Mark Twain het die volgende raad oor skryf gegee:

If you find an adjective, kill it.

Julle sal sien ek luister glad nie na hom nie, al het ek hom besonder sjarmant gevind op daardie veelbewoë kuieraand in die denkbeeldige dorpie Rebusfontein.

le-jou-eier1-e1512926357627
Die moeë vrou slaak ‘n sug van verligting as sy die deur van haar huisie op Rebusfontein agter haar toetrek. Vandat sy laas hier was, het die werklike lewe haar in sy kloue gegryp en geskud, maar nou kan sy gelukkig weer ‘n bietjie ontvlugting pleeg… Sy loer by die syvensters uit – is daar tekens van lewe by Towerinstraat 6? Ja! Perdebytjie is terug! By nr. 8 is dit egter doodstil, lyk nie of Positief op die oomblik kan kom speel nie.

In die kombuis van haar goue jare vat haar hande volgens vertroude rituele raak en gou is haar bydraes tot vanaand se langtafelfees aan die stowe en prut. Later sal die liewe Lorenzo haar disse verder kom versorg en besorg waar dit moet wees. Sy moet nou uit die kombuis uitkom en gaan mooimaak, sorg dat die kosgeure deur parfuum vervang word. ‘n Nostalgiese herinnering vliet deur haar hart: die dag toe haar liewe dogtertjie na skool by haar in die kar geklim en vir haar gesê het sy “ruik na kos”. Hoe sleg het sy tog daarop gereageer, en dit terwyl haar kind eintlik bedoel het om haar ma ‘n mooi kompliment te gee! ‘n Oomblik kom sy tot stilstand en wonder oor die ewige verskeurdheid tussen werklikheid en betowering… Dan ruk sy haar reg en huppel teen die trap op na haar dakkamertjie om haar te gaan opsmuk, want hierdie dorpie bestaan net uit towerglans en skittering. Haar smaraggroen valletjiesaandrok hang gereed daar in die kas…

Kim is reeds aan die poeier en verf in die groot en suite-slaapkamer op die eerste verdieping; Nataniël is besig om ‘n uiltjie te knip op die rusbank in die toring. Kim se tolk, ‘n verwilderde expat wat vanaand sal moet bontstaan met sy verroeste Afrikaans, is doodstil – dalk slaap hy ook so ‘n bietjie voor die groot uitdaging van vanaand. Frannie glimlag as sy dink aan die dramatiese talente van mense wat ‘n loopbaan as tolk kies – so anders as die vertalers wat aan hulle lessenaars vasgekluister is en agter hulle rekenaars wegkruip!

Die aandgloor is bleekpienk, soos die binnekant van ‘n skulp. Laag in die ooste gloei die volmaan vol belofte dat vanaand ‘n epiese gekuier gaan afgee. Van oral kom die gaste aangestap, beweeg rustig en gesellig na die pragtige langtafel wat Vuurvliegie gedek het. Aa, daar is Sonell en haar tannie; Woordnoot en haar stiefpa; Toortsie en haar pa; Seegogga en haar ma; Vuurvliegie se twintigjarige self – soveel permutasies van familie en mentorskap!

Frannie loer skelmpies in haar aandhandsakkie om seker te maak die broodjies is daar. Die een kom uit die veelberese broodmandjie en word vanaand saamgevat om Mark Twain mee te amuseer – sy is mos gekonfyt daarin om moeilike kalante soos kleuters en peuters besig te hou, dus behoort ‘n skrywer-avonturier nie veel moeiliker te wees nie. Mark het nou wel vir goud en silwer geprospekteer, maar Cullinan se diamante behoort hom sekerlik ook te interesseer. (Hoe sy met Hitler oor die weg gaan kom, weet nugter, maar sy het Kameel belowe en die drie glase witwyn wat sy reeds in het, behoort haar genoeg bravade te gee.) Die tweede broodjie kom uit ‘n gewone supermark en is deel van haar eetplan vir die aand.

Sy het haar eetstrategie fyn uitgewerk: vermy Una se Babi Guling; pik die suurlemoen-amalfi by Vuurvliegie op; mik vir VirgoC se konsertinagroentes; sorg dat sy ‘n stewige skep van Seegogga se waterblommetjiebredie kry; lê elmboë in ter wille van Woordnoot se hoenderbedryf; kry ‘n skyfie skaapboud by Karen (gaan lees gerus haar wonderlike kommentaar op hierdie bydrae); skep van Kameel se heerlike pruimedant-en-amandelsous oor haar broodjie (want sy eet nie tong nie); maak seker sy kry van Toorts se appeltert. Verder is sy van plan om (nog baie meer) wyn te drink…dis nou ter wille van haar reddingsmissie ten opsigte van Kameel se gaste tydens skof twee…

