Gisteraand kon ons weer oor die foon gesels, dit was so lekker om H se mooi stem te hoor en die innige geneentheid tussen ons te beleef. Vanoggend dink ek aan Toortsie se uitnodiging om te kom vertel hoe ons van ons vriendinne ontmoet het:

Net so aan die buitewyke van die middelste middestad staan Unisa se blou gebou. Hierheen ry ek elke dag bus van Arcadia af om my brood in die Afrikaanse Departement te kom verdien. Dis die laat sestigerjare van die vorige eeu; Afrikaanse skrywers vertel van Parys, taalkundiges delf diep in die struktuur van hierdie jong taal, filosowe bepeins die verskynsel van volk en vaderland.

Self is ek te besig met my ligsinnige jonkwees om enigsins ‘n bydrae te lewer, maar ek bring darem my kant met die elkedagse werk. In die teekamer, waar daar elke oggend amptelik tee gedrink word, hoor ek van die belowende jong student wat sulke puik werkstukke lewer.

Eendag stap ‘n jongmeisie saam met my in die hyser in en druk die knoppie vir die verdieping waarheen ek op pad is. Haar lang hare is sag en sorgvuldig om haar kop gevou, sy glimlag skaamweg vir my. Ek sit twee en twee bymekaar en met my gewone voortvarendheid vra ek of sy dalk mej. HB is. “Ja!” antwoord sy verras. Net daar terwyl ons boontoe ry, vertel ek haar van haar goeie naam in die departement en hoe beïndruk haar dosente met haar is. Ons stap by die hyser uit sonder dat ons besef dat dit die begin van ‘n lewenslange vriendskap is.

Daar is soveel kiekies van haar in my hart: Saterdagoggend se kuier in Sunnyside; Sondagmiddag aan haar mammie se etenstafel; elke oggend se koffiesessie in die kafeteria; ‘n volmaanaand op die dak van Fort Namutoni met ons spoorwegbustoer in Suidwes-Afrika; aan’t studeer by die tafel in haar mammie se kombuis; op haar troudag; sy en haar twee seuntjies in die voordeur van hulle huis, al drie vol waterpokkieletseltjies (hoe vinnig het ek daardie dag spore gemaak!)…

Laterjare is sy en haar gesin Kaap toe, maar steeds het ons moeiteloos die drade opgetel wanneer ons by mekaar kon uitkom en kon ons ure lank in ‘n winkelsentrumkafeetjie sit en gesels terwyl die wêreld verbydruis. Nou-die-dag stuur sy vir my ‘n WhatsApp-prentjie van ‘n verjaarsdagkaartjie van my af wat sy langer as 40 jaar tussen haar dokumente bewaar het. Self het ek ook iewers ‘n lêer met memento’s.

Wanneer H verjaar, blom Facebook van die gelukwensinge. Sy het ‘n besonderse belangstelling in en aanvoeling vir mense en die vermoë om bande te skep en in stand te hou.

Deur al die jare het sy steeds met kenmerkende deeglikheid haar vak beoefen en hierdie liefde vir Afrikaans het haar op interessante en indrukwekkende paadjies gelei. Tog bly sy een van die mees beskeie mense wat ek ken.

Hoe bevoorreg is ek, om haar my vriendin te kan noem.