Hierdie vertelling is in reaksie op die volgende uitdaging:

http://scrapydo2.wordpress.com/2015/01/08/toeka-tokkel-3-geskenkespeelgoed/

Dis ook een van Blogging 101 se opdragte: Skryf ‘n inskrywing met jou droomleser in gedagte. Almal wat hier lees, is my droomlesers 🙂

My maatjie R het so vyf huise hoër op in die straat gewoon. Sy het polio gehad toe sy klein was en toe ons mekaar leer ken het, moes sy ‘n armstut dra wat haar linkerarmpie opgelig en vorentoe uitgestrek het. Dit moes baie ongemaklik gewees het, maar ons het nooit daaroor gepraat nie – kinders aanvaar mos die wêreld soos dit is, dis eers later dat ‘n mens begin wroeg oor hoekoms en waaroms. Wanneer sy sonder die stut kom speel het, het die uitgeteerde armpie slap gehang, maar dit het nie een van ons gehinder nie – ons was te besig om te spéééél!

In ‘n buitekamer het my mammie vir my ‘n speelkamer ingerig, met hout-appelkissies so op hulle kante gepak, wat die ruimte in twee verdeel het en terselfdertyd heerlike ooghoogte-rakke was vir klein plastiekmeubeltjies vir sitkamer, eetkamer, kombuis en slaapkamer. Ek het wel ook ‘n pophuis met vier kamertjies gehad wat my mammie uit ‘n groot kartonboks geprakseer het, maar vir die doel wat ek en R voor oë gehad het, moes die meubels appelkissies toe.

R het drie boeties gehad, met ‘n witrot en verskeie witmuise as troeteldiere. Ek sien daai rot nou nog voor my geestesoog: vet maar lewendig, met wit hare, bibberende snorre, rooi oë en ‘n pragtige pienk stert. Dit was vir ons net die grootste pret as R daarin kon slaag om haar boeties se rot uit sy hok uit te smokkel en na my huis toe te bring, want dan het ons speelkamer toe verkas. Daar sit ons die rot dan in die appelkissies en begin hy so ewe op en oor die meubeltjies klim – ure se pret het dit vir ons besorg.

gty_white_rat_jt_120219_wblog

Ons is na verskillende hoërskole toe, het mekaar heeltemal ontgroei en kontak verloor. Tog het ek laterjare gehoor dat sy getroud is en ‘n kindjie gehad het. Soos wat sy al die uitdagings in haar lewe te bowe gekom het, weet ek sy sou ook die versorging van haar baba met net een sterk arm kon behartig.

Advertisements