Die stoflap vee oor ou merke op hierdie stewige tafel, wat my kind vir haar pers VSA-eetkamer aangeskaf het. Voordat dié soliede stuk hout hier tuisgekom het, het dit iewers anders diens gedoen. Watter kindjie het huiswerk daarop gedoen en die gomletseltjie veroorsaak? Watter skraap is dit daardie en wat het dié dag gebeur? So gaan swerf my gedagtes oor tafels deur vele jare…

Die Edwardiaanse tafel van my ouma, uit my tantes se huis, staan nou in Laatlam se huis. Dis eintlik te laag vir hedendaagse mensgroottes – jy moet mooi versigtig gaan sit, anders stamp jy jou dye ‘n bloukol. Saans by lamplig het die groot gesin formeel daarby aangesit en laterjare het my tantes vir hulle sussie en haar gesin aandete of Sondagmiddagkos daarop voorgesit. Van my vroegste herinneringe aan sorg en geborgenheid sentreer rondom daardie tafel.

Daar staan nog ‘n tafel in Laatlam se lapa: my mammie se eerste eetkamertafel in haar eie huis. Die blad is gelamineerde hout wat nou al afskilfer van jare se rondswerwe saam met my. Toe ek en my woonstelmaat as jongmeisies ons ouers en vriende onthaal het, was dit op hierdie tafelblad. Die tafel het rond en bont saam met my getrek en is nou nog nie lendelam nie. Mag sy nooi tog ook maar so sterk bly staan!

Skielik onthou ek die onstewige goedkoop planktafeltjie wat in my woonstelkombuisie langs die groen enemmelstofie diens gedoen het in die stormagtige jare van my laat-twintigs. Wat sou daarvan geword het? Waar is die mandjietafeltjie wat my jare lank gehelp het om bo in kaste by te kom? Die koffietafel met die bal-en-klou-pote? Kleiner meubels is so weerloos, hulle word so maklik agtergelaat.

Dit gebeur nie sommer met ‘n lessenaar nie: lessenaars word amptelik aan nuwe bewoners oorgedra, soos wat met ‘n digtersvriend se lessenaar gebeur het. Ek het so gehoop dat die muse saam met die tafel sou kom, maar nee – steeds kan ek nie dig nie…

My pa se lessenaar het wel iets van sy hardwerkendheid oorgedra – lange ure se werk het ek op daardie tafelblad ingesit… Deesdae sit ek en speel op die krakende lessenaartjie van my tannie en soms sit my kleindogtertjie op my skoot en YouTube kyk. In die sagte hout het sy met ‘n balpunt gaatjies gedruk; dalk wonder iemand nog eendag wat daar gebeur het.

In my dogter se tweede huis – ‘n yslike “apartment” wat vir hulle as huisouers gereserveer is − staan ‘n pragtige nuwe eetkamertafel: donker hout met hoë pote, waarby vier swaar houtstoele pas. Daar kon ek met my “stars ‘n stripes”- fidget spinner sit en speel. Ag, ek verlang so na haar.

Haar naam is op die tafel van my hart geskryf.