Laatlam se skoonouers vat my in styl lughawe toe; ons drink koffie en hulle begelei my tot by die instaphek. ‘n Korte uur en ‘n half later kry ek my bagasie op Port Elizabeth en kies koers na waar ek my dierbares uit Ierland (het nie geweet hulle gaan my ook kom ontmoet nie!) agter glas in ‘n kafee sien sit, net om vlak voor hulle vas te steek en te besef die uitgang is iewers anders. Ek waai verwoed – en verleë – en verander van koers na die uitgang, waar my dierbares uit die VSA vir my staan en wag. Intussen storm die twee kleinkinders by die kafee uit en ons voer ‘n ikoniese ontmoetingstoneel op, wat natuurlik veroorsaak dat ouma se trane loop…

Dis die begin van vier juweeldae, wat binne ‘n oogwink verbyvlieg. Al drie my kinders, met hulle geliefdes, saam by die wintersee van Jeffreysbaai: wit strande, rotspoeletjies, skulpe en sandkastele, turkooisblou water en goue son.

My liewe dogter het ‘n professionele fotograaf gekry om die heel eerste middag te kom foto’s neem, “…want dan het ons nog nie baklei nie…” Die oggend plas ons in die rotspoeletjies rond, maar daardie middag steek die gebruiklike verskriklike wind op waaraan ons op ons somervakansies hier gewoond geraak het. Waaiers sand swiep deur die lug – hier gaan ons nie vandag lieflike familiefoto’s met die see as agtergrond geneem kry nie! Een of twee word darem gekiek, so teen die wind in…

Family

Ons verkas noodgedwonge na ‘n beskutte parkie; watter teleurstelling vir my dogter, wat so graag ons foto’s teen die wilde Afrika-see wou gehad het! Ek kan sien sy’s teleurgesteld, maar sy byt op haar tande en speel en lag saam, sodat ons uiteindelik pragtige foto’s geneem kry. Ek onthou die dag toe haar boetie ‘n splinternuwe fiets moes kry omdat sy fiets gesteel is deurdat hy dit nie loop bêre het nie. Oop en bloot het dit teen die garagemuur gestaan en leun en toe was dit weg. Wat kon ons anders doen, die kind moes ‘n vervoermiddel hê! In plaas daarvan om ‘n verontregte bohaai op te skop, het my dogter haar ou pienk fietsie uit sy bêreplek gaan haal en hom silwerskoon gewas en blinkgevryf…

Family-36

Op dag 2 leer klein Frans my Magic Cards speel (ouma wen, want sy kaarte was swak!) en daarna sleep ek agter die kinders aan deur die winkels. My tyd van begeer en opgaar is verby, ma is so effens verveeld. Ons kry ‘n restaurant met ‘n mooi see-uitsig en dit word ‘n gesellige middagete. Later speel ons op die strandhuis se grasperk voor die rooi aalwynvlamme. Klein Frans het ‘n Amerikaanse voetbal present gekry. Hy hou dit soos ‘n kleinood vas en gooi en vang met wie ookal gewillig is om saam te speel. Hy laat my aan ‘n kameelperdjie dink, so asof hy nie heeltemal tuis is met die lengte van sy ledemate nie. Weet julle hoe voel dit as ‘n kleinkind mens al waterpas in die oë kyk? Hy word vanjaar dertien en my Amerikaanse skoonseun sê hy sien kans vir ‘n kinderhuis met dertien sulke seuntjies, in plaas van die nege wat hulle wel het. Die braaivuur gloei gesellig, boeties en sussie het jare se gesels om in te haal, twee nefies en twee niggies leer mekaar ken.

Dag 3 tref ‘n maagvirus ons geselskap… Nouja, dis mos maar die lewe:

‘n Druppel gal is in die soetste wyn;

‘n traan is op elk’ vrolik’ snaar,

In elke lag ‘n sug van pyn,

In elke roos ‘n dowwe blaar.

Uit Skoppensboer – Eugène Marais

Vandag is daar geen sprake van Stormsriviermond toe ry nie… Ons kies koers na die strand waar die mooiste skulpies te vinde is. Die middag bring ons weer op die grasperk deur en toe gaan ons na Die Walskipper vir aandete, ‘n restaurant reg op die marine se strand, mens sit met jou voete in die sand! Marissa, ons vriendelike kelnerin, kom nooi ons om soetjies en versigtig na die rob te gaan kyk wat in die donker teenaan die rotse sit en uitrus van sy lang swem, voordat hy verder gaan. Sy steel my hart, des te meer omdat sy vir my klein pasella bakkies heerlike stoweboontjies en pampoenkoekies inskep – hoe het sy geweet hierdie tannie smag na boerekos?

Dag 4: Ons ry vir die dag Stormsriviermond toe. By Stormsrivierbrug staan ons by die kompleks se uitkykplek en koeldrank drink, toe die oulikste diertjie sy verskyning daaronder in die bosse maak (slim ook, want duidelik is hierdie ‘n plek waar die outjie dikwels iets te ete kry) – ‘n mongoose, en niemand weet wat dit in Afrikaans is nie. Het nou in die woordeboek gaan kyk, dis ‘n muishond, maar o aarde, daar’s omtrent vyf verskillende soorte in SA! Dalk moet dié enetjie maar ‘n mongoose bly?

Die heerlike warm dag verloop salig. Albei pa’s baljaar met hulle kinders in die water, ‘n klomp van ons stap na die hangbrug toe.  Laatmiddag ry die ander, maar my Amerikaanse kinders en ek vertoef nog in die skemering. Ons vra by die winkeltjie wanneer die hekke sluit – dis eers seweuur. So stap ons af in die rigting van die Groot Rots, sit en kyk hoe die aandgloor in die rotspoele weerkaats, beleef die vrede van die see en die reënwoud. Watter towerplek is dit tog dié!

Aandgloor

Dag 5: My dogter is siek en ons moet terugvlieg Jhb toe. Ek bestuur tot by PE, met my hart in my keel, maar haar man is ‘n wonderlike ondersteunende teenwoordigheid. (Self kan hy nie bestuur nie, want hy is nie gewoond aan “shift-stick”, soos die Yanks die ratte noem nie.) Ewe kalmpies sê hy egter: “I think you’re in third gear,” en ek besluit om maar seker te maak – ja, inderdaad! Daarna het dit darem beter gegaan met die ratte saam… Op die lughawe lê my meisiekind met haar kop op my been en my hand rus op haar skouer. Ek weet sy voel misrabel, maar ek is so dankbaar vir hierdie kort ou rukkie wat ek haar nabyheid so onbeskaamd kan koester…