SafaribusHierdie bloguitdaging is aanvaar deur 14 Afrikaanse bloggers wat ‘n virtuele toer deur Suid-Afrika onderneem. Die gasblogger van die week moet op ‘n Donderdag, op die datum wat toegewys is, ‘n blog publiseer oor hulle tuisdorp/streek, asook ‘n fiktiewe weergawe van die ander 13 bloggers se kuier by sy/haar tuisdorp.
Klik op hierdie skakel Lys van Deelnemers om die lys van deelnemende gasbloggers te sien, asook die datums waarop hulle blogposse gepubliseer gaan word.
Die 13 kuiergasbloggers vir die week (en hul lesers) kan dan vir die res van die week ook blogposse bylas waarin hulle beskryf hoe hulle die kuier geniet het, of hulle kan ‘n blog skryf oor die streek waarin die gasblogger van die week die kuiergaste onthaal het – vertel van ‘n eie ondervinding in daardie provinsie/streek/dorp, deel herinneringe of plaas foto’s wat daar geneem is. Enige lekker storie sal doen solank dit in die gasblogger se streek/provinsie afspeel. Kuiergasbloggers en hulle lesers moet asseblief ook hulle skakels byvoeg op InLinkz sodat ons almal kan saamlees.
Om jou blogpos by te voeg of om die ander bloggers te lees, klik op die volgende: http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=797928

Kaart

Opmerking: Om die een of ander rede was Hester van Dis Ekke besonder stil op hierdie skof van ons reis, seker maar omdat sy so besig was om die orde te (probeer) handhaaf. Haar blog is uitgesproke gekant teen toekennings, dus kry sy nie ‘n sertifikaat of medalje nie, maar as meesterbrein van die hele Lê-Jou-Eier-inisiatief, skuld ons haar ten minste ‘n grasieuse kniebuiging… Dankie ook aan Una van Bali Drome, wie se breinkind hierdie landstoer is.

Toerprogram

Saterdag 9:00 – 10:00 Arriveer ter verfrissing en kennismaking by Laatlam se huis in Garsfontein.

10:30 – 13:00 Sjampanjepiekniek in Springbokpark, Hatfield. Hierdie sjarmante parkie met sy inheemse plantegroei is reeds in 1905 opsygesit, sedert 1930 ontwikkel en is nog steeds ‘n gunsteling onder die Tukkies. Dit is dag en nag oop, sodat ernstige studente bedags daar oor hulle boeke kan sit en sweet en die ligsinniges saans daar kan gaan kafoefel, of wat hulle dit ook al deesdae noem.

Springbokpark

13:30 Boek in by die Premier Boetiekhotel in Kerkstraat (ag askies, ek bedoel Stanza Bopapestraat), Arcadia. Elkeen kry haar eie knusse, luukse suitetjie met ‘n koningingrootte bed, baie spieëls en ‘n asemrowende uitsig oor die Uniegebou.

15:00 Kooruitvoering in die Z K Matthews-saal by UNISA. Die uwe is ‘n groupie van Gerben Grooten, die dirigent van die Bachkoor en die Pretoriase Simfonie-orkes. ‘n Hele paar jaar gelede het ek ‘n uitvoering van Dvorak se Nuwe Wêreld-simfonie in die Brooklynteater bygewoon en vir die eerste keer hierdie lang, maer Hollander in aksie gesien en gehoor. Vooraf het hy die gehoor in twee verdeel en ons in kompetisie met mekaar aan die sing gekry! Ons moes die geestelike lied “Going Home” sing, wat ‘n tema in die simfonie is – nostalgies en so eg “Deep South”… Ek sien altyd vreeslik uit na sy praatjies voor ‘n uitvoering: hy het geweldige kennis en ‘n vonkel in die oog, ‘n onweerstaanbare kombinasie. Hierdie foto is gegaps van die PSO se fb-blad.

PSO

18:00 Terug hotel toe vir ‘n behoorlike mooimaaksessie. Die son sak en kleur die Uniegebou pienk. In die ooste hang die volmaan soos ‘n koperskinkbord laag bo die horison. Oor die stadstrate sweef die subtiele heuninggeur van bloupers jakarandablommetjies. Ruk uit daai stiletto’s, meisies, vanaand gaan ons Brooklyn op horings neem!

19:30 Betrek die private eetkamer in Kream om ons te vergryp aan hulle fantastiese disse. Mmm – skaapboud en crème brulée vir my, asseblief!

