2nd & Charles – Die wonderlikste boekwinkel in Harrisburg, Pennsylvania

Toe ek afgeskaal het om in my kamer onder Laatlam se dak in te pas, het ek winkelsakke vol boeke by tweedehandse boekwinkels gaan aflaai. Ten spyte van daardie opoffering, sit ek steeds met twee vol boekrakke en noudat die gemeentebasaar nader kom, is dit die ideale geleentheid om verder uit te dun. Maar ek sukkel …

Ek wéét daar is mense wat op basaardag gaan snuffel en van “my” boeke sal opraap. Hier is bv. JC Steyn se biografie van NP Van Wyk Louw, die twee lywige volumes mooi verpak in ‘n kartonomhulsel, amper nuut – net ek het dit nog gelees. Toegegee, ek gaan maar hardhandig met ‘n boek om – nie soos my liewe dogter nie, wat ‘n boek sagkens behandel, sodat mens skaars sou kon dink dis al gelees. Dis juis sy wat hierdie kosbare biografie vir my gegee het, hoe kan ek dit dan nou ooit wegmaak? Nog een van die mooi hardebande wat ek van haar present gekry het, is Pieternella van die Kaap deur Dalene Matthee, wat lank weg was uit my lewe en weer opgeduik het toe ‘n vriendin wat dit geleen het, dit aan my teruggee. (Skuldig voel ek nou, want hier is ten minste drie geleende boeke wat ek nooit aan hulle eienaars terugbesorg het nie …)

Sal ek nou maar tog uiteindelik ontslae raak van die ou sagtebandboekies vol Engelse poësie uit my studentedae, wat ek ten spyte van vrome voornemens nooit ooit weer oopgemaak het nie? En wat van Shakespeare se individuele dramas, sulke eenderse boekies met eenvormige omslae? Hier is nog van my dogter se boeke, ten spyte van die swaar tasse wat ek soms vir haar na die VSA toe aangesleep het, maar hulle kan ek maar wegmaak, want sy het self erken dat sy soortgelykes agtergelaat het toe hulle ‘n rukkie terug na ‘n ander staat verhuis het. Die paar Nora Robertse kan ek dalk onder in ‘n boks wegsteek, sodat niemand by die kerk sal weet dis ek wat hulle daar aangebring het nie. Hmm, wonder of iemand daar hulle sou wou aanskaf … Hier is een of twee outobiografieë van Afrikaanse persoonlikhede wat dalk byval sou vind, maar hoe sal ek ooit my enkele boeke oor die Afrikaanse toneel kan laat gaan? En wat van die Nederlandse voorgeskrewe werk wat ek nog altyd weer wou lees?

Iemand sou dalk die eerste sangbundel van die F.A.K. waardeer; moeilikheid is net dat my mammie voorin geskryf het: “Aan V met baie liefde Van ouma 1987”. Ek blaai daardeur en ontdek ‘n musiekrapport van Middelkind, uit die dae toe hy tuba gespeel het in die kadetorkes en toe by Pro Arte gaan les neem het. 80% en sy meneer skryf: “Pragtig gespeel dankie”. Ek onthou ‘n heerlike artikeltjie wat ‘n bibliotekaris geskryf het oor die wye verskeidenheid boekmerke wat mense agterlaat in die biblioteekboeke wat hulle kom omruil – hierdie rapport sou ‘n waardige plek in daardie versameling kon beklee.

As ouma het ek liederlik gefaal in my roeping om die twee kleinkindertjies wie se onderdak ek deel, lief te maak vir lees. Hulle sit graag voor skerms, waar histeriese prototipes van die luide Amerikaner te kere gaan – hoe sou ouma met haar gekraakte stem en ‘n ou boek in die hand nou daarteen kon meeding? Maar die hoop beskaam nooit – juis hierdie wintervakansie beplan ek ‘n biblioteekbesoek. Dit lyk asof Gabby boekwurmneigings toon, sy is opgewonde oor die skoolbiblioteek en het nou-die-dag Diary of a Wimpy Kid by ‘n maatjie geruil en met net twee sittings deurgelees (twee, want die aand het laat geword). Joshua is ook vatbaar vir betowering, dus sal ek kyk wat ek kan regkry.

My ouers was lief vir boeke – toe hulle boeke en meubels geberg was terwyl hulle huis laat bou het en die hele stoor afgebrand het, het my mammie ‘n paar van hulle boeke uit die puin gaan opgrawe. Alhoewel my pa nooit weer eintlik boeke vir homself gekoop het nie, was ‘n boek altyd ‘n gewilde geskenk aan my en my boetie. Voorin is die opdrag geskryf: “Aan … op jou verjaarsdag”; of “Aan … met liefde van …” en die jaartal. Ek het van daardie blaaie uitgeknip voor ek boeke weggemaak het en dit was pynlik. Een boek wat ek nie gaan wegmaak nie, is DJ Opperman se Groot Verseboek van 1973, met die opdrag voorin: “’n Klein geskenk vir ‘n wonderlike sus. Luv T.” My boetie en sy gesin woon nou al lange jare in Nieu-Seeland – ai, hoe mis ek hom! Bo-aan dieselfde bladsy het my dogter haar volle naam in kinderlike potloodskrif geskryf toe sy die bundel oorgeneem het vir haar hoërskoolloopbaan. Daarna was die boek maar weer myne.

My Kindle is wonderlik, ‘n teenvoeter vir die ellendige beurtkrag wat nou weer aand vir aand ons lewens versuur en ons slaappatrone om-ellie, maar daar is niks soos die belofte van ‘n nuwe, stewige hardebandboek of ‘n voos gelese biblioteekboek nie.