Nadat sy haar gaste links (Kim, met haar tolk langs haar) en regs (Nataniël, met Woordnoot in ademlose bewondering aan sy ander kant)) van haar tuisgemaak het, gryp sy haar bord en dartel om die langtafel rond. Hoogs tevrede kom sit sy en val weg aan die heerlike kos. Met die eerste hap van die broodjie-met-prumedante-en-amandelsous, besef sy daar’s groot fout. Ewe fyntjies spoeg sy die diamant wat sy so amper ingesluk het in haar servet uit en wens die aarde sluk háár in: sy het die verkeerde broodjie vir Mark Twain gaan gee! Dit nogal met ‘n skalkse glimlaggie en die belofte dat hy die broodjie interessant sal vind… Nou hoe gaan sy nóú Kameel se skof twee beredder? Sy wink die liewe Lorenzo nader, vra hom om die res van haar kos by haar huisie te besorg (kos vir die hele week!) en maak soos sy altoos in haar jeug gemaak het om stres te verwerk: gaan betree die dansvloer.

Die towerinne is juis danksy Seegogga besig met ‘n lyndans en Frannie val by die ry in. Haar fladderende aandrok en hoë hakke is nie juis lyndansstyl nie, maar wat – sy’s min gepla. Die vierde glas witwyn het nou al heelwat van haar inhibisies verwyder en gesorg dat sy nie meer die punt van haar neus kan voel nie… Vaagweg besef sy dat Kim en Zuma dit saam met die Towerinne uitkap en Elané langarm al in die rondte met die eerlike bouer. Eenkant voer Scrapy en Henry VIII ‘n statige minuet uit (sy sal vir Scrapy teen daai man moet waarsku!)

Die kenmerkende gebrul van ‘n Harley dawer deur die country-musiek, wat die volgende oomblik in ‘n slepende tangowysie verander. Daar staan Silver in die maanlig, dié keer met ‘n bleekpienk roos in sy hand, wat hy met swierige gebaar aan haar oorhandig, voordat hy haar wegswiep na die land van tango en towerkrag. ‘n Paar verruklike draaie oor die dansvloer en dan fluister Frannie in sy oor dat sy moet gaan, want dis tyd dat sy Kameel se moeilike gaste moet gaan beredder. Soos wafferse Aspoestertjie gryp sy haar valletjiesrok vas en snel weg, terwyl sy die roos dramaties laat val. Wanneer Silver dit gaan optel, staan Kim nader, neem dit sagkens uit sy hand en snuif diep aan die rosegeur sonder om eers selfbewus te voel oor haar goue lamé-rok wat nou “soos ‘n twaksak” aan haar hang. Dis net daar wat die res van VirgoC se Kardashians, Toortsie se Broodjie, Una se eiendomsagent en Bondeltjies se Adolfie naderstaan en met die motorfietsryers begin meng…

Frannie gaan kyk nou eers wat met haar eie gaste aangaan – daar heers absolute chaos! Hester het nie verniet voorspel “moeilikheid groei soos ‘n soetpatat aan ‘n rank” op Rebusfontein nie! Kim het agtergekom dat die meeste mense hier rond Engels goed magtig is en dat sy nie eintlik die tolk nodig het nie. Toe steek sy die arme jongetjie summier in die pad en hy begin om sy sorge te verdrink. Hy deurloop al die fases van dronkenskap: vrolikheid, lafheid, bakleierigheid, huilerigheid en olikheid. Uiteindelik paas hy onder die tafel uit, waar Lorenzo hom vroegoggend gaan ophelp en na Frannie se huisie toe sleep. (Toe hy die volgende dag klaar sy roes afgeslaap het, is hy daar weg, vas van plan om duim te gooi na sy ouma en oupa se plaas in die Bosveld en hom nooit, ooit weer met Amerikaners op te hou nie.)

Nataniël vererg hom toe vir die hardvogtige Kim wat haar tolk so sleg behandel en blaas haar boud af, volgens Vuurvliegie. Kim gaan gryp vir Zuma en sit af dansvloer toe, waar sy en die res van die “ongaste” (Vuurvliegie se mooi vonds!) met die motorfietsryers deurmekaar raak. Mark Twain kom aangedwaal met die doodgewone broodjie in sy hand. “Fran,” sê hy ernstig, “tonight, you have made me realise that one simple breadroll is more real than gold or silver, and for that, I salute you!” Dan gaan sit hy langs Nataniël en gou is die twee in ‘n diep gesprek gewikkel. Frannie spits haar ore en vang hier en daar ‘n kwinkslag:

When a man loves cats, I am his friend and comrade, without further introduction.

It’s a classic, something that everybody wants to have read and nobody wants to read.

Mark kom nooi haar vir ‘n walsie, en daar is sy weer op die dansbaan; die plek waar sy op haar gelukkigste voel.

Ten slotte, twee opmerkings vir Una:

• Nataniël se jas wou nie toeknoop nie omdat hy daardie pragtige antieke porseleinbord wat jy by die Sammy Markshuis vasgelê het, onder sy hemp weggesteek gehad het.

• “Frannie het haar gedra” – hmm, jy maak my bekommerd, want as dit nodig is dat hierdie stelling gemaak word, beteken dit mos dat die teendeel gewoonlik waar is!

Advertisements