Sondag 8:00 – 11:00 Luilekker ontbyt, óf in die hotel se mooi restaurant, óf in jou eie kamer, nes jy verkies.

11:00 Ontruim julle kamers en pak die Broodbus vir ons volgende skof.

12:00 Arriveer by Lynnwoodbrug en kyk rond. Die atmosfeer van hierdie sentrum is elektries: om die een donkiestandbeeld speel kleuters jillend in die spuitfonteintjies; op die ander donkiebeeld klim die waaghalsigstes om voor en agter die ruiter te gaan sit.

13:00 Koffie en broodjies (sonder diamante) by Tribeca. Dis ‘n besige plek net langs die donkiestandbeelde, met ‘n bruisende atmosfeer en parmantige kelners.

14:00 – 15:30 Karoo-suite deur Coenie de Villiers en Deon Meyer in die Atterburyteater. Hierdie pragtige, intieme teater is waarlik ‘n aanwins vir Pretoria!

Karoo-suite, ’n musieksuite vir woord en lied, is struktureel geskoei op Vivaldi se Vier seisoene. Maar dis nie seisoene wat Deon Meyer in sy wonderskone teks belig nie: dis die mense, die stories en die persoonlikheid van die Karoo. Meyer is ook die verteller op die verhoog. De Villiers het die musiek gekomponeer en die internasionaal bekende skrywer stel sy talent ten toon buite die spanningsgenre. Die bykomende lekkerte is Meyer se asemrowende fotografie en projeksies wat ’n agtergrondtafereel vir dié multimedia-viering van woord, beeld en musiek skep. Meyer is een van die suksesvolste skrywers in sy genre ter wêreld, maar ook ’n fotograaf van internasionale gehalte.

(Met erkenning aan die kopieskrywers van die KKNK 2016 en Google)

Die uwe is ‘n groupie van Deon Meyer, het hom lank gelede by ‘n skrywersgeleentheid aangebied deur UNISA beleef. Die nederigste mens, met daardie kenmerkende attribuut van ‘n naasteliefhebber, naamlik dat hy steeds van homself af wegkyk en op sy medemens fokus. Coenie de Villiers se liedjies maak my al baie jare gelukkig, veral Karoonag wat ek en my kinders altyd saam gesing het.

16:00 Klim in die giggelgroen bus vir die volgende skof van ons reis…

Wat toe gebeur het

Soos julle uit die toerprogram kan sien, wou ek graag die safarigangers op ‘n rustige, nostalgiese sirkelgang deur die stadskern van Pretoria neem. Dis net die regte tyd van die jaar om die jakarandas in volle blom te geniet. Dis vroegsomer, warm en windstil, lieflik.

Maar nouja – hierdie toerprogram is deur die grille en streke van die safari-susters (en hulle agtervolgers – kamtig “beskermhere”, ha!) toetentaal omvergegooi!

Ek moes geweet het hier kom moeilikheid, toe die bus van Laatlam se huis af moet vertrek en twee van die reisgenote is soek. ‘n Frenetiese soektog spoor vir Trommeltjies op, saam met Gabby (amper vyf) heelbo op die klimraam se platformpie, besig om modderkoekies te geniet. Aan die ander kant van die huis het Una van Bali Drome saam met Joshi (twee en ‘n driekwart) in ‘n boom geklim, waar hulle oor en weer vir mekaar blaartjies en takkies present gee. Die uwe het haar stem so dik gemaak dat sy sommer vir haarself geskrik het. (Lorenzo is ook glad nie so aantreklik wanneer hy vies is dat ons sy skedule vertraag het nie. Hester moes mooipraat voor hy die bus se wiele weer laat rol het.)

