos net Rebusfonteiners kan.
Voorbeeldvonk
Towerin 17 Onbekend bring vir John McEnroe van tennis faam omdat hy so vreeslik kon vloermoer en dis nie sportmanskaplik nie en sy bring vir Dolly Parton omdat niks haar onderkry nie, nie eens spottery nie!
Smulgoed wat sy bring is Makataankonfyt en varsgebakte brood.
Mik om so 500 woorde te skryf dat ons lekker kan lag en lees en mense leer ken.
Onthou om jou bloginskrywing op Inlinkz te gaan haak:
https://fresh.inlinkz.com/p/f3a95533873d4e39950509a1af369d8a
Oe Frannie, kan ek GROOT SAMBLIEFTOGGIE aan Nataniel se anderkant sit??? SAMBLIEFIES DADELLIEFIES???
Maar alte seker – daar is net een voorwaarde: moet asseblieftog nie daai skaapkop as gereg saambring nie!
Nee!! Nataniel sal my skel!! Ek belowe ek sal iets soos sy druiwetert bring…ek het dit natuurlik net bietjie aangepas…😶
Uh-oh…in die omgewing van die Towerinne is ek hartlik agterdogtig teenoor “aangepaste” resepte! Maar ek vra ennieway asb ‘n stukkie 🙂
Ha, Nataniël sal vir Me KK vasvat, en as hy hie wil nie, sal my jonger self kom help.. Ek is so bly jou onthougoed is veilig in No.7. Hoop ek kan ‘n happie by jou ruil. 🤗
Verseker – maar ek wil nie net ‘n happie van die suurlemoen-amalfi kry nie, ek wil ‘n hele ene verorber!
Daar is ‘n hele net vir jou!
Hoera!
Daardie hoender in die erdebak gaargemaak, klink heerlik.
Jou hoendergereg Frannie, dit kink omtrent hemels! Terwyl julle stry wie ń beurt met Nataniël kry, gaan ek weglê aan die eetgoed. Hou dop, ek los dalk niks oor nie. Ek sal maar ordentlike skoene vir die geleenrheid aantrek, want soos jy weet verdra die man mos glad nie mense wat kaalvoet loop nie.
Oeps! Ek sal seker my plakkies ook moet agterlaat en opdress vir die geleentheid.
Ons bang mos nie stiletto’s nie!
Frannie, ek het in geen jare stiletto’s gedra nie. Daai dinge agtergelaat in my 50’s. Het ek al vertel hoe ek van my vreeslike hoë hakke afgeval het …? Ek moet jou daai storie vertel. My arm in die elmboog op twee plekke gebreek en tot vandag toe het ek ‘n effense krom elmboog. Nee, ek bly maar plat op die aarde.
Moet jou sê my bek is aansienlik groter as my binnegoed!
Oooooo ek wil ook hoor wat Nataniël te sê het. Hoop daar is genoeg roly-poly…en hopenlik laat hy my so lag dat ek nie tyd het om na my ma te verlang wanneer ek dit eet nie.
Ek is ook mal oor Nataniël. Jy het n mooi versameling van mooi goed in jou huis. Die etery gaan uit die boonste rakke wees met al jou lekker resepte.
Hierdie etery klink hemels. Dit laat my dink aan ‘n langtafel onder ‘n druiweprieel. Sommer so op die sementstoep van die oudste huisie in Citrusdal. Platkloof behoort aan my Swaer en skoonsuster en ek dink daardie hartbeeshuisie verleen homself tot so ‘n ete. Ek kan my die soel somerlug voorstel. Die huis omring deur sitrusboorde en klipformasies wat enige fotograaf se tong kan laat uithang van inspirasie, wat die agtergrond vorm. Ek sou my ouma se antieke vleisbord en sopkom op die tafel wou laat pryk. ‘n Skaapboud waarvan die vetlagie bros gebak uit die oond kom, en yskoue komkommersop uit die delft sopkom wat ek by my Peetma geerf het. Die eetgerei sal speels bont wees. ‘n Sameflansing van die oudste wat ek in die hande sal kry. Stukkies afrikana met ivoorhandvatsels, kristalglas en vergeelde handgeverfde porselein. Die reuk van Sitrusblare en die vrolikheid van helder geel en rooi kappertjies sal aanvullend wees tot die kos. As die son sak sal ek parafienlampe aansteek en ons sal my ma se koue gemmerbier drink en op komberse le en wag tot die sterre verskyn. Dis die lewe. Ek sou graag wou luister na Coenie deVilliers op sy kitaar daar waar hy by die voordeur onder die lamplig sit en mooi Afrikaans vir ons sing, en ek sou wou he dat Jack Parow stil moes kom sit en luister hoe Afrikaans geniet kan word sonder vloekwoorde. Hy mag maar saam eet maar hy moet net nie praat nie. Met permissie gese. (Jammer, ek kry eenvouding net nie die kappie op die e met wordpress nie. help asb.
