Bewussynstroom soos ek deur die voorstede onder die herfsbome na Lynnwood Bridge toe ry:

Hoe wonderlik dat twee Towerinne ver pad ry na ‘n ontmoeting hier in my omgewing – Frannie, jy is regtig bevoorreg! Vanoggend is ons kwalik ‘n kworum, daar was soveel struikelblokke: gesondheid, werksverpligtinge, ander aansprake op ons tyd en energie… Dankie, my liefste skoondogter, dat ek klein Joshi heel selfsugtig by jou kantoor kon gaan aflaai om bietjie in eiereg my menswees te gaan vier.

Ai, en watter viering was dit tog. Perdebytjie en Una waai vrolik toe ek aangestap kom, hoe welkom laat dit mens voel. My en ‘Bytjie se eende staan op die tafel – groter as wat ek gedink het, met hulle bakbene stewig in gemaklike stewels geplant, wat sekerlik nie die ou breë webvoete pynig nie. Hoe mooi is my veelkleurige eend, met haar kolletjieskeil, strepiestoppie, helderpienk hotpants en bypassende stewelveters! Hoe warm maak dit my hart om te dink dat Una en Positief haar spesiaal vir my uitgesoek het.

Bali-eend (2)

Perdebytjie bederf my met Nataniël se karamelbotter in twee pragtige vierkantige flesse, saam met ‘n kosbare briefie wat my hart opnuut verbly. Onverdiende gunste en gawes…

Saam beleef ons hoedat virtuele vriendskap in die werklike lewe bevestig word en verstom ons aan die wonder daarvan. Ons kuier en eet en gesels; vra uit om ontbrekende stukkies legkaart van die blogmaat oorkant ons in te vul. Kameel bel en Woordnoot loer in op WhatsApp met ‘n pragtige baba op haar arm. Ons verlang na Toortsie en betreur Bondelsgedagtes se afwesigheid. Una vertel van haar ontmoeting met Hester en haar dogter. Soos Vuurvliegie vanaand op Una se blog geskryf het: daar was ‘n groot groep vroue om daardie tafel.

Ons neem traag afskeid, deel vir oulaas drukkies uit, kry elkeen haar eie koers. Deur die herfsdeurstraalde middag ry ek huis toe, met ‘n hart tot barstens toe vol vrolike dankbaarheid.

Advertisements