Vandag se blog-por is “Tea”. Omdat die uwe verslaaf is aan tee en ook aan blog-skryf, gehoorsaam sy summier. Ook om vir julle te laat weet dat dit wonderlik is om weer by julle almal te kan lees en te hoor hoe dit gaan – ons is nou weer op ‘n plek met wifi.

Ek hou van die Amerikaners. Hulle is vriendelike, hartlike mense, wat weet hoe om verjaarsdae en herdenkings en seisoene behoorlik te vier. Ek verstaan hulle taal (meestal) en verduidelik graag my aksent, wat orals opgemerk word. Dis lekker om in ‘n wêreld rond te beweeg waarin daar bekende elemente is, wat tog nie heeltemal bekend is nie.

So neem my dogter my en haar vriendin H na Camellia’s Sin Tea Parlor, ‘n bekoorlike teekamer in ‘n geskiedkundige ou dorp/amper stad Carlisle, hier in Pennsylvania. Hulle verduidelik hulle naam so:

Camellia sinensis is the botanical name for the tea plant; hence Camellia’s “Sin” (Did you know that all of the tea you drink comes from this one plant?)

Die voordeur van die geskiedkundige geboutjie sit vlak op die straat.

Met die geskenkwinkeltjie links, stap mens deur ‘n gang wat uitmond in die wonderlikste spasie, ‘n groot ou eetkamer met ‘n yslike bow window en fraai gedekte tafels: fyn porselein, sierlike teepotte, mooi tafeldoeke en bypassende lapservette.

Daar is ‘n muurkas met nog teepotte en koppies; ‘n rak vol hoede waaruit mens een kan kies om te dra terwyl jy teedrink, as jy sou wou; die mooiste muurversierings.

100_2265

Hier drink mens tee soos mens elders wyn drink: die een na die ander koppie saam met die vasgestelde spyskaart: sop, slaai, skons (sout en soet) en les bes, ‘n dubbelverdieping-koekbord met soet en sout happies. Dis ‘n eienaardige volgorde, maar dit werk goed en die porsies is (dankietog!) mooi klein en fyn, nie so skrikwekkend groot soos wat dit gewoonlik in die VSA is nie. (Ek onthou nou nog my skok toe ‘n “medium” Starbucks-koffie aan my oorhandig is…)

‘n Mens mag agtereenvolgens drie teepotte vol kies uit die oorstelpende verskeidenheid geure, op voorwaarde dat jy elke teepot eers leegdrink – We don’t like wasting tea! Ons het die volgende geure kafgedraf:

Snowflake – a black tea with coconut, almond and cinnamon; Pineapple upside down cake – a black tea with pineapple and cherry bits with caramel flavor; Fairy dust – a black tea blended with vanilla, spices and botanicals.

Ek het die tee swart gedrink, met een suikerblokkie in elke koppie, netjies deur ‘n suikertangetjie vasgeknyp en afgelewer. Diep asemteue het my laat besef dat die tipies Amerikaanse oordaad van gemengde geure (niks hier het net één geur nie!) tóg kan werk. Moet egter erken dat ek nie meer reg aan die Fairy dust kon laat geskied nie…

My liewe dogter noem hierdie uitstappie met reg ‘n viering van vrou-wees. Waar sou ons wees sonder tee?

100_2273