Hierdie is ‘n vervolgverhaal deur verskillende bloggers. Om die eerste 4 hoofstukke te lees, klik op die InLinkz skakel hieronder.

Om aan hierdie uitdaging deel te neem, lees die reëls by hierdie skakel.

InLinkz skakel: http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=789999

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposte Lê-Jou-Eier: Reëls(2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22)

VRYWARING

Volgens hoofstuk 1 is Oom Esra Nellie se ma se enigste broer. Hoofstuk 4 verwys egter na hom as Nellie se pa se broer, wat interessante nuwe moontlikhede skep. Met behulp van die spoor wat daar gelê word, sou mens bv. so verder kon skryf:

“Nee,” besluit Esra Viljee, “Ek sien nie kans vir die hospitaal nie! Hier dood ek vandag – of dalk nie. Solank ek net die waarheid oor Nellie neergeskryf kry, gee ek nie juis om wat met my gebeur nie.”

Hy klem die pen vas en begin skryf:

Nellie, my kind, jy was nog altyd verstandig, daarom glo ek jy sal weet wat om te doen.

Jy is regtig my eie kind, ek en jou ma was lief vir mekaar. Jare lank al pers jou oudste broer my af, want hy ken ons storie. Ek het maar altyd betaal, want ek was bang vir die gevolge as die waarheid sou uitkom. Ek kan nie meer betaal nie, my geld is op, dis nog net die plaas wat oorgebly het. Jy moet een derde van die plaas erf, my kind, sorg tog dat Chris en Klara dit so vir Oom Dewald Prokureur sê.

Vergewe my dat ek

Esra syg vooroor en die pen glip uit sy kragtelose hand.

“Pa? Pa, Pa!” Klara skud aan Oom Esra se skouer. Hy haal nog floutjies asem, sien sy. “Help, help – Ma, bel die ambulans!”

Wanneer die ambulans in die verte verdwyn, met Klara en Tannie Krissie in haar nuwe Mercedes en ‘n stofwolk agterna, kom Lettie die chaos in die studeerkamer opruim soos wat sy aangesê is. Sy sien die handgeskrewe nota op die lessenaar lê en haar oog vang Nellie se naam. Die huis is so leeg sonder daardie meisie, wat altyd so gaaf en vriendelik teenoor almal was! Nuuskierig lees sy verder, terwyl sy met dankbaarheid aan die geletterdheidsklasse op die bure se plaas terugdink. As sy klaar gelees het, gaan staan sy by die venster oor die veld en uitkyk. Hierdie nota gaan ‘n hele familie uitmekaarskeur. Hoe nou gemaak? Moet sy dit eenvoudig opskeur en weggooi, of moet sy dit net daar op die tafel los?

Tot tyd en wyl ons uitsluitsel oor die verwantskap tussen Nellie en Oom Esra kry, bepaal ek my liefs by Nellie se storie.

@ Hester van Dis Ekke: Dis nie jou kommentaar iewers op een van die ander hoofstukke wat hierdie wending veroorsaak het nie, belowe! Ons dink seker maar eenders.

Die laaste deel van hoofstuk 3 het so gelui:

Jakkie begin ernstig beduie, en die man met die sagte, mooie oë lag.

Goed Jakkie, kom ons vra haar. Juffrou, kan ons jou ñ geleentheid gee en iewers gaan aflaai, of is Kimberley nie jou eindbestemming nie?

In daardie oomblik weet Nellie dat sy ñ lewensbelangrike besluit moet neem, een wat haar toekoms gaan bepaal.

Bly sy, of gaan sy…

*********************

Hoofstuk 5: Bieg, of padgee?

Nellie se oë skiet weer vol trane. “Eintlik weet ek nie regtig waarheen nou nie… Kan julle dalk ‘n gastehuis aanbeveel?”

Jakkie se mamma kyk haar ondersoekend aan. Sy merk op dat die verwese meisie, nadat sy vir Renier handgegee het, weer haar arm koesterend om Jakkie se skouertjies slaan. Net daar besluit sy: “Nou maar dan beveel ek my eie huis aan, dis nie ‘n amptelike gastehuis nie, maar jy kan so lank as wat jy wil verniet daar bly, totdat jy weet waarheen nou!” Nellie probeer teëstribbel, maar haar verligting is duidelik sigbaar. Sy het weliswaar vroeg-vroeg geleer om haar gesigspiere te bedwing, maar haar uitdrukkingsvolle blou oë kon sy nooit so onder beheer kry nie. Miskien was dit haar pragtige oë, saam met die koringkleurige bos krulhare, wat jare vantevore Tannie Krissie se onmiddellike argwaan teenoor die arme ou dogtertjie ontketen het.