Ewentwel, toe stap ons deur Springbokpark se hekkie… Watter voorreg, dat Perdebytjie vir ons elke voëlgeluidjie kon identifiseer en Bondelsgedagtes vir ons kon vertel watter van die inheemse plante in die beddings is eetbaar! Wonderlike spyseniers het ‘n yslike piekniekmandjie voorsien met genoeg pikante lekkernye – soet en sout − vir 14 lekkerbekke (plus busbestuurder), asook oorvloedige sjampanje om met so ‘n titseltjie lemoensap te verdun (nie vir die busbestuurder nie). Ons het heel stigtelik begin, maar iemand (ek het my vermoedens wie dit was… Hesterrrr?) het my broodmandjie ook uit die Ventertjie opgediep en saamgesleep. Ons beland toe, nou al goed gesellig, by die dammetjie met die eende en dit kan nie hoër of laer nie, die eende moet gevoer word – MET MY BIERBROODJIES!! Ek en Perdebytjie besef gelyk watse brode nou hier deur die lug seil om op die water gewerp te word en duik tegelyk oor die heininkie in die modderwater in om te red wat te redde was. Gelukkig kon ons al die broodjies insamel, weliswaar so effe klam (wat praat ek, my broodjies was kletsnat!!) maar dis darem nie bedoel vir menslike konsumpsie nie en Pretoria se heerlike hitte het hulle gou uitgedroog. Soos wat ek in my roekelose jeug deur ondervinding geleer het (drie sopies jenewer, lemmetjiestroop en limonade voor mens in die branders gaan speel, is deksels simpel…), en soos ‘n paar weke gelede weer op Harties bevestig, meng water en drank glad nie goed nie (dis hoekom daar “mixers” is). So amper het ek in my mimosa-toestand nie die kant van daai dammetjie gehaal nie…

Hoekom op aarde die parkopsigter ons by die parkie uitgeboender het, verstaan ek ook nie so mooi nie. Die eende het toe mos ander gewone broodjies gekry. Bome hou daarvan om geklim te word. Mooi blomme moet gepluk word, eetbare plante moet geproe word! Openbare rusversteuring? Vandalisme? Wie, ons??

By die boetiekhotel aangekom, moes ons vinnig speel om stof en modder af te skud sodat ons weer oordintlik lyk.

Om by die Z K Matthews-saal uit te kom, klim mens trappe dat jy amper wil gaan lê. Ons kry elkeen ‘n program met die libretto van die koorwerk, word gemaan om asseblieftog ons hoogs gewaardeerde applous te bêre tot heel aan die einde van die uitvoering, en klim nog ‘n lot trappe om dankbaar in die sagte stoele neer te syg. Ag, en waar slaan hierdie ou tannie toe haar naam met ‘n plank en raak rustig aan die slaap… Dankie, Scrapy, vir die taktvolle manier waarop jy my elke nou en dan so liggies met die elmboog gepor het, anders het ek dalkies nog gesnork ook… Na die jubelende applous en ruikers wat links en regs uitgedeel word, kry ons my vriendin wat in die koor sing in die voorportaal, sodat sy mijnheer Grooten aan ons almal kan voorstel. Hy neem elke towerin se hand saggies en sjarmant in syne (lang, slanke vingers waaruit die musiek vloei wanneer hy op die podium staan), maar as hy by Kameel kom, vergeet hy van al die ander bewonderaars om hom en fokus net op haar. Ek kon slegs dele van die gesprek hoor, frases soos “in ‘n ander lewe… só na jou gesoek… nou, hier, in Afrika… heel onwaarskynlik… my verlore beminde…” Met ‘n sagte snikkie keer Kameel haar weg en strompel blindelings die trap af met die res van ons agterna. Dankietog ek het, met die oog op daardie einste trap, die Towerinne aangeraai om liefs gemaklike, veilige skoene aan te trek!

Saterdagaand, omgewe deur sagte wolkies parfuum, stap ons gesofistikeerd op ons stiletto’s verby Kream se kroeg op pad na ons private eetkamer. Vier manne sit in ‘n ernstige bondel by mekaar – jouwarempel! Ons ken mos daai lotjie! Danie Coetzee uit Suid-Amerika het die kroegman aan die gesels gekry oor sy wedervaringe, Lewies sit en mymer oor sy whisky, Baron von Room se stiletto-letsels lyk nie meer so erg nie (dalk te danke aan Hia de Sint se tere sorg?) Die vierde persoon is onbekend, maar Lekkervurig, wat haar op die plek vervies het oor die manne se teenwoordigheid, pyl op hom af: “Nou wie’s jy nou altemits, meneer?” “Ek is Vuurklip, me Lekkervurig, en ek skat ons twee het heelwat gemeen? Aangename kennis!” “Wat maak jy hierso, wat’s jou orders en waarheen is jy op pad, Vuurklip?” “Sjoe, metafisiese vrae so vroeg in ons vriendskap!” Met dié ruk Lekkervurig haar op en om: “Kom, girls…” en daar gaat ons eetkamer toe, laat die manne maar val waar hulle wil…

(‘n Vinnige persoonlike tjommeltjie: Wanneer ek soms drieuur-in-die-nag sit en blog, kan die bloggers se kosvertellinge my rasend honger maak. Hiermede neem ek wraak – vatso!)

