Sleutelwoorde

,

https://scrapydo2.wordpress.com/2015/01/15/toeka-tokkel-4-vakansie/

Die see klink nou ver, dan naby, soos ek met die woudpaadjie stap. Hier en daar sien ek die blinkblou beweging, maar meestal is die reënwoud te dig. Dis hoë bome, eeue oud, en die blaretapyt is sag onder my voete. Met ‘n bloedrooi vereflerts swiep ‘n loerie van een tak na ‘n ander en sit dan stil, sodat ek hom kan bewonder terwyl hy met sy een helder ogie na my korrel.

Ek ken elke paadjie wat afdraai see toe – dié een gaan na Mooibaai, waar mens soos ‘n akkedis op die bedding klippe in die son kan lê en bak, voor jy oor die klein stukkie sagte sand na die koue water toe hardloop. As jy ‘n ent dieper swem, is daar ‘n ou platform met ‘n verroeste leertjie teen die hoë rotswand wat hierdie baaitjie van die volgende een skei, vanwaar mens in die diepgroen water kan induik. Hier onthou ek altyd die statige pylstertvis wat ek gesien het op die heel eerste aand toe ek verwonderd hier rondgedwaal het – ‘n leeftyd gelede.

Die volgende paadjie lei mens na ‘n grasbegroeide skiereilandjie, waar die see met reëlmatige dowwe slae van onder deur ‘n rotsskeur bars en soutsproei oor jou laat uitsak. Hier het ek ‘n foto van my liewe dogter en haar Amerikaner geneem, voordat sy haar vaderland ter wille van die liefde verlaat het.

Verby die strandlopergrot kies ek koers oor die hangbrug oor die riviermonding, waar daar onlangs so ‘n mooi foto van my Kaapse kleinkinders geneem is. Aan die ander kant kletter die klippers soos die see hulle heen en weer spoel in ‘n klein inhampie – die mooiste geluid, wat ek nog nêrens anders presies so gehoor het nie.

Hier kronkel die smal paadjie teen die krans op en ek sal maar liewers nie die hoogte aandurf soos in my jeug nie, nie eers ter wille van die uitsig oor die see daar van bo af nie. Stap dan maar terug, verby die restaurant en Sandbaai met sy vlot, doelgerig nou, om by die ‘Rots van die Vier Winde’ uit te kom. So het die man wat my aan hierdie plek bekend gestel het, die groot rots genoem wat hoog oor die see troon en wat mens nie met hoogwater kan bereik nie omdat dit dan heeltemal deur die golwe omspoel word.

Bo-op die reusagtige rotsknoets is daar ‘n formasie wat kompleet soos ‘n sitplek lyk, met rugleuning en al. Hier het ek en my broer – nou reeds drie jaar lank in ‘n nuwe land – een toweragtige aand gesit en kyk hoe die son sak en die volmaan opkom. Teen hierdie rots het ek en Middelkind opgeklim toe die res van die gesin nie kans gesien het nie. Hier het hy onderneem om sy ma se as te kom strooi.

Sovele kere het ek al op hierdie paadjies kom loop, soms tydens so ‘n lang moontlike verblyf, soms net op ‘n dagbesoek. Hierheen het ek saam met lang verlore geliefdes gekom en uiteindelik saam met my gesin. ‘n Vriend het op ‘n Tsitsikamma-poskaart geskryf dat hy nou kan verstaan “…hoekom jy altyd weer wil terug hiernatoe.”

Die vloek van vakansie is egter die vervlugtiging daarvan – en die verlange…

Advertisements