Watter heerlike kuier sou dit nou wees! Jou tafel, die omgewing en die gaste – ai, ai! Hoeveel tyd het jy om hier op die blogs te speel? Wil jy dit nie asseblief oorweeg om ook op Rebusfontein te kom intrek nie? (Ek weet ook nie hoe om daai dekselse kappie in die kommentare reg te kry nie – spoeg en plak maar altyd uit Word uit!)
Mmm, ek stem vir daardie skaapboud. En ek stem saam oor Jack Parrow. Om die kappies, aksenttekens, ens. op te sit, kan jy ALT kodes gebruik. Jy houvas die ALT sleutel (in die ry links onder op jou toetsbord) en tik die kode in. Laai vir jou ‘n lys met ALT codes af by hierdie skakel https://www.hesterleynel.co.za/booktalk/ onderaan die bladsy Writing > Alt Codes deur op Download Word of Download PDF te klik. Ek het dit van die internet af gekry en vergeet waar die oorspronklike bron is.
Baie dankie! Middelkind was mal oor Jack Parow in sy prille jeug, dus hou ek maar nog altyd stilletjies van die jafel.
My kinders dink ook hy’s die cat’s whiskers, maar ek kry nie vat aan hom nie.
Tannie Frannie, ek lag so nou, want ek kan daai KK ‘nuf said’ self nie vedra nie. Ek bring ‘bossies, saam dat ons seker is sy kom nie weer terug nie. Jou kos klink verby wonderlik en ek sukkel al meer om raw-plantbased te bly… Nataniël… my hero. Ek sien uit na die kuier,🌻🌻
Ek ook! Sal sorg dat die slaai ekstra spesiaal is.
😄👍👍👍
Ek is MAL oor jou keuse van gaste Tannie Frannie!
Vir Nataniël sal ek na die ete in my handsak pak en steel vir altyd, en vir Kim sal ek RERIG net ignorer. Dalk kan julle haar leer om haal haar goed-wat-moet-toe-wees toe te maak?
Hmm, K is veronderstel om baie invloed te hê – sê nou net sy leer al die Towerinne om uit te haal en te wys?!
Dit sal darem nou ‘n ding afgee hoor!
Dan word ons ook beroemd en maak baie geld.
…of berug…
😁
Daardie hoender in die kleipot klink fantasties. Ek sal Nataniël van ver af bewonder, maar ek wil nie binne trefafstand van sy skerp tong wees nie. Netnou word ek ook een van die outannies in sy verhale.
Ek is seker hy sal die Towerinne met groot deernis behandel 🙂
Ons praat van Nataniël, nè?
😀
Wow, tannie ek geniet Nataniel se storie, kan hy asb vir ons n itempie lewer? En ek wil asb n groot sjep van daai omgeklitste hoender hê dit klink amasing
Sy verskyning aan ons tafel gaan hopelik een lang item wees! Kom hou jou bord…
Dankie tannie, oeewee dit klink ongelooflik
Ek wil jou nog vertel. Die boks musiekboeke het ek daardie dag uitgepak en sommer gaan speel uit daardie spesifieke boek wat ek genoem het. Ek het skoon vergeet ek het so ‘n boek, tot ek hom ontdek! 🙂 Dit was nou in die regte wêreld, jy weet. 🙂
Terug pieng: ‘n Lekker week van kuier op Rebusfontein – toortsie.com
Terug pieng: Moleste aan Rebusfontein se langtafel | Tannie Frannie