Iemand het vandag my motortjie kom insleep na ‘n werktuigkundige toe. Teen vanmiddag was die karretjie weer padvaardig en voel dit nie langer asof my vlerke geknip is nie. Toe ek die barmhartige Samaritaan vra wat die koste is, sê hy nee, ek skuld hom niks nie. Hy het soveel moeite gedoen! Spesiaal sy besige dag onderbreek, ‘n ver ent gery en eiehandig die motor op die sleepwaentjie kom laai. Ek is skoon oorstelp.

Ek lees lankal nie meer koerante nie, want al die slegte nuus maak my angsbevange. Vaagweg onthou ek dat ‘n poging om ‘n koerant met goeie nuus te publiseer, nie suksesvol was nie. Tog word ons omring deur deernis, wat ons nie altyd raaksien nie. Soos wat resepte ons aan mense herinner en plante iemand voor die oog roep, so laat klein goedjies my aan deernisvolle mense dink.

Wanneer ek ‘n sny brood smeer, dink ek altyd aan my skoonsussie, wat met soveel sorg ‘n broodjie smeer tot reg op die kante, anders is dit ‘afgeskeep’.

Ek onthou die heerlikste groentesop en roosterbrood, aangedra vir ‘n kind wat te siek was om saam te gaan na haar ouma se begrafnis toe. Oja, daar was ook die sop en varsgebakte skons, toegeknoop in ‘n spierwit vadoek, wat ons buurvrou oorgestuur het toe my mammie siek was.

‘n Rondloperkat laat my aan my vriendin M dink, wat haarself geen rus gun nie, maar onverskrokke verantwoordelikheid aanvaar om straatkatte te vang, te laat steriliseer, en terug te plaas in hulle habitat, waarna sy hulle tweemaal per week gaan voer.

Wie weet watter invloed ons alledaagse optrede op ons medemense het? ‘I shall pass this way but once…’

Advertisements