In ʹn geselskap raak sy tjoepstil. Sy’s ʹn selferkende introvert, maar onder die (letterlik) niksseggende dop woed daar ʹn wonderlike ryk verbeeldingslewe en ʹn intense lewensvreugde. Om met haar deur ʹn Amerikaanse “store” te slenter, is om die Amerikaanse belewenis opnuut te ervaar. Sy haak vas by ʹn rak sonbrille en vis ʹn raam met “stars ʹn stripes” uit vir ʹn selfie. Sy rangskik ʹn ry patriotiese coke-blikkies sodat die Amerikaanse vlaggies in gelid oplyn en kiek hulle dan. Sy ontdek “pop tarts” en graankos met pikkewyne (?) op die houer. Hierdie kosbare universiteitsvriendin van my dogter het vir een week in die VSA kom kuier om my kind te ondersteun na haar ernstige operasie. Sy is gister weer terug Suid-Afrika toe en ons weet sy het veilig daar aangekom. Ons en Daisy die hond verlang verskriklik na haar.

100_2278

Na agt dae in die hospitaal, waartydens ek en haar man soos zombies in verskeie hospitaalkamers gesit het, is my kind ontslaan. Sy herstel stadig maar seker. Terwyl haar vriendin hier was, het ons elke dag op ʹn uitstappie gegaan, want H is ʹn wêreldreisiger met ʹn internasionale bestuurslisensie, anders as die uwe wat te skrikkerig is om aan die regterkant van die pad te gaan staan en ry. Die ekskursies was wonderlike medisyne, net die regte ding om V aan die gang te kry en haar weer aan die wêreld daarbuite gewoond te maak.

My hart is tot barstens toe vol dankbaarheid oor goeie mediese sorg, ʹn staatmaker-skoonseun, ʹn dapper dogter, ʹn dierbare vriendin en ʹn genadige Vader.

Advertisements