“My naam is Marlie van den Berg,” gaan die ouer vrou voort, “en ek gaan nie ‘nee’ aanvaar nie! Kom, Renier, vat ons almal huis toe, asseblief?” Nellie moet nou vinnig dink: hoe gaan sy haarself voorstel? As Oom Esra en Chris op Kimberley na haar kom soek, gaan hulle haar sommer gou opspoor as sy haar regte naam gebruik! “Ek is Suné Davel,” antwoord sy, “Baie dankie vir jou gasvryheid, Marlie!”

Renier wil die toksak by haar vat om dit in die kattebak te sit, maar Nellie klou verbete. Hy sien die benoudheid in haar oë en laat los: “Ag toemaar wat, daar’s genoeg plek op die agterste sitplek vir jou en Jakkie én jou yslike sak,” maak hy ‘n flou grappie om haar te laat ontspan.

Die middag vlieg verby, met Jakkie wat vir haar al sy gunstelingplekke in die welige tuin gaan wys. (Die toksak het Nellie diep in die hangkas in haar kamer gebêre.) Sy en Jakkie klim die groot boom en sit op Jakkie se gunstelingtak hulle bene en swaai. Renier lag te lekker toe hy daar op hulle afkom. “Moet jy nie gaan werk nie?” vra Nellie ewe parmantig. “Ek het skofte geruil om my sus-hulle op die lughawe te kan gaan haal, ek werk vanaand weer.” “Nou het jy dan nie ‘n huis nie?” “Dit ís my huis hierdie – toe Jakkie se pa verongeluk het, het ek hier by Marlie-hulle kom intrek.” Nellie trek haar asem in, kyk vinnig na Jakkie en stamel: “O, ek…ek is só jammer…” Jakkie beduie vir haar dat Oom Renier nou al twee jaar by hulle bly. Met gebare vertel hy verder dat sy mamma graag weer wil gaan werk, maar dat sy vir Jakkie nie sommer by enigeen kan los nie. Maar hy het vandag ‘n baie goeie plan gekry: Nellie kan hom mos oppas! Sy verstaan wat hy vir haar vertel en sy praat ook gebaretaal en hy wat Jakkie is, hou baie van haar. Renier los die twee daar in die boom; stap stadig en nadenkend terug huis toe.

Vroegaand eet hulle gesellig saam en ten spyte van al haar kommer, slaap Nellie heerlik rustig.

Die volgende oggend stap sy by die eetkamer in en sien die Volksblad op die tafel lê. Groot swart letters basuin dit uit: “Vervalser slaan weer toe”. Sy gryp die koerant en lees:

“Vervalste R200-note is gisteroggend gebruik om vir verblyf by die Road Lodge in Bloemfontein te betaal. Volgens die hotelbestuurder word R200-note altyd goed bekyk en kon hulle dus gou agterkom dat dit vervalsings is. ‘n Saak is aanhangig gemaak en die polisie sal die note nou vir vingerafdrukke toets.

“Die bevelvoerder van Bloemfontein se sentrale polisiestasie in Parkweg het by navraag bevestig dat dit die vierde geval vanjaar is waar vervalste R200-note in die stad opgeduik het. Die vorige gevalle was by die Landbouskou, die Koöperasie en die diesel-depot, wat die vermoede laat ontstaan het dat die vervalser moontlik in landboukringe kan beweeg. ‘Hierdie nuwe geval pas egter nie in by ons teorie nie. Die polisie sal nou met hernude ywer ondersoek instel en ek wil hierdie skelms waarsku dat hulle met die volle mag van die wet te doene gaan kry!’ – aldus brigadier Mpho Sekonyane.”

Dit voel vir Nellie asof sy oormekaarkyk van die skrik. Vervals?! Haar wonderlike meevaller is niks werd nie – trouens, dit het haar nou onwetend in die vreeslikste moeilikheid laat beland! Hmm, ja, onskuldig is sy sekerlik nie – sy het immers die geld vasgelê – maar nou het sy met een felle slag in die visier van die hele Bloemfonteinse polisiemag beland! Sy ruk soos sy skrik toe Renier by die eetkamer ingewaai kom, maar kry dit darem reg om redelik normaal op sy vrolike groet te antwoord.

“Wat staan jy so rond? O, jy het die hoofberig gelees. Bloem se polisie het ons ook al gevra om te help met hulle vervalsingstameletjie! Suné? Wat’s fout? Iets hinder jou vreeslik, ek het dit gister al opgemerk. Wil jy my nie maar vertel wat jou so pla nie? Dalk kan ek op die een of ander manier help?”

Nellie sien die opregte besorgdheid op Renier se deernisvolle gesig. Jare lank het sy alleen al haar laste gedra; dit sal so ‘n verligting wees om net hierdie hele petalje uit te stort, sodat sy uiteindelik op iemand anders kan steun…

Sal sy bieg, of so gou moontlik plan maak om pad te gee − en indien sy sou besluit om te vlug, waarheen dan?