Kleurryke sushi vir diegene wat van rys en vis hou, kapokaartappels delikaat met grasuie gegeur, smeltsagte skaapvleis in die heerlikste sous, gekaramelliseerde pampoen, bros groenboontjies, verstommende slaaikombinasies… Malvapoeding met rêrige vla, sorbet in drie verskillende vrugtegeure, crème brulée, ‘n sjokoladekonkoksie uit die sjef se wildste drome…

Halfpad deur die aand gaan nooi Bondelsgedagtes-met-die-sagte-hart die bedremmelde manne by die kroeg om by ons te kom aansluit, nadat sy eers lank met Lekkervurig gekoukus het. Gretig aanvaar hulle die uitnodiging en kom skuif by die groot vierkantige eettafel in, een aan elke kant, ewe mooi gebalanseerd. Die wellewende gasvrou wat in Una skuil (is dit dalk haar alter ego – Amelia met ‘n A?), spring aan die werk: sy bestel ‘n sappige biefstuk vir Danie, ‘n allemintige porsie sushi vir Lewies (hy het mos nou al geleer seekos eet daar by die kus waar hy nou woon), ‘n galjoen vir Vuurklip en tiramisu vir Baron von Room. Daar is ek nog ‘n diamant kwyt… Gelukkig het Trommeltjies van haar beroemde en berugte rooiwyn ingesmokkel, sodat ek nie nog vir drankies ook hoef te betaal nie!

Daarbuite het ‘n sterk bui reën uitgesak en wanneer ons uiteindelik terugstap bus toe, is alles heerlik koel en die stadsligte weerkaats in die blink teerstrate. Ons bus is op die Brooklyn-verkeersirkel tussen die taxi’s geparkeer. Soos ons aangeloop kom, hoor ons die slepende Afrikamusiek en sien ons hoe ‘n klompie Uber- en taxibestuurders dit voor die groen bus uitkap. Toortsie ruk haar kitaar agter uit die bus uit en val in by die ritmes, terwyl die Towerinne elkeen op haar eie manier die musiek in dans vertolk. Baron von Room en Perdebytjie langarm in die straat af; Lekkervurig en Vuurklip bop te lekker; Una en Danie wals al in die rondte; Positief en Lewies kap dit uit met ‘n swing-item; Hester en Lorenzo foxtrot vir die vale. Die uwe ken net een dans waarvoor mens nie ‘n dansmaat benodig nie en daarom lei ek die res van ons in ‘n lewendige macarena-nommertjie, min wetende dat paparazzo-foto’s van ons almal more op Rapport se agterblad gaan pryk!

Skielik staan Silver voor my – die musiek is so hard dat ek nie die Harley se kenmerkende gebrul gehoor het nie. Hy pluk ‘n rooi roos uit een van Tshwane Parke se beddings, byt dit tussen sy tande vas, gryp my in ‘n meesterlike greep en daar tango ons dwarsoor Brooklynsirkel tot by die anderkant, waar hy my soos ‘n veertjie optel en saggies op die agtersaal van die Harley neersit. Positief kom aangedartel en spring agterop Big Daddy Cool se baaik en VirgoC klim agter Padda op die derde pragtige Harley, de ene chroom en veters. Die laaste wat ek van die sirkelfees sien en hoor, is Toortsie wat haar kitaar goedkeurend in die lug rondswaai en ululeer soos g’n Oos-Kaapse vrou haar dit sou kon nadoen nie. Waar op aarde het sy daardie kuns aangeleer?

Net voor middernag sleep die Towerinne die hotel binne, voetseer en vroom in die wete dat hulle al daai uitspattige aandetes afgedans het, en gou is almal rustig in droomland. Niemand bekommer hulle enigsins oor ons vier “beskermhere” nie, wat glo in die Uniegebou se tuin in Abrie se stapperstentjie uitkamp…

Sondagoggend seweuur word Rapport voor elke deur neergesit en baie gou trek die gegiggel soos ‘n veldbrand deur die Towerinne se gang. Woordnoot lees met haar welluidende stem en professionele aanbieding hardop die enkele paragraaf en al die byskrifte voor:

Verstommende Saterdagaandtonele by die Brooklynsirkel

“Reënboognasie” het laat Saterdagaand ‘n nuwe betekenisfaset bygekry. ‘n Groep elegante dames, vier verkeerdeveer-mans, ‘n uitlandse busbestuurder en die Uber- en taxibestuurders van Brooklynsirkel het spontaan saam begin dans. Neon- en straatligte het feestelik in die reënplasse geblink en die toneel met al die kleure van die reënboog geverf. Rapport kon ongelukkig geen bevredigende antwoorde kry toe ons na die dansers se identiteit en ouderdomme verneem het nie. Die dames het eienaardige name verstrek en een het selfs beweer dat hulle towerinne is, waarna hulle in ‘n groot groen bus geklim en weggejaag het. (Fotokrediet aan ‘n onbekende paparazzo in ‘n lang swart jas.)

