Gister was dit die graad R’s se Oupa-en-Oumadag by die puik laerskool waarheen Gabby nou gaan. Hulle het ons hemelhoog geprys met gediggies en wyshede, die mooiste items aangebied en die lekkerste verversings voorgesit. Ek het maar net opnuut my hoed afgehaal vir die onderwysers wat ‘n massa vyfjariges so mooi gedissiplineerd laat optree het.

My liewe skoondogter het beplan om drie kaartjies vir die een Ouma-en-Oupadag (vir my en haar ouers) en twee kaartjies vir die ander dag (vir Gewese Liefling en sy geliefde) te koop, sodat ons paaie nie hoef te kruis nie. Toe is die tweede dag se kaartjies reeds uitverkoop. Ek het my dogter verseker dat ek rêrig nie sou omgee om die dag saam met hulle te beleef nie, maar in my hart was daar ‘n skietgebedjie dat die dag vlot en genadig sou verloop…wat dan ook gebeur het.

Terwyl ek, oupa J en ouma N aanstryk saal toe, roep iemand na ons – dis Gewese Liefling en sy geliefde H. Tussen die horde oupas en oumas loop ons mekaar raak! Toe beland H en ek langs mekaar op die saal se ongemaklike plastiekstoele en in die loop van die oggend besef ek weer eens dat ek inniglik van hierdie vrou hou.

Ek ken H uit die dae toe ons albei kinders aan’t grootmaak was. Sy het die moed gehad om ter wille van haar seuntjies offisier vir ‘n seunspannetjie Voortrekkers te wees. Middelkind was een van haar spanlede en ek onthou nog dat ek so bly was, omdat sy met haar fyn vroulikheid die seuntjies sou laat besef dat daar staal in die vrouespesie skuil. Murg het sy beslis in haar pype gehad, want sy het die nege seuntjies dwarsdeur hulle laerskooljare met groot sukses begelei. Ek voel nou nog skuldig oor die dag toe sy vroualleen ‘n helikopter moes skoonmaak nadat die spannetjie begin opgooi het as gevolg van die toertjies wat die choppervlieënier in die lug uitgehaal het! Die belhamel en sy vlugingenieur het haar net so gelos, terwyl al wat ‘n mamma was, een kyk gegee en vinnig met hulle telge huis toe laat spat het…

Ons gesels oor ons kinders en kleinkinders en veral oor Gabby, vir wie ons albei so lief is. Ek vertel haar hoe die kleintjies die kuiers by haar en GL geniet (en verswyg die leë, eensame ure as ek nie betyds vir myself ‘n uitstappie op daardie dae gereël het nie). Sy vertel van laasjaar se kuier by haar en GL toe ons kinders wat nou oorsee woon, vakansie in Suid-Afrika kom hou het (hoe het ek hulle tog daardie kosbare tydjie saam misgun).

Na die kostelike program in die saal besoek ons Gabby se klas, waar een grootogige seuntjie met verwondering uitroep: “Dríé oumas en twéé oupas!” (Hmm, ek wonder hoe juffrou K daardie opset gaan verduidelik – die klassie is juis op die oomblik met “die gesin en familie” besig…) Gelukkig is daar ‘n geskenkie vir al vyf van ons.

GL lyk goed in sy swart jeans en kraakvars strepieshemp. Ek weet nie hoe hy en H mekaar weer raakgeloop het nie, lange jare nadat hy en ek uitmekaar is. Ons neem vrolik afskeid en ek kies my eie koers. Aanvaar ek uiteindelik, ná dertien jaar en heeltemal teen my sin, dat hierdie alleenpad tog vir my die beste is?

Advertisements