Sleutelwoorde
‘n Kollega het my dit begin noem: ‘Tannie Frannie’ (‘Frannie’ rym met ‘Tannie’). Ek het besef dis uit toegeneentheid – maar dit het my ‘n rukkie geneem om vrede daarmee te maak. Toe ek in 2011 op Litnet begin blog, het ek doelbewus hierdie skuilnaam gekies om myself van my weerstand teen ‘Tannie’ te bevry.
Daar op die Litnet-blogs het ek heerlik geskryf en gekuier, sielsgenote ontdek en ook bloggers wat heel anders as ek dink en my verwysingsraamwerk verbreed het. In 2014 het ek saam met baie ander bloggers uit die visdam van Litnet in die wye oseaan van WordPress ingespring, toe die frustrasie met die gebrek aan tegniese ondersteuning net te groot geword het. Ek’s bly ek het saam getrek – kyk nou net: ‘n kursus oor blog! Vir ‘n BBT (‘born before technology’) soos die uwe, is dit nou regtig welkom.
Dis my plekkie hierdie en daarom skryf ek in my moedertaal: Afrikaans. Engels maak vir mens deure oop – soos nou weer met WordPress se kursus, maar hier skryf en kuier ek in my hartstaal. Ek kon baie Litnetters nie weer gevolg kry nie en ek mis hulle – dalk help hierdie inskrywing?
Die Afrikaans wat ek gebruik, word deesdae op Facebook as ‘argaïes’ bestempel. Dit hinder my egter nie – want ek hanteer oudword deur volslae ontkenning 😀
In 2014 het ek oor ouma-wees gemymer. Deesdae hardloop ek agter ‘n peuter aan en blogtyd is maar skraps. Tog bly dit ‘n heerlike, verslawende bedrywigheid.
Klink my hier is heelwat van ons wat “argaïese”Afrikaans skryf…tydgenote!Ons het nog die taal ordentlik leer praat en skryf.Dit het niks met ouderdom te doen nie.Ek is bly ek kan jou nog hier lees.Mis ook die Litnet klomp,maar nou ja,niks bly dieselfde en mens moet aanpas by verandering.😊
Ooo en ek sokkel so met verandering… Ek is baie bly dat ek nog jou lieflike foto’s kan geniet!
As jy enige blog op litnet wil volg, kan jy hier inteken:
http://43software.com/blogs/
Dit kos niks, laat weet as jy hulp nodig het.
Ek dink ons, as ek my nou ook by die groep mag skaar, praat en skryf soos ons in ons huise geleer praat het – soms in te volledige sinne en te veel inligting , volgens wat ek al moes aanhoor, nietemin dit bly ‘n fees.
Janee, Dirkie – dit lyk my daardie taalbewustheid geld nie meer in die wêreldwye gemeenskap nie. Tog verras jongmense my partykeer!
Soos ek dit sien, iemand moet die balans hou, wel tenminste tot ons mooie taal weer herontdek word deur die selfie/kodeskryf jongelinge. En ek glo dit gaan gebeur. Wat my moed gee is dat die meeste boeke wat gedruk en verkoop word in SA is AFRIKAANS!
Wil graag nog JC Steyn se boek in die hande kry: ‘Tuiste in eie taal’ – die titel vat dit so goed saam!
Toe ek my blog begin het was ek onseker of ek in Duits of Afrikaans moet skryf, maar Afrikaans het maklik gewen. Dis een van die min plekke waar ek nog Afrikaans kan skryf, en ook regte Afrikaans, met uitgeskryfde woorde en so min as moontlik anglisisme. Dis so mooi as mens ‘n taal suiwer praat, watse taal dit ook al is. So, ek geniet jou “argaïese” Afrikaans. Doe so voort!
Dankie vir die lekker bemoediging! Ek maak so.
Hoera vir Afrikaans! Jy kan gerus ook deelneem aan my Toeka-Tokkel. Dit sal te heerlik wees om elke week n spesiale stuk van die verlede of/en hede te kan lees en onderevind!
Gaan beslis probeer deelneem. Het reeds Toortsie se Toeka-Tokkel geweldig geniet.
Lekker man, sien uit daarna! Elke persoon het iets op sy eie manier ondervind of beleef. As dit nie gedeel word gaan dit verlore.
Tannie Frannie 🙂 en daar glimlag ek weer.
Ek hou daarvan “ek hanteer oudword deur volslae ontkenning.”
Ek gebruik nog baie spreekwoorde wanneer ek praat, en lief dit wanneer my kleinkinders my aangaap asof ek die kluts kwyt geraak het.
Hallo Kameel – en aangename kennis!
Tannie Carol hou baie van tannie Frannie se skryfstyl- argaies of te not! Dis hoe ons mos geleer is!
Heheh – en Tannie Frannie is mal oor die skapies…Sterkte vir Maandag en veral vir Woensdag!
Baie dankie! XXXXXX
Ek mis niks van jou skrywes nie Tannie/ouma of te not.
Baie van die bloggers het ophou skryf Ek mis hulle ook
Ek is so bly oor die bloggers wat nog deel van my lewe is. Maar ek wonder oor Maryna en Klarisabet en Modderkoekie en ‘Die borrels in my brein’…
Ek dink hulle het besluit dis nie al die moeitewerd nie. Ek mis ook Lora2me ook ag en baie ander ook
Ek het op Letterdash Blogs24.com begin en voel ook nou tuis op WordPress.com, ek het ander probeer maar WP bly maar die beste opsie.
Dis goed om te hoor! Harde werk om reg te skik en in te burger – soos enige trek, maar…
Ek moet beken ek gebruik doelbewus Anglisismes omdat ek glo taal groei en word gestimuleer deur kruisbestuiwing uit ander tale,maar ek kies hulle sorgvuldig en gebruik dit net as ek dink die Anglisime het meer gevoelswaarde in die konteks as die Afrikaanse woord of uitdrukking. Ek hou ook daarvan om,met woorde te speel en probeer onewone woorde in ‘n nuwe gedaante pas. Ek het egter groot waardering vir die bloggers wat woordvaardig argaiese Afrikaans gebruik en geniet hul skryfsels.
Aaag – eks ook bly om deel van julle te wees, alhoewel ek nie lank op Litnet was nie. Ook dankie aan die wat my gehelp het om oor te kom. Julle is ‘n bakgat klomp.