Onbekende musikant speel verruklik kitaar

Onverskrokke dansers in besige straat

Bop en swing in Brooklynsirkel

Meesleurende walsdraaie

Die macarena is weer mode!

Harleys brul deur Brooklyn

Na ‘n rustige ontbyt pak ons die bus en sit af Lynnwoodbrug toe. (Nouja, dit was rustig totdat Woordnoot begin broodjies van die balkon afgooi na die straat toe, waar die vier Uniegebou-kampeerders dit vang om in hulle kitskoffie te gaan doop… Ag, en toe was daar nóg ‘n kommosie toe die koerier Trommeltjies se busvrag wyn aflewer… Gelukkig kon Lorenzo die probleem van genoeg bêreplek oplos deur ‘n kis onderkant elke bussitplek in te skuif.)

By Lynnwoodbrug gekom, sien ons Tribeca het toegemaak! Ag, dis nou ‘n ramp. Gelukkig is Stephnie’s net oorkant en ons stap soontoe. “Tafel vir dertien?” Dertien? Wie’s weg? Ek kan my oë nie glo nie: daar sit Scrapy hoog en droog en agterstevoor op die donkiestandbeeld! Wys jou net: as daardie vrou iets nuuts geleer het, beoefen sy die vaardigheid. Dis Bondeltjies se boeresport se skuld!

Intussen het Seegogga op die rug geklim van die donkiestandbeeld wat tussen die fonteintjies lê, sy kla lankal dat Gauteng se lug haar uitdroog en dat sy see toe verlang. Umm, dis maar ‘n flou plaasvervanger vir die wonderlike see, en daar’s ook niks sand nie, maar darem dra Bondelsgedagtes vir haar tee en koek aan wat sy net daar in die watertjies kan geniet. (Die flentertjie diamant waarmee ek die gekrenktheid probeer salf het van Stephnie’s se bestuurder oor haar porselein op ‘n donkierug, het gelukkig gewerk.)

Donkietjie-300x224

Skielik kom gisteraand se drie Harleys stadig om die hoek aangebrul met Silver, Big Daddy Cool en Padda agter die stuur. Ek, Positief en VirgoC klouter elkeen agterop ‘n masjien en ewe statig ry ons verder, tussen die mense deur, in ‘n wye sirkeldraai verby al die winkels totdat ons weer by die donkiefontein afgelaai word. (Die knewel van ‘n diamant waarmee ek die verontwaardiging van die kompleks se bestuur oor hierdie toneeltjie moes laat bedaar, is met liefde prysgegee…)

Die teatergangers in die voorportaal van die Atterbury kyk verstom hoedat ons by die voordeur instap – ja, julle Pretorianers, Harley-mense het ook kultuur! Ná die sirkelrit is daar geen huis met Positief te houe nie – toe ons weer sien, sit sy op die verhoog aan Deon Meyer se voete na hom en luister. Gelukkig het die man ‘n oog vir ‘n mooi nooi en hy gaan rustig voort met sy voorlesing. Aan die einde bars Positief in trane uit en snik teen sy skouer oor hoe sy Karoo toe verlang… (Die heel laaste diamant uit die bierbroodjies verdwyn in die sak van die verhoogbestuurder wat dreig om Positief te laat toesluit. Twee tronkselle binne twee weke – mens kan dit mos nooit laat gebeur nie!? Gelukkig kon Hester die man oorreed om nie te prosedeer nie.)

Met die flair van ‘n ervare reisiger maak Trommeltjies ons almal bymekaar en boender ons by die giggelgroen bus in, op pad na Mokopane onder Scrapy se leiding. Die bierbroodjiediamante is nou wel op, maar danksy Woordnoot se Cullinantrippie is daar ‘n hele nuwe voorraad, en ‘n wêreld se avonture lê nog voor.

xxx